SÓ WORD JY ’N MEGABOER
Vyf boere in kykNET en Landbouweekblad se TV-reeks, Megaboere, het onlangs saam met die landbou-ekonome proff. Mohammad Karaan en Johann Kirsten deelgeneem aan ’n gespreksforum oor landboukwessies by die Stellenbosse Woordfees.
PIERRE VERCUIEL Boere moet studente bly
Boere moet ewigdurende studente wees as hulle aan die voorpunt wil bly, meen mnr. Pierre Vercuiel, wat ’n korporatiewe boerdery-onderneming in Suid-Afrika en Zambië staangemaak het.
Hy boer in Suid-Afrika onder meer met varke, speenkalwers en saaigewasse. Hy het ook voerkrale, ’n komposaanleg en ’n wildboerdery. In Zambië boer hy met sojabone, graangewasse en avokado’s. Die reuseboerdery het op sy familieplaas, Damascus, ontstaan.
“Die boerdery is niks anders as ’n besigheid nie, maar dis ’n bietjie anders as ander besighede, bloot omdat jy die biologie en sakebeginsels met mekaar moet trou. Daar is lang beleggings- en produksiesiklusse, politieke betrokkenheid en ’n klomp emosie.
“Dit vra dat ’n mens jouself moet bemagtig met ’n wyer kennis as net die tegniese aspekte van boerdery,” sê hy.
Sy strewe is dat sy boerdery in die boonste 20% van die onderskeie bedrywe presteer.
Vercuiel is ’n groot aanhanger van Kaizen, oftewel die “Japannese manier van dinge doen”, waarna hy verwys as inkrementele verbetering.
“Jy moet elke jaar beter wees as die vorige jaar. Toe ek in 1972 begin boer het, was die gemiddelde produksie van varkboere in die land iets soos 13 varkies wat per sog per jaar grootgemaak word. Vandag trek die goeie ouens op 30. Vandag lewer ons iets soos 2,5 ton varkvleis per jaar uit ’n enkele sog (wat 160 kg weeg).”
ABRAHAM VANROOYEN Rooi ligte in sitrusbedryf
Die plaaslike sitrusbedryf beleef tans ’n bloeityd – grootliks danksy nuwe sagteskilkultivars – maar
cowboys in die bedryf en Amerikaanse politiek kan die wind uit die internasionale sitrusmarkte se seile haal, sê mnr. Abraham van Rooyen, uitvoerende bestuurder van die ANB-beleggingsgroep.
ANB het al sowat 2 000 ha Nadorcotts vir die ClemenGold-handelsmerk gevestig en woeker nou om by die 3 000 ha-kerf te kom.
Hy beskou dié kultivars as ’n manier om waarde toe te voeg op die grond. ANB het onlangs die landgoed Zandvliet naby Ashton gekoop om sy sitrusaanplantings in die Wes-Kaap uit te brei.
“Met ’n gemiddelde Valencia-boord is jy gelukkig as jy R40 000 tot R60 000 netto wins per hektaar maak. Met Clementine, wat ’n oop kultivar is, maak jy dalk R100 000 tot R150 000. Met ’n goed geboerde ClemenGold kan jy, ná jy al jou tariewe betaal het, tussen R400 000 en R900 000 per hektaar maak.”
Sy grootste bekommernis is die Amerikaanse pres. Donald Trump wat vrye handel in die wêreld wil stuit, want as dit gebeur, sal ander lande sy voorbeeld volg.
“Dit lyk of China die spel teenoorgesteld gaan speel. Dit sal tien teen een daardie mark oper maak. Hopelik.”
FRAGMENTASIE POOTJIE WYNBEDRYF
Van Rooyen sê die wynbedryf is die “taaiste” van al die bedrywe waarin hy al betrokke was.
“Elke outjie met 5 ha wingerd het ’n etiket of twee of drie of vier. Op produksievlak doen ons wynboere baie en die gehalte van hul produkte het baie verbeter, maar die swak skakel vir die wynbedryf lê vir my in die fragmentasie. Daar is te veel handelsmerke. Die arme verbruiker wat voor die rak moet staan, is totaal verward. “En die werk! Ek haal my hoed af vir die harde werk wat hulle doen ten opsigte van bemarking. Ons gaan konsolidasie moet kry en ouens gaan mekaar se hande moet vat, want ek dink die meeste wynboere maak nie geld nie of min geld.”
Ander deelnemers was me. Estelle van Reenen, bestuurshoof van die vleisonderneming Sparta, en mnr. Nick Serfontein, voorsitter van die Sernickgroep, ook ’n vleisonderneming. Die artikel oor laasgenoemde was in die 10 Maartuitgawe van Landbou
weekblad, en die artikel oor Van Reenen verskyn in 14 April se uitgawe. Besoek Landbou.com vir langer weergawes van dié artikels.