’n Mens kan toor met statistieke
MANIE het al geleer jy kan bewys met statistieke net wat jy wil – solank jy dit reg plooi. Dit lyk mos hoeka of Kgomotso Phahlane, waarnemende kommissaris van polisie, dié truuk gebruik het om te wys dat plaasmoorde daal.
Hoewel die amptelike misdaadstatistieke aandui dat minder moorde verlede jaar in die eerste drie kwartale op kleinhoewes en plase as in die ooreenstemmende tyd die vorige boekjaar plaasgevind het, is dié syfer net gegrond op nege maande se geweldsmisdade – nie ’n volle jaar s’n nie. In werklikheid was daar vanjaar, volgens die TLU SA, reeds 26 moorde op plase. Dit verander die jaarsyfers totaal. Moenie sê die kommissaris besef dit nie.
Hy erken die landelike veiligheidstrategie werk nie, maar sê die SA Polisiediens werk saam met die betrokke gemeenskappe om ’n duik in daardie opsig te maak. ’n “Duik” is ongelukkig nie meer genoeg nie. Daadwerklike optrede is nodig.
’n Goeie begin is statistieke oor plaasaanvalle en -moorde wat nie bekook word nie. Dit moet met die georganiseerde landbou se syfers vergelyk word om ’n onbetwisbare prentjie van die werklike stand van sake te kry.
GEE EKONOMIE ’N HUPSTOOT
Manie het onlangs verwys na Lionel October, DG van Handel en Nywerheid, wat uit die bloute met die erkenning gekom het dat Suid-Afrika “dom en naïef” was toe hy sy steun aan sektore, soos die landbou, in die 1990’s onttrek het weens internasionale sakeriglyne.
Dit was in kommentaar op ’n verslag van die Wêreldbank wat Suid-Afrika aanraai om aansporings op arbeidsintensiewe bedrywe te rig om werk te skep. October het gesê die Regering wil sy steun aan die landbou, vervaardiging en toerisme verhoog.
In aansluiting daarby het die Konfederasie van Werkgewers van Suider-Afrika (Cofesa) ook gesê die aansporings wat destyds gestaak is, gaan nou hervat word om die ekonomie te laat groei.
Hein van der Walt, direkteur van Cofesa, sê ná agt jaar van werkverliese verwag hulle nou uiteindelik dat werk geskep sal kan word. Hy sê Cofesa pleit al jare lank dat heffings en verpligte bydraes van bedingingsrade vervang word met subsidies en aansporings. Betalings aan bedingingsrade beloop sowat 18% op ’n fabriek se loonrekening wat Suid-Afrika onmededingend maak teen gesubsidieerde produkte van ander lande.
Net in die motorbedryf is met aansporings volgehou. In die motorbedryf beloop die aansporings nou R31 miljard wat uitvoer van R151,5 miljard oplewer en 330 000 werkgeleenthede geskep het. Die landbou het met min aansporings bykans soveel ingebring as die motorbedryf. Die landbou se uitvoer beloop R81,3 miljard en skep 700 000 werkgeleenthede – meer as dubbel dié van die motorbedryf. Dít boonop ondanks droogtes en produksiekoste per hektaar wat R8 453 in Suid-Afrika beloop. In Argentinië is dit R3 925/ha en R6 349/ha in Amerika, luidens die Economic Research Service of America (June 2016).
Selfs geringe aansporings sal aansienlike groei in Suid-Afrika skep.