DIÉ BOERDERYE GAAN VERDWYN
Dit was ’n voorreg om op die afgelope Woordfees op Stellenbosch na Chris Burgess, hoofredakteur van LBW ,tekonluister. Hy het baie insiggewende, weldeurdagte, op-die-man-af-feite oor grondhervorming en -besit in Suid Afrika gegee. Dankie, Chris, dit is die tipe inligting wat die oningeligtes en waningeligtes moet hoor.
Ná Chris se bydrae het ek weer begin dink aan die opkomende boer en die oorlewing van die klein tot middelslag- kommersiële boer in Suid-Afrika.
Twintig jaar gelede kon daar op ’n Karooplaas van sowat 3 000 ha ’n bestaan gemaak word as die eienaar nie aan ’n verband gebind was nie.
Tien jaar gelede kon die eienaar steeds ’n bestaan maak, maar diversifikasie en waardetoevoeging moes nou deel uitmaak van die boerdery.
Tans kan 3 000 ha met waardetoevoeging nie meer die boer dra nie. Die vraag is: Hoekom nie? Wat het gebeur?
Die produksiekoste by waardetoevoeging en diversifikasie het eenvoudig hand oor hand toegeneem. Elektrisiteit, brandstof en arbeid is heel bo aan die lys van produksie-uitgawes. Geen behoorlike kostedoeltreffende waardetoevoeging en diversifikasie kan plaasvind sonder dié produksiemiddele nie.
Eskom het ’n kostestruktuur aan die georganiseerde landbou voorgelê wat nooit behoorlik tot op grondvlak afgewentel is nie. Die boer was onder die indruk dat lynheffings ná 20 jaar sou verval.
Werkerslone het ’n politieke speelbal geword en die werkgewer het geen keuse as om mense af te lê nie.
Brandstof is aan geen prysstruktuur gekoppel nie en het die hoogte ingeskiet. Weereens aanvaar die georganiseerde landbou dit.
My vraag na aanleiding van Chris se uitsprake oor die hoeveelheid landbougrond wat reeds aan klein-, bestaans- en opkomende boere toegeken is, is die volgende: As die bestaande klein of middelslag- kommmersiële boer nie meer kostedoeltreffend op sy grond kan boer nie, hoe gaan die opkomende boer dit regkry? Hy betree die landbou as ’n groentjie, maar gaan ook met bogenoemde produksie-uitgawes te doen kry.
Ek wil ’n stelling maak: Die klein en middelslag- kommersiële boer gaan verdwyn tot voordeel van die gesubsidieerde opkomende boer.
My uiteindelike vraag: Is die georganiseerde landbou gereed vir hierdie situasie ten opsigte van voedselvoorsiening? JOHN THEUNISSEN Beaufort-Wes