TOELAE-KRISIS SAL OOK BOERE KNOU
DIE kwessie of meer as 17 miljoen Suid-Afrikaners hul maatskaplike toelaes ná 1 April gaan ontvang, kan ’n ernstige impak op landelike gemeenskappe hê, waarsku Agri SA.
Die krisis het ontstaan omdat die kontrak tussen die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) en Cash Paymaster Services (CPS), die genoteerde diensverskaffer wat betaling van die toelaes behartig, op 31 Maart verstryk. Teen druktyd moes ’n nuwe kontrak nog gefinaliseer word.
Volgens mnr. Hamlet Hlomendlini, senior ekonoom by Agri SA, word plattelandse omgewings en markte oorheers
deur arm huishoudings wat oorleef met die hulp van bestaansboerdery, maatskaplike toelaes en geld wat familielede van stede af stuur.
“Vir baie families in landelike omgewings is maatskaplike toelaes hul enigste bron van inkomste. Dit is ’n buffer teen armoede en wanvoeding,” sê hy.
GEHEEL EN DETAIL
“Uit ’n landbouperspektief verteenwoordig maatskaplike toelaes ’n vinnig groeiende neiging van markte vir kleinboere,” sê Hlomendlini. “Sommige boere rig tydens die dae wat maatskaplike toelae betaal word, stalletjies op waar ’n verskeidenheid produkte en selfs lewende hoenders verkoop word. Ander ry met bakkies rond en verkoop vars vrugte en groente.
“Diegene wat meer produkte van ’n beter gehalte kan lewer, gaan kontraktuele ooreenkomste met kleinhandelaars aan wat hulle toelaat om vars produkte op ’n daaglikse of weeklikse basis te lewer.
“’n Vertraging van die betaling van maatskaplike toelaes sal ’n kwaai knou vir die landelike ekonomie wees,” sê hy.
Me. Hettienne von Abo-Moolman, voorsitter van die Mieliehoofstadsakekamer op Bothaville, sê as toelaes nie betaal word nie, kan reeds verarmde landbougemeenskappe onstabiliteit begin ervaar, wat druk op die breër gemeenskap kan verhoog. –
‘Uit ’n landbouperspektief verteenwoordig maatskaplike toelaes ’n vinnig groeiende neiging van markte vir kleinboere.’