SWARTLANDSE PLAASMUSEUM FLUISTER TOEKA SE VERHALE
In Henriëtte Kotzé se derdegeslagplaasmuseum net buite Moorreesburg raak Suid-Afrikaanse geskiedenis weer léwendig.
Sowat vyf jaar gelede het Hannes en Henriëtte Kotzé haar oupa, Johnnie Loock, en pa, Willem, se hele museum vol kosbaarhede op Colesberg gaan haal en Moorreesburg toe getrek.
Dit was ’n klompie jare ná Willem sy plaas, Bluegum House, buite Graaff-Reneit verkoop en Colesberg toe verhuis het.
“My pa het my altyd saamgeneem veld toe of wanneer hy die versamelstukke aan mense wou verduidelik,” vertel sy oor haar kennis en liefde vir praktyke en voorwerpe uit toeka se dae.
Sy moes vier ou perdestalle en die ou plaashuis met ’n buitekamer en stoep op Moorreesburg restoureer om die museum te huisves. Nou verwelkom die geskiedenis gaste met die intrapslag op die stoep: Links is die historiese weegskale, sonwyser en reuse-seeppot. Regs is ’n watermeulklip, ’n mielie-afmaker en ’n ou wa.
SOOS DESTYDS
Elke kamer in die huis-museum het ’n tema. Die gewese kombuis is nou ’n smidswinkel met ’n versameling blaasbalke, wamakergereedskap en ’n karaktervolle werkbank. Daar is ’n kamer met ’n versameling saalsakke, bajonette, kapmesse, knopkieries en horings wat kundig omskep is in kruithouers. Die San-tyd se koker met pyle herinner aan die Oosgrens-oorloë en Anglo-Boereoorlog.
In ’n ander kamer staan haar oupa se wa en ’n outydse wolpers. Daar is ook ’n negosiekamer, met versamelings vleis- en ander kombuismeule, kombuisgoed, Africana-boeke en spesiale Graaff-Reinet-koerante van meer as ’n eeu gelede.
Elke perdestal huisves ’n ander versameling: Die tuie- en toomkamer met sy tuiebankie (’n nuttige artikel in die jare toe alle boere self riempies moes sny en werk), die 44 verskillende slagysters, die koringkamer en die jukke-versameling, kompleet met osrieme.
SKAARS VLYM
Een van haar kosbaarste artikels is die vlym, wat soos ’n knipmes oopvou. Sodra laminitis – volgens die boere daardie jare ’n toestand van vuil bloed – gediagnoseer is, is die vlymkenner ingeroep om met die skerp vlym ’n aar in die bees of perd se nek te laat uitbloei.
“Jy moes weet wat jy doen om nie die wond te groot te maak nie! Hoe meer jy wou laat uitbloei, hoe groter jou lem.”
Willem sê die vlym-handvatsels was van horing, leer of koper. “Hierdie een het drie punte – elke lem ’n ander grootte.
“Deesdae is dit baie skaars, maar daar was ook vlyms met twee punte. Die dier is kundig met die strop gewurg, sodat die nekare bult.
“Dan is die vlym met die skei binne die nekaar gekap sodat hy kan uitbloei en die milt kans gee om nuwe bloed te vervaardig.”
Vir hom is die klippe uit die Steentydperk en die wa- en smidsgereedskap die kosbaarste. Ook die watermeul en boeke oor toentertyd. ’n Ander kosbaarheid is die Hudson-lusernaflaaier, wat meer as 100 jaar gelede ’n ware stukkie briljantheid was.
Die kakieduwweltjie uit die Anglo-boereoorlog was Britse soldate se vertragingstaktiek vir tye wanneer die Boere-kommando’s hulle inhaal: Deur dié veelpuntige “duwweltjie” van yster uit hul saalsakke te laat val, was dit ’n wrede metode om perdepote buite aksie te stel.
Die gewese kombuis is nou ’n smidswinkel met ’n versameling blaasbalke, wamakergereedskap en ’n karaktervolle werkbank.