Bt alleen nie die antwoord
BOERE kan nie net op die Bt-geen staatmaak om die herfskommandowurm in bedwang te hou nie. Dié spesie is daarvoor bekend dat dit baie vinnig weerstand ontwikkel, teen die Btgeen en teen chemiese bestrydingsmiddels, het prof. Johnnie van den Berg, insekkundige van die Noordwes-Universiteit, op Graan SA se kongres gewaarsku.
Hy sê daar was wel vanjaar heelwat skade by Bt-mielies deur wurms wat vanaf aangrensende nie-Bt-toevlugsoorde oorbeweeg het.
Boere wie se aanplantings vanjaar deur dié nuwe indringer aangeval is, het op die kongres gesê hulle is heeltemal onkant betrap. Op die Springbokvlakte is tussen 80% en 90% van die sorghum besmet.
VESTIGING
Van den Berg het gesê hulle probeer nou met die hulp van motvlugpatrone en modellerings vasstel of en waar die herfskommandowurm hom in Suider-Afrika gaan vestig. Moontlikhede is Zimbabwe, Zambië en die Laeveld in Suid-Afrika waar temperature deur die jaar warm genoeg is vir die insekte om te oorleef. Van daar kan dit die res van die streek dalk voortaan sporadies weer binneval.
Veral daardie gebied se suikermieliebedryf is dan in gevaar.
In teenstelling met die Afrika-bolwurm is die herfskommandowurm nie dormant in die winter nie.
Wetenskaplikes moet ook nou vasstel watter bio-tipe van die spesie in Suid-Afrika voorkom. Elders is daar twee – ’n rys-tipe en ’n mielie-tipe. Die mielie-tipe val ook sorghum en katoen aan, en die rys-tipe grasse. Die verskillende tipes toon verskillende vlakke van Bt-weerstand.
Van den Berg sê die deurlopende nagaan van gewasse vir die vroeë opsporing van eiers bly die belangrikste bekampingsmaatreël. Die bestryding van grasonkruid is ook uiters belangrik. Alle gewasse moet nagegaan word, asook grasserige gebiede binne en rondom saailande.
Chemiese bestrydingsmiddels is net doeltreffend teen die wurms as hulle kleiner as ’n 10c-muntstuk is.
BEHOU TOEVLUGSOORDE
Van den Berg het bygevoeg dit is uiters belangrik dat boere aanhou om Bt-toevlugsoorde te plant. Navorsers ondersoek ook moontlike biologiese bestrydingsmaatreëls deur entomopatogeniese parasiete, soos wat in Suid-Amerika ingespan word.
Mnr. Jan-Hendrik Venter, bestuurder van vroeëwaarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê niemand weet hoe lank dié plaag al in Afrika is nie. Die voorkoms daarvan is in Januarie verlede jaar in Nigerië bevestig. Dit is egter moontlik dat die spesie al veel vroeër die vasteland bereik het.
Intussen is ook berig die plaag het ooswaarts versprei na Kenia en Uganda. Sedert Februarie vanjaar is ’n gebied van nagenoeg 6 miljoen vierkante kilometer in Suider-Afrika besmet.
WEES WAAKSAAM
Daar was tot dusver nog baie min aangemelde besmettings in die Vrystaat en nog geen in die wintergraangebiede nie. Dit beteken nie dat almal nie meer voortdurend op die uitkyk daarvoor hoef te wees nie.
“Inteendeel, ons moet ons moniteringsprogramme versterk. Dié plekke waar dit nie aangemeld is nie, kan gebiede wees waar dit nog net nie raakgesien is nie.”
Venter sê die ideaal is om ’n moniteringstelsel te hê waarmee motte opgemerk kan word voordat hulle begin eiers lê. “Dan kan jy weet jy gaan binne twee tot drie dae eiers hê, wat binne ’n verdere twee tot drie dae gaan uitbroei. Dit is ’n ernstige plaag, maar nie onbeheerbaar nie.”
Venter sê hulle moet nog ’n nasionale skadeberaming finaliseer.
’n Taakspan met kundiges uit die private en die openbare sektor vergader weekliks om die jongste stand van die plaag te bespreek.