GROOT DEURBRAAK IN STRYD TEEN KOMMANDOWURM
’n Suid-Afrikaanse wetenskaplike het ’n deurbraak in die bekamping van die verwoestende herfskommandowurm gemaak deur ’n plaaslike aalwurmspesie te gebruik om die wurms dood te maak.
Dit sal egter nog ’n paar jaar duur voordat die beoogde biologiese bestrydingsmiddel kommersieel beskikbaar sal wees.
Die deurbraak is gemaak deur dr. Tiarin Ferreira, ’n nematoloog van Pretoria, wat al minstens een aalwurmspesie gebruik het wat die herfskommandowurms doodmaak, terwyl twee ander spesies moontlik ook doeltreffend sal wees.
In Duitsland en Amerika word aalwurms ook gebruik om insekte te bekamp, maar dis die eerste keer dat die aalwurm Steinernema
yirgalamense gebruik is om die herfskommandowurm dood te maak. Dié aalwurm kom ook in Ethiopië voor.
Ferreira is die tegniese bestuurder van die maatskappy Nema Bio, wat met staatsfinansiering gestig is om ’n middel te ontwikkel en later kommersieel te verkoop om sekere plae biologies te bekamp. Die registrasieproewe word vanjaar en volgende jaar gedoen en aansoek om registrasie sal in 2019 by die registrateur van Wet 36 van 1947 ingedien word. Daadwerklike pogings word aangewend om dit so goedkoop moontlik beskikbaar te stel.
Die tegnologie-en-vernuwingsagentskap (TIA) finansier die ontwikkelingswerk van die nuwe middel, wat noodsaaklik is tussen die navorsingsfase en die kommersialisering van die produk.
Ferreira het haar meesters- en doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Die meestersgraad het gehandel oor die bekamping van die gebande vrugtekalander met aalwurms. Dié insek is ’n groot probleem in die Wes-Kaapse vrugte-, groente- en bloubessiebedryf.
Daarna het sy ’n doktorsgraad gedoen oor die vermeerdering van aalwurms en die vervaardiging van ’n biologiese middel waarmee insekplae beheer kan word. Daarvoor het sy ’n studie in Duitsland gaan doen waar aalwurms reeds gebruik word om sekere plae te bekamp. Die eerste studies oor die gebruik van aalwurms teen plaaginsekte in die veld is in 1980 in Amerika uitgevoer.
Ná haar studies is Ferreira deur Nemlab aangestel om Nema Bio te stig en die nuwe produk te ontwikkel en te kommersialiseer. Ferreira se studieleier vir die meesters- en doktorsgraad was dr. Antoinette Malan van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit landbouwetenskappe (departement bewaringsekologie en insektekunde). Die eienaar en hoofbestuurder van Nemlab en Nema Bio is mev. Sheila Storey.
“Ons het verskeie aalwurmspesies geïsoleer wat plaaslike insekte aanval. Toe die hersfkommandowurmplaag hierdie somer in Suid-Afrika uitbreek, het ek gekyk of dit deur aalwurms bekamp kan word. Drie van die reeds geïsoleerde spesies het goed gewerk, waarvan een baie doeltreffend is. Dié spesie val enige motlarwe aan en is dus doeltreffend teen die herfskommandowurm, wat ’n larf in sy lewensiklus het. Die aalwurms dring die wurms binne en vreet hulle letterlik van binne af dood,” sê Ferreira.
Die betrokke spesie sal ná registrasie in tenks vermeerder word sodat ’n biologiese (lewende) middel vervaardig kan word. Dit sal bo- en ondergronds toegedien kan word.
Die middel sal ook vir ander plae gebruik kan word, soos die kodling- en valskodlingmot. Dit sal van groot waarde vir Wes-Kaapse vrugteboere wees. Hulle mag nie chemiese middels spuit gedurende ongeveer die laaste tien dae voor uitvoer nie, want as enige chemiese residue op die vrugte aangetref word, sal dit ’n stokkie voor uitvoer steek, sê sy.
’n Biologiese middel bevat geen chemikalieë nie en sal tot kort voor die oes van vrugte gespuit kan word.
Ferreira se deurbraak sal ’n belangrike hulpmiddel vir Suid-Afrikaanse boere wees, veral vir graanboere wat dié somer groot skade weens die hersfkommandowurm gehad het. Dit het ook by aartappels voorgekom.
Sy sê sy sien daarna uit om vas te stel of die nuwe biologiese middel saam met die chemiese middels wat onlangs as ’n noodmaatreël in Suid-Afrika vir gebruik teen die herfskommandowurm geregistreer is, gebruik kan word. Indien wel, sal dit vermeng en vir geïntegreerde plaagbestryding aangewend kan word. Sodoende sal algehele bestryding moontlik wees omdat die dele van ’n plant wat nie deur die chemiese middel bereik word nie, soos in die kelkblare van ’n mielieplant, deur die aalwurms in die biologiese middel binnegedring kan word.