Omvattende plan gee vrugtevlieg op sy baadjie
Die vrugtebedryf se FruitFly Africa-projek het binne 20 jaar daarin geslaag om die Mediterreense vrugtevlieg bevolking in Suid-Afrika se vrugte produksiegebiede met enigiets van 33% tot 70% te verminder.
Oorsese markte, wat maar alte bewus is van die probleme wat vrugtevlieë vir hulle kan skep, plaas toenemend druk op vrugte-uitvoerlande om hul insekbekamping te verbeter. Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf se FruitFly-projek het sedert 1997 groot welslae behaal om vrugtevliegbevolkings aansienlik te laat krimp en só nie net verliese gekeer nie, maar ook marktoegang help behou.
In 2013 alleen het oesverliese weens vrugtevlieë Suid-Afrikaanse vrugteboere sowat R95 miljoen uit die sak gejaag. Plaagbestryding kos boonop sowat R1 600 per ha.
Mnr. Nando Baard, bestuurder van FruitFly Africa, sê die vlieg lê sy eiers binne die vrugte. “As die larwes eers aan die vrug gevreet het, wil niemand dit hê nie. Dit kan nie eens vir inmaak gebruik word nie. Hierdie regstreekse skade het in die 2014-’15-produksiejaar meer as R50 miljoen beloop, maar dit is nie die grootste probleem nie.
“Die grootste probleem is dat dit ’n fitosanitêre plaag is. Suid-Afrika se uitvoermarkte – Europa en Amerika – soek nie hierdie plaag by hulle nie. As dit in een van Suid-Afrika se besendings onderskep word, word die vrugte daar vernietig of die hele vraghouer met besmette vrugte word op jou rekening teruggestuur. Daar is selfs die moontlikheid dat marktoegang gesluit kan word vir Suid-Afrikaanse vrugte. Dan moet ons in die volgende jaar heraansoek doen om vrugte na daardie mark uit te voer.”
Die bedryf het in 1997 FruitFly Africa gestig as ’n langtermynstrategie om vrugtevliegbevolkings te probeer verminder tot vlakke waar dit nie meer skade aanrig nie.
Sagtevrugte-aanplantings (waaronder tafeldruiwe) van altesaam 33 000 ha – sowat die helfte van die bedryf se boorde en wingerde – word nou deur die projek bedien, sê
mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro. As Suid-Afrika of selfs net sekere produksiestreke vry van vrugtevlieë verklaar kan word, sal marktoegang goedkoper wees, veral tot markte wat bykomende fitosanitêre protokolle, soos koue sterilisering, bestraling en beroking, vereis.
Volgens Anton is die projek, wat sowat R40 miljoen per jaar kos, die enigste in sy soort ter wêreld wat grootliks deur boere self gefinansier word (die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye lewer darem ’n bydrae). Elders ter wêreld word sulke inisiatiewe deur die owerhede gedra. DRIE SOORTE Vrugtevlieë val druiwe, appels, pere, pruimedante, perskes, nektariens, appelkose en kersies aan. “Die konvensionele metodes het behels dat ’n boer spuit en die bevolking uit die weg ruim wanneer hy vrugtevlieë in die boord opmerk. Die jaar daarna was die plaag egter weer terug,” sê Nando.
Die konvensionele benadering verg ook ’n groot hoeveelheid chemiese middels, of daar nou twee of 2 000 vlieë in ’n boord opgemerk word. Met biologiese bekamping kan die produksiemiddele verminder word namate die bevolking afneem.
“Hoe meer mense aan die projek deelneem en hoe groter die gebied is wat bedien word, hoe groter raak die voordeel vir die hele bedryf,” sê hy.
Volgens Nando groei die plaag eksponensieel, want een wyfie kan in haar leeftyd 300 tot 800 eiers lê. “As net 10% van die nageslag weer paar en eiers lê, kan twee vlieë binne ses geslagte 22,7 miljoen vlieë raak. As jy dus net 1% nie bykom nie, gaan dit jou teen die einde van die produksiejaar vang.”
In die Wes-Kaap is daar veral twee vrugtevliegsoorte wat gevaar inhou, naamlik die Mediterreense vrugtevlieg (Ceratitis capitata), wat bykans oral in Suid-Afrika voorkom, en die Natalse vrugtevlieg (Ceratitis
rosa), wat hoofsaaklik in die kus- en koeler klimaatstreke opgemerk word.
Mediterreense vlieë is ’n internasionale kwarantynplaag en kom oorspronklik uit Oos-Afrika, maar het wêreldwyd versprei – ook in Suid-Afrika. Die Oosterse vrugtevlieg (Bactrocera dorsalis) is ’n indringer wat nog nie in die WesKaap teenwoordig is nie, maar reeds sedert 2006 skade aan vrugteboorde in Limpopo en Mpumalanga aanrig.
Dit is ’n baie aanpasbare vrugtevlieg. As hy eers in ’n streek nesgeskop het, is dit bykans onmoontlik om hom uit te roei. Daarom word die Oosterse vrugtevlieg fyn dopgehou om te keer dat dit ’n houvas in die Wes-Kaap kry. Wanneer slegs een enkele Oosterse vrug-
‘Twee vlieë kan binne ses geslagte 22,7 miljoen vlieë raak.’
tevlieg in die Wes-Kaap in ’n lokval gevang word, kan dit tot R3,9 miljoen kos om seker te maak dié plaag word uitgewis.
MONITOR DEURLOPEND
FruitFly Africa se streekwye geïntegreerde plaagbestuursprogram begin met gebiedswye monitering, wat dorpe, tuine, riviere en boorde insluit.
Daar word op elke 20 ha ’n lokval vir die Mediterreense vlieg uitgeplaas. Vir valskodlingmot word daar ’n val op elke 4 ha uitgesit. Een val per produksie-eenheid of 100 ha word ook vir die Oosterse vrugtevlieg uitgesit. Die aas word elke ses weke vervang.
“Die valle word weekliks deur FruitFly Africa gemonitor. In die Warm-Bokkeveld gaan ons nou 4 500 valle per week na,” sê Nando oor hul groot taak.
Monitering is ’n basiese stap, maar hy meen dit is een van die belangrikste stappe wat waardevolle inligting verskaf oor probleemgebiede, die insekte se verspreiding tydens die jaar, skuilplekke in die wintermaande en die oorsprong van besmettings.
Sedert 2015 maak FruitFly Africa op geografiese inligtingswetenskap staat om die vrugtevliegbevolkings na te speur en te ontleed.
GEBOORTEBEPERKING BY INSEKTE
Die tweede praktyk is om groot hoeveelhede manlike Mediterreense vrugtevlieë by ’n gespesialiseerde eenheid op Stellenbosch te teel en die mannetjies deur gammabestraling te steriliseer. Daagliks word 9 miljoen tot 16 miljoen van dié steriele vlieë met helikopters losgelaat.
As ’n steriele mannetjie met ’n wilde wyfie paar, sal haar eiers nie uitbroei nie. Daar is dus nie ’n volgende geslag van die vlieë nie. “Dit is ’n omgewingsvriendelike tegniek wat nie met ander bestuurstegnieke inmeng nie. Dit is ook ’n spesie-spesifieke manier van bekamping wat nie vreemde organismes, soos swamme wat op die vlieg self moet groei, in die omgewing vrylaat nie,” sê Nando.
Die tegniek word suksesvol in Amerika, Argentinië, Chili, Spanje, Israel en Australië gebruik. Chili kon dit selfs regkry om die Mediterreense vrugtevlieg heeltemal uit te wis en geniet nou plaagvrye status.
Aanvanklik kon die aanleg 8 miljoen steriele vlieë per week teel, maar nadat dit twee keer vergroot is, word daar nou 25 miljoen vlieë per week geteel. Produksie kan binnekort tot 50 miljoen per week styg.
Volgens Nando gebruik hulle die Vienna 8-stam, wat die jongste en “beste” stam
van die vlieg is. Dis ’n mutasie waarvan die manlike papie bruin en die vroulike papie wit is. Die wyfies is ook temperatuursensitief en vrek teen sowat 34 °C. In die eierproduksiestadium word die vlieë dus teen 34 °C in ’n warm bad geplaas. Die wyfies vrek en slegs mannetjies word grootgemaak, wat die proses kostedoeltreffend maak. Deur slegs mannetjies vry te laat, is daar ook nie ’n probleem dat steriele wyfies met wildes meeding om paring nie.
“In die winter (Julie tot September) doen ons grondloslatings op spesifieke probleemplekke. Van Oktober tot Mei doen ons lugloslatings in die meeste gebiede.”
Die steriele vlieë word voor loslating verkoel tot tussen 2 °C en 4 °C sodat hul metaboliese funksies afneem en hulle aan die slaap raak. Hulle word dan deur ’n verkoelde loslatingsmasjien vanuit ’n Robinson R44-helikopter losgelaat.
“Die steriele vlieë word weekliks oor 40 000 ha – sowat 15 000 draende hektare – losgelaat,” sê Nando.
Die ideale verhouding tussen die steriele en wilde vlieë is 10-15:1. Tans staan dit op sowat 102:1. “Die verhouding moet groot wees, want nadat die mannetjies bestraal is, ding hulle nie meer so goed soos die wilde mannetjies om paring mee nie,” sê Nando.
ORGANIESE LOKAAS
Die derde praktyk is gekoördineerde gebiedswye bespattings uit die lug met organies gesertifiseerde GF-120-lokaas wat spinosad
as aktiewe bestanddeel bevat. Daar is geen onthoudingstydperk nie. Wanneer die bevolkingsdruk op sy hoogste is, word dit elke 10 dae tot 14 dae toegedien.
“Ons plaas sowat 1 liter per hektaar uit – regtig min. Dit is growwe druppels. Iets moet eers daaraan vreet voor dit sal vrek. Dit is geformuleer om vrugtevlieë te lok, maar dit stoot bye af, wat ’n baie groot voordeel is.”
Die lokaas word voor en tydens die oes oor boorde en wingerde (nie woongebiede nie) deur ligte vliegtuie en helikopters toegedien. Boere dien ook die lokmiddels weekliks op die grond toe in die weke voor en ná die lugtoedienings – vandat die vrugte begin ryp word tot vier weke ná oestyd. Daarna word dit elke tweede week toegedien tot die winter begin, wanneer maandeliks voldoende is.
KOSTE-ONTLEDING
’n Onafhanklike koste-voordeelontleding het getoon die projek hou baie meer voordele in as die koste daarvan, sê Nando. In sommige gebiede is die voordele tot vier keer meer as die uitgawes. Volgens hom toon die hoeveelheid vlieë wat hulle per lokval per dag in weke 1-20 in die Hexriviervallei gevang het, dat die vrugtevliegbevolking in dié gebied sedert 2010 met 33% gedaal het. By Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp is die bevolking gehalveer. “Die grootste daling was by Ceres, waar die bevolking nou ’n kwart is van wat dit was.”