ERKEN RASSISME BY PLAASAANVALLE
Die afgelope paar weke is Suid-Afrika geteister deur plaasaanvalle en -moorde wat steeds toeneem, asook die wreedheid wat daarmee gepaardgaan. Dié wrede dade word wyd en syd veroordeel, dog die meeste kommentators skram weg van die feit dat plaasaanvalle met rassisme gepaardgaan. Die Instituut vir Sekerheid studies, koerantredakteurs, politieke ontleders en die Regering is bekommerd oor die toename, maar ontken steeds dat hierdie verfoeilike dade ’n rassemotief het.
Die polisie voer aan dat plaasaanvalle bloot met die oog op roof gepleeg word en politici meen plaaswerkers is eweneens die teiken van plaasaanvallers. Dit is eenvoudig nie waar nie. Plaaswerkers beland soms in die kruisvuur en word die slagoffer ten einde by die plaaseienaar en sy gesin uit te kom. Die aantal plaaswerkers wat die afgelope 20 jaar onder plaasaanvallers deurgeloop het, maak egter nie 1% van die slagoffers (oorledenes en beseerdes) uit nie. Natuurlik het ek simpatie met onskuldige plaaswerkers en hul gesinne.
In Suid-Afrika eien mense hulle die reg toe om die president van Amerika, asook ’n boer wat dit sou waag om ’n plaaswerker agter op sy bakkie te vervoer, as ’n rassis uit te kryt, dog plaasaanvallers word bloot misdadigers genoem.
Kom ons kyk na slegs ’n paar voorbeelde wat my mening staaf: Alle gesinslede op die plaas word soms tereg gestel, selfs weerlose ou mense en kinders wat geen vinger kan verroer om die misdaad af te weer nie. Slagoffers word ure lank met strykysters en kookwater gemartel, waarna die aanvallers met ’n waardelose buit vlug. Die eerste prys is om die boer se vrou, ma of dogter te verkrag. Daar is nie genoeg ruimte om nog voorbeelde te noem nie.
Selfs wanneer die howe die swaarste moontlike straf oplê, word geen woord gerep dat die misdaad ’n rassistiese ondertoon het nie.
Hoe kan hierdie donker prentjie gepak en omgekeer word? Nie maklik nie. Sedert 1994 het kommissaris Jackie Selebi en sy destydse regterhand in die polisie, genl. André Pruis, dit bewerkstellig dat die kommandostelsel op die platteland tot niet gaan en met reserviste vervang word. Die stelsel van reserviste op plase het nooit op die been gekom nie, hoofsaaklik weens rompslomp. Daar is van die boere en hul werkers wat reserviste sou wees, verwag om saans al die pad na die polisiekantoor op die dorp te ry om vir diens aan te meld. Hulle moes dan na die plase terugkeer om te patrolleer, waarna hulle weer polisiekantoor toe moes gaan om van diens te meld.
Genadiglik is die oplossingsyfer van plaasaanvalle steeds goed, maar ek weet nie vir hoe lank nie.
Toe lt.genl. Kgomotso Phahlane as waarnemende polisie-
kommissaris op die toneel verskyn het, het hy pragtige planne gehad, veral wat betref die prioritisering van plaasaanvalle. Helaas, hy worstel nou só om oorlewing te midde van beskuldigings van korrupsie dat hy weinig aandag aan dié ernstige probleem op plase kan gee. Dit is beslis nie wat die polisiemanne en -vroue op grondvlak nodig het nie.
Ek is van nature ’n optimistiese mens, maar ek is bevrees dat dié gruweldade op plase steeds gaan toeneem. Boere sal moet besef dat hulle ingevolge die Strafproseswet, die gemenereg en die Grondwet die volste reg het om hul lewe en eiendom te beskerm, selfs wanneer dit die dood van die aanvaller(s) sou meebring. Dit is egter ’n onderwerp vir ’n ander dag. IZAK SMALMAN Potchefstroom