Ou beloftes in nuwe verpakking verkoop nie
Leë, onuitvoerbare beloftes, beskou teen die agtergrond van die kommunale ekonomiese geskiedenis, gaan nie twee jaar voor pres. Jacob Zuma se uittrede bykans 50 000 jaar se agterstand uitwis nie.
In sy staatsrede verlede maand haal pres. Jacob Zuma uit ’n ou toespraak van mnr. Oliver Tambo, voormalige ANC-leier, aan: “Dit is ondenkbaar dat bevryding betekenis kan hê sonder dat die rykdom van die land aan die mense as geheel teruggegee word.” Zuma voeg dan self by: “Twee-en-twintig jaar ná vryheid en demokrasie is die meeste swart mense steeds ekonomies ontmagtig. Hulle is ontevrede met die ekonomiese voordele van bevryding.”
Hy definieer sy voorgestelde radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie as “fundamentele verandering aan die struktuur, stelsels, instellings en patrone van eienaarskap en die bestuur en beheer van die ekonomie ten gunste van alle Suid-Afrikaners, veral die armes, van wie die meeste Afrikane is”.
Die volgende vrae ontstaan uit Zuma se opmerkings: Watter ekonomiese voorspoed het swart Suid-Afrikaners voorheen gehad wat onregmatig deur apartheid of kolonialisasie van hulle weggeneem is en nou aan hulle teruggegee moet word? Wat is die kans dat Zuma se radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie wel ekonomiese voorspoed vir arm, swart Suid-Afrikaners gaan meebring?
DIE PAAIE SKEI
Die mensdom het volgens alle aanduidings in Afrika ontstaan. Ongeveer 60 000 jaar gelede het klimaatsverandering groepe mense na Suid-Asië laat migreer. Nog ’n groep het bykans 50 000 jaar gelede na die Midde-Ooste en Sentraal-Asië getrek. Vanaf basiskampe op die nuwe vasteland het hulle geleidelik ook Noord-Asië en Europa begin koloniseer.
Argeologiese bewyse het bevestig dat hierdie groepe mense kundig genoeg was om by die veranderde omstandighede van hulle nuwe omgewing te kon aanpas. Hulle het fyn waarnemers van die natuur se patrone, siklusse en skielike veranderings geword. Met hierdie nuutverworwe kennis het hulle navigasievaardighede ontwikkel, gereedskap vervaardig, diere makgemaak en plante gekweek.
Daar het ook ’n behoefte ontstaan om hierdie kennis en produkte deur sosiale interaksie aan ander groepe oor te dra. Dit het gelei tot die ontstaan van handelsnetwerke. Daaruit het weer kommunikasievaardighede ontwikkel waaruit daar mettertyd ook ’n geskrewe taal en ’n rekordhoudingstelsel ontstaan het. Die voortdurende toename in onderlinge handelsbedrywighede het florerende ekonomiese stelsels tot stand gebring en dié welvaart het ekonomiese voorspoed en ’n verbetering in lewensgehalte vir die Europese en Asiatiese kolonies geskep.
Intussen, terug in Afrika suid van die Sahara, het daar kommunale gemeenskappe tot stand gekom wat op die beginsel van egalitarisme geskoei was. Dit het daarop berus dat alle mense binne ’n geslote kommune in alle aspekte van die politiek, gemeenskapslewe en ekonomiese bedrywighede gelyk was.
Die kommunale ekonomieë het een gemeenskaplike kenmerk gehad, naamlik dat die grond deur ’n stam besit is vir die gebruik van die groep as ’n geheel. Geen mens binne hierdie stam is die gebruik daarvan ontsê nie. Die beskerming van water- en voedselbronne was verreweg die hoofbestaansrede van hierdie samelewings. Dit het dus gegaan om “oorlewing” en nie oor “ontwikkeling” nie, wat onderlinge lojaliteit aan die kommune vereis het, terwyl dit terselfdertyd gelyke geleenthede vir individue gewaarborg het.
Die stamgebondenheid binne ’n kommune het nie skakeling en gevolglik vrye handelsbedrywighede met ander stamme genoodsaak of aangemoedig nie. Saam met die gebiedsgebondenheid het dit ook nie die ontstaan van ’n “wetenskap”, gereedskap en toerusting, navigasievermoëns en kommunikasievaardighede in dieselfde mate laat ontwikkel as by die migrerende gemeenskappe in Europa en Asië nie.
Die stagnerende aard van kommunalisme het ook nie nuwe kollektiewe ekonomiese voorspoed geskep nie. Soos die bevolking binne die kommunes toegeneem het, het die welvaart per kop dus net ál kleiner geword. Oor die bestek van 50 000 jaar het die kommunale ekonomieë wat ekonomiese voorspoed betref, dus baie ver agter dié van die Europese en Asiatiese gemeenskappe geraak.
DIE PAAIE KOM WEER BYMEKAAR
Toe Jan van Riebeeck ’n handelspos in die Kaap begin het, het Suider-Afrika onvermydelik tot die moderne wêreldekonomie van Europa en Asië toegetree. Die streek se mate van deelname is drasties versnel toe diamante in die Noord-Kaap en later goud in huidige Johannesburg ontdek is. Daardeur is daar oornag ’n omvangryke mark vir arbeid en landbouprodukte geskep.
