Walaers in die oorlog
Die uitdrukking laer trek kom uit die Groot Trek, waar walaers dikwels en doeltreffend in oorlogsituasies gebruik is.
Die Slag van Bloedrivier is seker die indrukwekkendste voorbeeld hoe walaers in oorloë gebruik is, maar die eerste fortlaers is al op die Oosgrens gevind wanneer langer strafekspedisies uitgegaan het om gebuite vee te herwin. Voor hulle het die Romeine en later die Germaanse stamme tydens die volkeremigrasies en konflikte in Europa ook van walaeromskansing gebruik gemaak.
Op die oog af lyk ’n walaer nie eintlik of dit ’n skans kan bied nie. As ’n assegaai die latte mis, kon dit regdeur die tent trek. Waens kon ook maklik deur ’n paar sterk mans sywaarts geruk of omgekeer word. Onder en tussen die waens is daar altyd deurkomplek. Die waens kan ook maklik aan die brand gesteek word.
Die Boere het dit geweet en goeie voorsorgmaatreëls ontwikkel deur waens aan mekaar vas te ketting, doringbome onder die waens in te wig en “veghekke” tussen die waens vas te maak. Vuur was ’n probleem, maar die brandpyl-en-boog was onbekend in Afrika, daarom moes aanvallers tot teen die waens beweeg voor dit aan die brand gesteek kon word. In gevalle waar waens wel afgebrand is, soos tydens die moorde by die Bloukransrivier, was dit by onverdedigde uitspannings.
Die waens het wel beskerming gebied teen gooi- en steekassegaaie, maar selfs belangriker was die beskerming teen rowers wat agter vee en eiendom aan was. By Vegkop, waar vroue en kinders in die laer was, kon min vee ingekraal word en feitlik ál die Voortrekkers se vee is geroof. Hulle kon darem die Matabeles se aanval afweer. As ander Voortrekkers hulle nie te hulp gesnel het nie, sou dit hul einde beteken het. By Bloedrivier, en alle latere veldtogte (soos teen die Basotho’s en die Sekoekoeni’s), is trekbeeste in die laers beveilig.
Die Engelse se fiasko teen die Zoeloes by Rorke’s Drift was omdat hulle nie hul waens in ’n beskermende laer getrek het nie. In opvolgveldslae het hulle dit wel gedoen.
ANGLO-BOEREOORLOG
Die laaste oorlog waarin die ossewa ’n belangrike rol gespeel het, was die Anglo-Boereoorlog. Dis moeilik om te skat hoeveel ossewaens in die oorlog vernietig is, maar dit moes tienduisende gewees het, veral as Kitchener se plaasvernietigingsveldtog in ag geneem word, waartydens duisende waens verbrand is.
Aanvanklik het die Boeremagte in die stellingsfase in groot walaers gebly, veral in Joubert en Cronjé se massiewe laers. Verbasend baie van hierdie waens was nog ligte kakebeenwaens met voltente. Die boere het dié waens waarskynlik vir reis en woon verkies. Die bokwaens was onnodig swaar en sterk vir vrag ry, hoewel daar ook heelwat van hulle met half- of voltente in die laers was. Die meeste van die waens is vernietig met Cronjé en van die magte in die Brandwaterkom se groot oorgawe. Boer én Brit het die vyand se wakonvooie vernietig waar hulle kon. Vlugtende vrouelaers in die Bosveld het jare lank in waens gebly. Die Britte het ook Paul Kruger se luukse reis-ossewa gebuit, maar dit later weer teruggestuur.
Dr. Theo Ligthelm het onlangs ’n paar aardighede onder my aandag gebring. Die Engelse het blykbaar waens as mobiele forte gebruik terwyl hulle blokhuislinies gebou het. Ons weet nie hoe die wa-“tenks” beveilig is nie, want ’n enkelsinkplaat sou nie veel gedeug het nie. Die ingang was blykbaar deur die wa se buikplanke.
Boere het altyd die wadrywers eerste geteiken. Dié het dan wyslik weggehardloop, wat die Engelse heeltemal gestrand gelaat het, aangesien hulle nie ’n idee gehad het hoe om met osse te werk nie.
Ossewaens is nog vir oulaas deur albei kante as vervoermiddels in die Suidwes-Afrika-veldtog tydens die Eerste Wêreldoorlog gebruik.
Die Britte het ook Paul Kruger se luukse reis-ossewa gebuit, maar dit later weer teruggestuur.