HIER WINK IETS GROOTS
Dit maak ’n mens sommer trots om te sien hoe ’n hele bedryf planne beraam tot voordeel van almal. En dít ondanks die feit dat die twee grootste betrokkenes in die rooivleisbedryf, en spesifiek die beesvleisbedryf, se doelwitte histories lynreg van mekaar verskil. Beesboere wil soveel moontlik vir hul kalwers hê en voerkrale wil so min moontlik betaal.
Gelukkig lyk die wêreld ná die onlangse reën beter. Die speenkalfprys se onlangse sprong in die rigting van R30/kg help ook om die gemoedere te lig, maar die ongeveer 20% van Suid-Afrika se nasionale kudde wat tydens die droogte verloor is, moet vervang word.
So, hoe kan almal ’n beter vleisprys behaal? Ons weet mos ons kan beter. Prysgewys speel Suid-Afrika tans op die B-veld saam met lande, soos Pakistan en Indië, wat nie eens klassifikasiestelsels het nie. Ons hoort op die A-veld saam met Amerika en Australië. Ondanks Suid-Afrika se beter vleispryse verdien laasgenoemde lande steeds byna twee derdes meer met hul vleis as ons. Die rede? Hulle het die kern van die probleem geïdentifiseer.
Die Landbounavorsingsraad het bevestig mense is bereid om meer te betaal vir ’n prima landbouproduk, maar dan moet daardie produk nooit teleurstel nie. Gehaltebeheer is nodig om dít te verseker. Snitte, en nie karkasse nie, moet gegradeer word. Kopers moet ook die gerusstelling van ’n naspeurbaarheidstelsel hê, en probleme met dieregesondheid moet hok geslaan word.
Don Heatley, ’n beesboer van Noord-Queensland in Australië en oudvoorsitter van die visioenêre produsenteliggaan Meat Livestock Australia (MLA), was ’n spreker op die onlangse rooivleisindaba. Hy het bogenoemde besef toe hy 20 jaar gelede saam met ’n klomp beesboere gesit en swak steaks geëet het. Net daar het hulle besluit dit kan nie so aangaan nie. Vandag verskaf die MLA navorsing, ontwikkeling en bemarkingsraad aan 50 000 produsentelede. Hulle het vleisverbruik in Australië ’n hupstoot gegee én die winsgewende uitvoermarkte in Suidoos-Asië regtig begin ontgin.
’n Heffing van AU$5 op elke handeling in die beesvleiswaardeketting bring jaarliks byna R1,2 miljard vir die bedryf in, terwyl die staat daardie bedrag dollar vir dollar ewenaar. Interessant genoeg lyk dit of Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, wat ook die indaba bygewoon het, te vinde is vir so ’n reëling.
Die belangrikste is egter dat die Aussies gevind het hulle kry ’n allemintige opbrengs van AU$5 vir elke dollar wat hulle in die bedryf belê. Vergeleke hiermee lyk Suid-Afrika se finansieringsmodel beroerd. Dave Osborne, ’n voorslag-varkboer, het vertel hoe die varkbedryf ’n heffing van 0,5% op die bedryf se omset van R4,7 miljard hef. Die rooivleisbedryf, met ’n omset van byna R30 miljard, hef net 0,09%. As die vleisbeesbedryf met ander bedrywe wil meeding, waarsku Dave, gaan hy minstens R47 per dier moet hef. Andersins boer hy eenvoudig agteruit.
’n Beter produsenteprys sal natuurlik so ’n heffing meer verteerbaar maak. Dit was presies by hierdie punt waar dr. John Purchase, hoof van Agbiz, die groen lote in die bedryf uitgewys het wat dalk daardie ekstra geld kan inbring. Die uitvoervolumes van beesvleis (gevries en vars of verkoel) het in die afgelope vier jaar aansienlik gestyg — van 15 000 ton in 2012 tot byna 40 000 ton verlede jaar. Waardegewys was dit ’n styging van R300 miljoen tot R2,5 miljard.
Die raamwerk van ’n plan is reeds daar. Nou moet ons almal net saamwerk, want hier wink regtig iets groots. — CHRIS BURGESS