Plaaslike stamme het vrywillig aan die nuwe ekonomiese stelsel begin deelneem en wildsvleis, lewende hawe, vuurmaakhout en ander landbouprodukte aan die handelsentrums verskaf. Aanvanklik het hulle met sukses die nuwe geleenthede benut, maar die kommunale ekonomieë kon baie gou nie meer bybly met die voortdurende styging in die vraag na hul produkte nie. Grond is in die proses onvermydelik hervorm van ’n medium wat arbeid en sekerheid aan die groep kon verskaf tot ’n instrument wat grootskaalse surplusse aan die markte moes voorsien.
Die ekonomiese werklikheid hieraan verbonde is egter dat sodra daar van grond verwag word om ’n surplus te lewer, word grond self ’n verhandelbare item met sy eie waarde. Die kommunale samelewings het dus mettertyd groot dele van hul grond verkoop of verruil. Tesame met die kulturele
oorsake het ekonomiese kragte eenvoudig die losstaande kommunale bestaansekonomieë met ’n enkele markgerigte, produserende ekonomie vervang.
TERUGKEER NA VOORSPOED
Zuma is nie spesifiek as hy aanvoer dat die welvaart van Suid-Afrika aan die “mense” terugbesorg moet word nie. Op ’n Afrika-simposium in 1967 het een van die sprekers, mnr. Kwame Nkrumah, vryheidstryder en latere president van Ghana, egter die volgende siening gehad: “Kolonialisme kan die skuld kry vir baie euwels in Afrika, maar dit is sekerlik nie deur ’n goue Afrika-tydperk of paradys voorafgegaan nie. ’n Terugkeer na die prekoloniale Afrika-gemeenskap is nie die vernuf en ywer van ons mense waardig nie.”
Die Afrika- ekonomiese ontwikkelingsinstituut voer in Africa: Communalism, Barriers and Economics aan dat kommunalisme dikwels deur Afrika-leiers geprys word, maar dat dit in werklikheid een van die grootste redes vir die vasteland se ekonomiese mislukkings is. Volgens dié verslag bots kommunalisme met die mobilisering van arbeid en kapitaal. Albei is uiters noodsaaklike onderafdelings van produksie en is gevolglik die grootste bydraers tot ekonomiese groei, mits dit nie ingeperk word nie.
GROEI AAN BANDE GELÊ
Die Legatum-instituut in Londen, Engeland, is die afgelope tien jaar besig om die ekonomiese voorspoed van 149 lande te monitor. Dit definieer ekonomiese voorspoed as die geleentheid wat elke mens het om sy potensiaal te ontdek en te ontwikkel sodat hy of sy die beste kan word in wat hy of sy doen om sodoende ander mense te kan help sodat hulle ook die beste kan word in wat hulle doen.
Die 149 deelnemende lande se ekonomiese voorspoed word nie net aan een enkele maatstaf gemeet nie, maar aan verskeie subindekse, naamlik ekonomiese gehalte, die sake-omgewing, regering, onderwys, gesondheidsdienste, veiligheid en sekerheid, persoonlike vryheid, maatskaplike kapitaal en die natuurlike omgewing.
Volgens die instituut se verslag van verlede jaar is Suid-Afrika 48ste op die algemene indeks. Nieu-Seeland is eerste. Met betrekking tot die subindekse verskyn Suid-Afrika se posisies in die TABEL .
Suid-Afrika se grootste tekortkoming lê tans by sy ekonomiese groeikoers van minder as 1% te midde van abnormale vlakke van korrupsie en aantygings van staatskaping. Voeg daarby die 5,8 miljoen werklose mense en die 17,1 miljoen mense wat maatskaplike toelaes ontvang. Zuma behoort veel meer klem te lê op ’n grootskaalse uitbreiding van die ekonomie sodat dit minstens 6 miljoen nuwe werkgeleenthede kan skep pleks van om die persoonlike bates van die 4,5 miljoen “wit, monopolistiese bevolking” in ’n radikale eenjaarspoging aan “arm” kommunale gemeenskappe “terug te besorg”.
VERANDERING
In ’n artikel, “Zuma’s speech: The story of a country that’s fallen for the ‘politics of the belly’ ” skryf mnr. Prince Mashele, senior navorser by die sentrum vir regeringvernuwing aan die Universiteit van Pretoria: “Terwyl Suid-Afrikaners nie die frase ‘radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie’ vir die eerste keer hoor nie, bied die skie- likheid van sy beloftes hulle ’n blik op ’n president se denkwyse. Dit is ’n president met ’n grondliggende oneerbiedigheid vir die intelligensie van die mense wat hy lei. Dit lyk of hy Suid-Afrikaners beskou as ’n klomp liggelowige onkundiges wat elke leuen vir soetkoek opeet. Afgesaagde opmerkings oor die noodsaak daarvan om grond aan swart mense oor te dra en dat swart mense ’n regverdige deel van die ekonomie moet verkry, kenmerk byna elke Zuma-staatsrede. Om die een of ander vreemde rede – met net twee jaar oor om te regeer – verwag hy sy rooskleurige beloftes sal swart mense soos ’n weerligstraal uit die blou hemel tref.”
Leë, onuitvoerbare, populistiese beloftes van radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie wat binne een jaar bykans 50 000 jaar se agterstand moet uitwis, gaan beslis nie langdurige ekonomiese voorspoed vir die arm mense, “waarvan die meeste Afrikane is”, bring nie. Om Albert Einstein aan te haal: “Kom ons gee nie voor dat dinge sal verander as ons aanhou om dieselfde goed te doen nie. Wie sy mislukking aan ’n krisis toeskryf, skeep sy eie talent af en betoon meer respek aan die probleem as aan die oplossing. Onbekwaamheid is die ware krisis. Die grootste probleem met mense en nasies is die luiheid waarmee hulle die oplossing vir hul probleem aanpak.”