DIÉ BLOEDBAD MOET STOP!
DIE wrede manier waarop plaasen kleinhoewebewoners aangerand en vermoor word, en die hoë voorkoms van sulke wrede aanvalle op plase dui daarop dat dit nie gewone misdaad is nie.
Dit was die standpunt van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, in ’n geskiedkundige parlementêre debat oor plaasmoorde verlede week – enkele dae ná ’n 63-jarige vrou op ’n hoewe by Muldersdrif met ’n boor aangerand en die gesiene landbouekonoom dr. Frikkie Liebenberg in ’n plaasaanval doodgeskiet is. (Berig op bladsy 15.)
Die VF Plus het die debat aangevra ná ’n volgehoue vlaag plaasaanvalle en -moorde sedert die begin van die jaar. Die versoek is aanvanklik van die hand gewys, maar later toegestaan.
Hy het bygevoeg die persepsie dat net wit mense op plase vermoor word, is onwaar. “Navorsing wys dat sowat 40% van alle slagoffers van plaasaanvalle swart is.”
Hy het gesê die wêreld se gemiddelde moordsyfer is 7 per 100 000 mense en Suid-Afrika s’n 33 per 100 000. Onder SuidAfrikaanse polisielede is die syfer 54 en onder boere 133.
“Dit beteken dat dit byna drie keer gevaarliker is om te boer in Suid-Afrika as om ’n polisieman of -vrou te wees. Die landbousektor dra ook 6,9% van die land se BBP by, en verskaf werk aan sowat ’n miljoen mense,” het hy gesê. Hy het ook die veralgemening verwerp dat plaaswerkers dié aanvalle pleeg omdat hulle sleg behandel word. “Die polisie se navorsing wys dat minder as 2% van die aanvallers en slagoffers aan mekaar bekend was. Ook dat sowat 2% van die aanvalle polities gemotiveerd was,” het Groenewald gesê. Volgens statistieke wat hy van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gekry het, was daar sedert 1991 altesame 2 393 moorde en 14 589 aanvalle op plase. Hy het gesê nadat oudpresident Thabo Mbeki die kommandostelsel ontbind het, was sektorpolisiëring veronderstel om daardie rol te vervul. Dit is egter nie doeltreffend genoeg nie. Talle plattelandse polisiekantore het nog nie eens daarmee begin nie.
–