Is dit ’n kat in die duiwehok?
NET ná die lekker reën almal se gemoedere so lekker opgebeur het (maar ongelukkig nie oral nie), is Manie sommer skoon vies vir Suid-Afrika se eenoogige politici wat weer die partytjie moet staan en versuur met hul sinnelose kwaadstokery oor grond vat sonder vergoeding. Almal weet dat as dít gebeur, is ons hele ekonomie oornag in sy peetjie in – daar gaan nie eens tyd wees om jou tasse vir Perth te pak nie!
Maar steeds prewel pres. Jacob Zuma en min. Gugile Nkwinti hoe hulle ten gunste van grondonteiening sonder vergoeding is. Ook adj.pres. Cyril Ramaphosa, wat self groot bedrae in die landbou belê het, gee onder druk van die EFF in die Parlement toe dat dit een van die opsies kan wees. Hy voeg toe darem by dat ons miskien eers moet kyk na wat klaar op die tafel is.
Maar nie Nkwinti en Zuma nie. Hulle glo wragtag dat dit moontlik is om grond sonder vergoeding te vat sonder om aan die Grondwet te torring. Nou ja. Manie wil net vir hulle sê: Voorspoed met daai een, kêrels.
Die grondwetkenner prof. Marinus Wiechers reken Zuma en sy trawante se slenter om die Grondwet te omseil, gaan dalk wees om soortgelyke wetgewing in te stel as wat met mineraleregte gebeur het. Die staat het die trusthouer van die minerale geword en eienaars moes lisensies kry om dit te ontgin. Maar wat Manie (en talle regskenners) nie lekker kan verstaan nie, is hoe op dees aarde die mineraleregte-uitspraak van toepassing op grond kan wees – al is Zuma-hulle hóé ernstig oor die saak. En laat ons ook nie vergeet dat daar in die mineraleregte-uitspraak glad nie eenparigheid onder die Grondwethof se regters was nie.
Dit lyk vir Manie asof al die praatjies meer met die opsweep van emosies voor die verkiesing te doen het as met ware beleid. As jy na die besprekingsdokument vir die party se nasionale beleidskonferensie (wat einde Junie begin) kyk, word daar nie ’n woord gerep oor onteiening sonder vergoeding nie!
Ook opmerklik is dat een van Zuma se grootste bondgenote, die ANC tesourier-generaal Zweli Mkhize, dit onlangs baie duidelik gestel het dat baie binne die Grondwet gedoen kan word om grondhervorming te versnel. Mkhize het aan die dagblad Business Day gesê om grond net goedsmoeds sonder vergoeding te nasionaliseer, kan dalk die proses nie help nie. Nou ja, dít is seker die onderbeklemtoning van die jaar!
KORINGBEDRYF SE VERKNORSING
As daar nou een boodskap is wat keer op keer op Graan SA se kongres herhaal is, dan is dit die verknorsing waarin die koringbedryf hom bevind. “Die koringbedryf is in die grootste gemors denkbaar!” het Andries Theron, uittredende adjunkvoorsitter van Graan SA, dit onomwonde op ’n koringwerkgroepvergadering gestel.
Die onbeperkte invoer van koring en die invoertarief word as die grootste probleme beskou. Hennie Visser, koringboer van Piketberg wat onlangs in ’n roerende brief aan Landbouweekblad die koringbedryf in Suid-Afrika vaarwel begin toeroep het, het boere laat regop sit met van sy syfers.
Dit is duidelik dat die speelveld nie gelyk is vir
Suid-Afrikaanse boere nie. Hoe kan daar van boere verwag word om mee te ding met koring uit Rusland wat tot 19% gesubsidieer word? Dít terwyl hulp aan Suid-Afrikaanse boere net ’n rapsie meer as 4% beloop. Sowat 50% van die ingevoerde koring kom uit Rusland.
