Landbouweekblad

ONDERSTEUN BOERE

-

Elke mens het die reg om ’n in- komste te verdien, maar as dit by die boer kom, verwag mense sy produkte moet gratis weggegee word. Boere het seker nie uitgawes nie.

Ons verneem gereeld in die koerante en in ander media dat ons die boere moet ondersteun en vleis en groente regstreeks van hulle moet koop. Die probleem is, almal moet koop, maar as dit by die prys kom, is die boer “te duur”.

Ek verkoop eiers teen R25 vir 18 en R33 vir 30. Dit is “te duur”.

Volgens die verbruiker kos dit niks om hoenders groot te maak nie. Voer word seker verniet van die koöperasie­s verkry. So ook die medisyne.

Elke mens wat werk, kry ’n salaris. Wat kry die boer? ’n Inkomste. Is daar dan ’n verskil tussen inkomste en salaris?

Waarvan moet ek lewe? Hoe moet ek my kind se skoolgeld betaal?

Dit lyk eerder of die verbruiker dink dat boere alles gratis kry. Daarom moet hulle ook hul produk gratis weggee.

Wel, ek kan jou waarborg voer kos R300-R350 per sak van 50 kg, en dit is dikwels nie beskikbaar nie.

Die medisyne kos R300 tot R3 000 – ek weet, want ek het pas vir iemand 1 000 kuikens grootgemaa­k en die medisyne moes gereeld volgens voorskrift­e gegee word sodat hulle gesond kon wees teen die einde van die 14 weke.

’n Bottel medisyne is die helfte so groot as my pinkie en die vervoerkos­te daarvan was R300. Dit sluit nie eens die prys van die medisyne self in nie.

Die hoenders het 120 sakke voer opgevreet.

Ek verkoop hoenders teen R95. Die beste van alles is, daardie hoender lê vir ’n hele jaar lank en nóg langer eiers nadat hulle verveer het.

As die gemeenskap so begaan is oor die boere, waarom ondersteun hulle ons nie? SARIE VAN DER MERWE Brief per e-pos ontvang.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa