Planne te midde van brande en droogte
Water is skaars in die Wes-Kaap. Boere en navorsers in die streek is daarom deurlopend besig om planne te beraam.
Met erge waternood in die hele WesKaap en dele van die Noord- en Oos-Kaap, is daar ook toenemend druk op die landbou om minder water te gebruik. Landwyd word sowat 60% van alle waterverbruik aan die landbou afgestaan.
Op ’n onlangse kongres van Agri Wes-Kaap, het mnr. Cornie Swart, voorsitter van dié organisasie, gesê dat die Theewaterskloofdam is nou waarskynlik so leeg is soos die eerste keer toe dit gevul is.
Mnr. Johannes Loubser van Fair Cape, SA Meestersuiwelboer van die Jaar in 2015, sê water is kosbaar en behoort nooit gemors te word nie. Corli
van der Merwe berig op Landbou.com oor Johannes se water- bestuursplanne en hoe hy die afgelope twee droë winters en die dalende damvlakke in die Wes-Kaap bestuur.
Johannes pas ’n waterherwinningsproses in sy boerdery toe wat hom sowat 40 000 liter water per dag bespaar.
“As gevolg daarvan het ek genoeg water. Ek het twee boorgate op die plaas wat ek feitlik nooit gebruik nie, net in ’n noodgeval.”
Johannes melk sowat 1 800 koeie per dag en lewer daagliks 65 000 liter tot 70 000 liter melk aan die familiefiliaal Fair Cape in Kaapstad. Dié boerdery se water kom hoofsaaklik uit ’n dam wat hulle jare gelede op die plaas gebou het. Water word opgevang in die Dieprivier wat naby Milnerton in die see uitmond.
“Die dam hou sowat 22 000 m3 water, wat genoeg is om my deur te sien. Wat my bekommer, is dat die Wes-Kaap vanjaar ’n goeie winter sal moet hê. Ons het laas in 2001 ’n goeie reëntyd gehad.”
Watervermorsing steek Johannes dwars in die krop. Hy skryf ’n deel van Suid-Afrika se waterprobleme daaraan toe dat mense nie water met eerbied hanteer nie.
WATERLEKKE
Die GreenCape 2017 Water Market Intelligence Report is onlangs uitgereik en dui daarop dat 37% van Suid-Afrika se water verlore gaan weens swak infrastruktuur in bewoonde gebiede.
Die GreenCape-waterverslag is op 2 Maart deur mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister vir ekonomiese geleenthede, bekend gestel.
Waterpype wat stukkend is of lekkasies wat druppel vir druppel kosbare water vermors, is in die Wes-Kaap ’n groot kwessie.
“Ons huidige watersituasie is benard en die Wes-Kaap beleef tans sy ergste droogte in honderd jaar. GreenCape se 2017-watermarkverslag gee ons ’n gedetailleerde oorsig van waterverbruik en vooruitskattings van die toekomstige vraag na water,” sê Winde.
Hy sê waterbesparing en beter onderhoud van infrastruktuur is nie die enigste oplossings nie. Waterherwinning is volgens hom die volgende groot stap.
BRANDE
Saam met die waterkrisis in die Wes-Kaap het brande op duisende hektaar in die provinsie voorgekom. Verskeie wonings en infrastruktuur is ernstig beskadig of heeltemal vernietig.
Plase in veral die Drakenstein-streek het deurgeloop.
In daardie omgewing is die historiese Augusta Kleinbosch-herehuis en omliggende geboue heeltemal afgebrand.
Die kelder, proelokaal en wooneenhede op die wynplaas Druk My Niet is deur brande verwoes en ook die wingerde het groot skade gely.
Die herehuis op die wynplaas Calais het ook afgebrand.
Proteaplase teen die hange van die Du Toitskloofberge het erge skade opgedoen.
NAVORSING
Die droogte herinner almal in die landbou net weer hoe belangrik omgewingsbewaring en waterbesparing is vir volhoubare landbou. By die Outeniqua-navorsingsplaas by George is daar ’n groot dwingendheid om meer te leer oor hoe om natuurlike hulpbronne, soos grond en water, beter te bestuur.
Een van die navorsingsprojekte is om ’n geenbewerkingstelsel op bestaande aangeplante weidings te vestig. Verskeie gras- en peulgewasspesies word binne ’n bestaande weidingsbasis ingeplant met min of geen grondversteuring. Verdere navorsing oor besproeiingskedules en hoe om oorbesproeiing en loging te voorkom, sal help om watervermorsing en waterbesoedeling te verminder.
Die navorsing oor bewaringsbewerkingsmetodes is toegespits op die verhoging van die grond se organiese koolstof. Dit verminder die behoefte aan chemiese bemesting.
Navorsing oor grondgesondheid help boere om die fisiese, chemiese en biologiese samestelling van landbougrond te bepaal en daarvolgens omgewingsvriendeliker te boer.