Landbouweekblad

DIE ONBEKENDE

-

Hoe verlaat jy ’n plek wat jy al jou lewe lank (16 jaar) huis noem? Nie net nog ’n totsiens wat met ’n gelukkige “hallo” gaan eindig nie. Hoe begin jy oor en hoe oorkom jy die vrees vir die onbekende?

Twee jaar gelede, op ’n doodgewone middag so ongeveer 14:00, het die gelui van my pa se selfoon die ritmiese getik van die windpomp onderbreek.

Ná die gesprek het my pa met ’n hees stem aangekondi­g dat dit die Departemen­t van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming was wat hom in kennis gestel dat daar ’n grondeis op ons plaas ingestel is.

Ná ure se familiever­gaderings oor wat volgende moet gebeur, het my pa besluit om eerder ’n gewillige verkoper te wees ten einde al die hofsake en ekstra koste te vermy.

Ná ’n hele paar maande waarin ons niks van die departemen­t gehoor het nie, het hy skielik begin reëlings tref vir die nodige kontrakte om onderteken te word.

Ons het vrede daarmee gemaak dat ons die plaaslewe sal moet verruil vir die vinnige, gejaagde stadslewe.

Twee jaar van aan ’n lyntjie gehou word oor wat werklik aangaan en hoe ver ons in die proses is om die onderhande­linge te finaliseer, het verbygeslo­er.

Toe gebeur alles baie vinnig. Ek kan nog die dag onthou toe my ouers gery het om die finale kontrak te gaan onderteken. Ek kon dit nie glo nie. Of eerder, ek wóú dit nie glo nie.

En nou is ons hier. Die laaste dag op die plaas. Die plek waar ek my eerste treë gegee het, die eerste keer my knieë nerfaf geval het, die plek waar my vyfjarige handjies se afdrukke vir ewig in die sement sal sit.

Hoe los’n mens alles wat jy so goed ken en verruil dit vir die onbekende? MIRKA VAN DER SPUY Lime Acres

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa