DIEANDERSÊ
Een van apartheid se sentrale kenmerke was die ontkenning van swart Suid-Afrikaners se eiendomsreg, ’n tradisie wat deur die demokratiese regering voortgesit is, skryf Martin van Staden, ’n navorser verbonde aan die Vryemarkstigting. Net soos onder die Nasionaliste van weleer beheer die Regering vandag steeds ’n beduidende hoeveelheid grond in Suid-Afrika (lees ook die artikel op bl. 14). Dit is veral waar vir die meeste van die histories swart gebiede.
Teen 2013 het dit voorgekom asof die regeringsbesit van grond verminder het tot sowat 14% van alle grond in die land. Dit bly egter onduidelik namens watter departemente die grond deur die staat gehou word en vir watter doel. Tot so onlangs as 2007 was sommige departemente nie bewus daarvan dat grond aan hulle toegewys is soos wat in die aktekantoor aangedui word nie, deels waarskynlik weens die komplekse en verwarrende aard van apartheidswette wat die huidige Regering geërf het.
Politici neem aan dat arm, grondlose Suid-Afrikaners eerder wil hê die staat moet eiendom namens hulle “besit” as dat hulle dit individueel besit. Mense se inherente behoefte om die eiendom te besit waarop hulle woon, en die manier hoe eiendom welvaart skep, is egter moeilik om te onderdruk. Dit verklaar die bedrieglike retoriek en slagspreuke soos “wit monopolistiese kapitaal” en “onteiening sonder vergoeding”.