‘HOKVRYE EIERS’ SAL MEER KOS
AS verbruikers “hokvrye eiers” wil eet, sal hulle ’n premie daarvoor moet betaal, soos wat vir eiers van vrylopende henne betaal word.
“As hulle (McDonald’s) bereid is om te betaal, sal daar nie ’n tekort aan produsente wees nie,” sê dr. Charlotte Nkuna, senior uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV),
Landbouweekblad het verlede week berig McDonald’s het in November verlede jaar ná ’n verbruikersveldtog onderneem dat hy in volgende tien jaar sy gebruik van eiers wat van batteryhokke kom, gaan uitfaseer. Nkuna sê die SAPV het nog nie bereken wat so ’n omskakeling ’n boer kan kos nie.
“Dit sal moontlik wees om dele van die huidige infrastruktuur vir vrylopende of hokvrye produksie om te skakel. Die kwessie gaan wees dat ’n mens nuwe neskaste gaan nodig hê. Voorts gaan ’n boer meer ruimte nodig hê om dieselfde hoeveelheid hoenders aan te hou.”
Waar hokke gewoonlik vervoerbande vir eiers het, vereis hokvrye of vrylopende produksie meer arbeid om eiers te versamel en die neskaste skoon te maak, sê Nkuna.
Hokvrye produksie hou voorts groter risiko in. “Daar is meer kontak tussen die voëls en omdat die henne op die vloer is, verhoog dit die kans dat hulle siektes, soos salmonella en koksidiose, kan opdoen. Wurms word ook ’n probleem,” sê sy.
Oor die tienjaartydperk wat McDonald’s stel, sê sy dit duur gewoonlik 25 jaar om ’n infrastruktuurbelegging te verhaal. “Vir mense wat pas in infrastruktuur belê het, kan tien jaar te kort wees. Dit hang egter ook af van die premie wat McDonald’s bereid sal wees om te betaal.”
—