Hennie sê die ingevoerde Russiese koring het gemiddeld 4,09% sifsels in, terwyl plaaslike boere gepenaliseer word as hul koring meer as 2% sifsels het. ’n Brood van die Russiese koring is 20% kleiner as ’n brood wat met Suid-Afrikaanse koring gebak word, maar die prys van die Russiese B2-koring is dieselfde as die prys van plaaslike B1-graad.
As’nmenskyknadieboerse aandeel in die verbruikersrand vir ’n brood, is dit ’n skamele 20c.
Die res word verdeel in 2,5c vir opberging, 2,5c vir vervoer, 7,5c vir die meulenaar, ’n allemintige 47,5c vir die bakker, 10c belasting en 10c vir die kleinhandelaar. Daar word dikwels aangevoer dat die tarief op ingevoerde koring die rede is dat die broodprys styg, maar kan dit waar wees as die koring net 18% van die brood se prys uitmaak?
Ook as ’n mens die koringboer se 20c uit ’n rand vergelyk met ander bedrywe, is dit die laagste. Mielieboere kry 80c/R, hoenderboere 54c/R, beesboere 47c/R, skaapboere, 49 c/R en selfs melkboere kry 35c/R.
Manie wonder of die probleem nie veel eerder lê by die oormag van vier groot meulenaars wat 87% van die bedryf beheer nie.
DIFFERENSIAAL MAAK GEEN SIN
Dan is daar natuurlik die ander monster waaroor Hennie en Alwyn Dippenaar al oor baie jare veral baklei – die liggingsdifferensiaal. Hennie sê boere moet R550/ton vir vervoerkoste Randfontein toe betaal, terwyl 550 000 ton van die Kaap se 1 miljoen ton koring plaaslik daar verbruik word.
Die werklike koste vir die vervoer van dié koring na die meulens is R150/ton. Dit beteken Wes-Kaapse boere subsidieer kopers se vervoer met R400/ton wat neerkom op R220 miljoen per jaar. Wat verder wys hoe belaglik die R550/ton is, is die feit dat dit net R482/ton kos om koring al die pad van Rusland af tot by ’n meule in die Paarl te vervoer.
Graan SA wys met die heersende tariefvlak is die gelykspeelpunt vir koringproduksie in die Wes-Kaap 2,3 ton/ha. Met ’n laer tarief sal dit 3 ton/ ha raak en met 200 mm reën per jaar sal dit vir min boere moontlik wees om dit te haal.
DIE NUWE ‘GROEN REVOLUSIE’
Noem dit die YouTube-revolusie met ’n skeut Google en ander sosiale media daarby. Manie se kollega laat weet uit die mieliehartland in die vrugbare noordweste hoe opmerklik dit op die afgelope bewaringslandbou-konferensie van Ottosdal se geenbewerking-klub was: Die internet is die moderne boer se nuwe universiteit.
Daardie R1 500 per maand vir inligting in die plaashuis is niks minder as klasgeld nie – en waarde vir geld daarby. ’n Belegging in my kinders en kleinkinders se toekoms, vertel die een boer.
Hy en sy seun wat saam met hom boer, is ewe geesdriftig agter al die wonderlike kykstof aan. Name van hedendaagse profete, soos Christine Jones, Gabe Brown en Ray Archuleta, duik voortdurend op. Manie hoor Graan SA beoog reeds ’n reeks bewaringslandbouvideo’s, waarvan die eerste op die Ottosdal-konferensie en die kongres op Bothaville te sien was. Moenie Landbou.com agterweë laat nie! #FeesMustFall staan nie ’n kans nie.
HOENDERVANVER
Manie was een van nagenoeg 16 000 mense wat Michael Basson se foto op Facebook gesien het van hoender uit Amerika wat in die winkelgroep Food Lover’s Market te koop aangebied word.
Manie kan maar net saamstem met Liesl Hugo wat meen sy sal nooit Amerikaanse hoender hier koop nie. “Hulle het hopeloos te ver gevlieg – en goeie spiere beteken taai vleis.”