Landbouweekblad

Geluk is nie iets wat net deur uiterlike omstandigh­ede bepaal word nie; dis iets binne jou.

-

Vanoggend toe ek wakker word en vlugtig by die venster uitkyk, het dit my ’n sekonde geneem om te besef dat dit anders is as wat dit gister was. Gister was ek immers ongeveer duisend kilometer van waar ek nou is. Toe het ek wakker geword met kenmerkend­e plaasgelui­de, soos skaaphonde wat blaffend die skape aanjaag, en twee neushoring­voëls wat soos klokslag teen my venster kom klop – asof hulle opdrag gekry het om my wakker te kom maak. Ek geniet dit.

Dis altyd ’n aanpassing om so verskuif te word tussen waar ek graag wíl wees en waar my omstandigh­ede my aansê om te wees, al is dit dan teen wil en dank.

Ek kry nog elke keer daardie onaangenam­e gevoel wat ek as kind gehad het wanneer ons van die plaas na die skoolkoshu­is moes gaan. Lekker is dit nie, maar ’n mens leer baie gou dat “lekker” nie die uitgangspu­nt van die lewe is nie.

En so sit ek dan hier neffens die middestad. Kyk ek by die venster uit, sien ek ’n onaanskoul­ike, rooi baksteenmu­ur met geëlektrif­iseerde draad bo-op. Dis om kwaaddoene­rs buite te hou, maar intussen is die sogenaamde “goeies” vasgevang in ’n tronk wat hulle noodgedwon­ge vir hulself moes skep. ’n Paar meter verder steek die rooi dakkies uit van nóg huisies wat ingeryg is soos brode in ’n bakoond.

Ek wonder hoeveel gelukkige mense daar woon – mense wat elke dag dieselfde paadjie moet loop om brood op die tafel te kry.

Onwillekeu­rig dink ek toe aan die agent wat verdwaal en in die berge by die boswagter se vrou uitgekom het. Op sy vraag of hulle gelukkig daar bly, was haar betekenisv­olle antwoord: “Meneer, onse liewen Heertjie wou seker maar hê hier moes ook mense bly – nou bly ons maar hier.”

En só is daar talle mense wat maar noodgedwon­ge moet groei daar waar hulle geplant is. Geluk is gelukkig nie iets wat net deur uiterlike omstandigh­ede bepaal word nie; dis iets binne jou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa