Nie so ’n blye weersiens
MANIE en sy vrinne wonder al jare lank wat gaan word van die Regering se onbekookte plan vir perke op plaasgroottes. Hy was verlig (en ook nie heeltemal verbaas nie) om te sien dat die eerste konsepwet wat dié onpraktiese gedagte moet laat realiseer, ’n duisternis oorwegings en voorwaardes bevat wat die Regering sal moet gebruik om by só ’n plafon uit te kom.
Wat hom egter baie meer onrustig maak, is die slinkse manier hoe die wetskrywers met dié wet rasklassifikasie op die wetboek wil terugsit.
Ná die wet in werking tree, sal elke eienaar van private landbougrond deeglik moet rekenskap gee aan die Regering oor sy grondeienaarskap – binne 12 maande, aldus die huidige konsep. Die eiendomsverklaring moet die eienaar se ras, geslag en nasionaliteit insluit, asook die grootte en die gebruik van die landbougrond, en enige ander voorwaardes, lisensies of ander bepalings oor die grondgebruik.
En dit is net Suid-Afrikaners wat grond besit wat sal moet sê wat hul ras is. Buitelanders, wat ook so ’n verklaring sal moet maak, hoef nie te sê nie.
Ná die wet in werking tree, sal elkeen wat landbougrond koop ná die wet van krag word, binne 90 dae dié inligting aan die staat moet openbaar maak.
Buiten nou die onwelkome terugkeer wat rasklassifikasie in dié wet maak, wonder Manie ook oor hoe prakties dié idee is. Nie eens dreigemente van vervolgings en swaar boetes kon Gautengers oorreed om e-tol te betaal nie. Die SA Inkomstediens se vermoë om noukeurige inligting oor mense en maatskappye se verdienste te bekom, raak al hoe minder. Wat laat die slim mense by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming dink dat enigiemand vrywillig sulke vertroulike persoonlike inligting sommer goedsmoeds aan die staat gaan oorhandig? Boonop is dié departement nou nie juis ’n model van goeie administrasie nie. Erger nog, die staat beskik reeds oor ál hierdie inligting oor grondgebruik wat hy nou van sy belastingbetalers wil eis – in die sewe aktekantore wat oor die land versprei is.
Manie sal die vordering van dié wet met groot aandag volg.
DIE KWIK KLIM EN KLIM
Vanaf verlede Desember tot Februarie het Suider-Afrika sy warmste somer in die geskiedenis beleef, aldus prof. Francois Engelbrecht, klimaatkenner by die WNNR. Trouens, hy sê die afgelope drie jaar was dit telkens gemiddeld die warmste jaar nóg in Suid-Afrika.
Maar dit is nie net hier waar dit waargeneem word nie. Wetenskaplikes in Australië reken dit het tyd geword om dringend aandag te skenk aan die gesondheidsen ekonomiese gevare van hittegolwe. Volgens ’n verslag op die webwerf The Conversation word gewaarsku dat hittegolwe (soos wat Nieu-Suid-Wallis onlangs ondervind het) binne die volgende paar dekades gereeld regoor die land sal voorkom.
Middel Februarie was die temperatuur 47 ºC in Richmond, 50 km noordwes van Sydney, terwyl 87 brande in die staat gewoed het. Een dag se minimum temperatuur was 34,2 ºC – ’n nuwe rekord.
Nog ’n rekord: Die dorp Mungindi, aan die suidelike grens van Queensland, het temperature van
bo 35 ºC vir 52 agtereenvolgende dae ondervind. Dit alles ten spyte daarvan dat verlede jaar se El Niño reeds gewyk het en nie meer die weer beïnvloed nie. Wetenskaplikes sê dit vorm deel van ’n nuwe neiging waarin die tempo waarteen nuwe hitterekords opgestel word, die tempo van nuwe koue rekords met 12 tot 1 oortref.
Die wetenskaplikes skryf die onnatuurlike hitte deels toe aan kweekhuisgasse wat deur die mens aangeblaas word. Soos klimaatverandering toeneem, sal hittegolwe al vinniger op mekaar volg met katastrofies gevolge vir die landbou, elektrisiteitstoevoer en gesondheidsdientste. Hospitale sal al hoe meer noodgevalle en sterftes moet hanteer. Dit het al gebeur dat selfs spoorlyne weens die hitte buig en vervoer ontwrig.
’n Mens het nie veel verbeelding nodig oor wat nog verder verkeerd kan gaan nie.
Australiese staatsregerings en ander liggame stel dus nou bestuursplanne vir hittegolwe op, terwyl die weerburo’s voorspellingsdienste vir hittegolwe ontwikkel. Hulle besef dat wat nou as ekstreem beskryf word teen die 2030’s as die nuwe normaal beskou sal word.
Dan wil Manie liewer nie bly op ’n plek wat reeds warm en droog is nie. Maar kom ons hoop pogings om kweekhuisgasvrystelling te verminder werp vrugte af.
HOOR, HOOR, PROFESSORS!
“Goeie waarneming is gelyk aan ’n doktorsgraad.” Vir dié opmerking gee Manie volpunte vir prof. Danie Vermeulen, grondwaterkundige en deesdae dekaan van Kovsies se fakulteit natuur- en landbouwetenskappe.
Danie sê sy pa, ’n Namibiese boer, het dít vir hom geleer en hy glo dit is waarom ons boere vandag steeds oorleef: Hulle neem fyn waar en verstaan die natuur.
Sy probleem is dat te veel wetenskaplikes nie die natuur verstaan nie, want hulle sit in kantore agter rekenaars en leef en werk nie in die natuur nie. Hul modelle gee nie die regte antwoorde nie, want hulle voer die modelle nie met die regte inligting uit die natuur nie. Kom eerder in die buitelug om oplossings te soek vir die krisisse wat ons planeet bedreig, is prof. Danie se pleidooi. Die natuur vind altyd ’n manier om haarself gesond te maak, sê hy. Ons onderskat daardie vermoë en moet eerder daarop klem lê om ’n begrip hiervan te ontwikkel.
Prof. Danie sal weet waarvan hy praat: Voor hy op 43 jaar oud die akademie betree het, was hy jare lank ’n boorman, ’n tyd toe hy dag ná dag langs ’n boormasjien gesit het, en daarna vir ’n ruk heeltyds ’n boer. Vir ’n man met dié soort kennis maak hy nog ’n opmerking wat Manie redelik onthuts laat: Ná jare se navorsing het Suid-Afrika se grondwaterkundiges nou besef hulle het die land se hele grondwaterstelsel al die jare verkeerd bestuur. Hopeloos te min voorsiening is vir die aanvulling van diep akwifere gemaak.
Prof. Roland Schulze van KwaZulu-Natal en sekerlik Suid-Afrika se heel voorste waternavorser, stem saam met Danie: Suid-Afrikaners beskerm hulself heel doeltreffend teen koeëls en inbrekers, sê hy, maar nie teen klimaatverandering en waterskaarste nie. En dít in ’n droogtegeteisterde land met van die wêreld se hoogste verdampingskoerse.
’n Mens kan maar net die kop skud en opnuut herbesin oor wat jou voorrangsake behoort te wees. Waardeer dus die baie Suid-Afrikaanse landbouwetenskaplikes wat nog met hul voete op die grond en hande in die grond werk.
STERKTE, MNR. NKWINTI
Manie was nie verbaas dat die artikel oor die grondplafon-wet op Landbou.com groot belangstelling uitgelok het nie. Veral die bepaling dat buitelanders wat landbougrond besit het vóór die wet ingestel is, nie hul grond hoef te verbeur nie, maar dat geen buitelanders grond sal mag koop ná die wet van krag kom nie.
Waarop Neels du Preez op ons Facebook-blad sê: “Maar volgens die inheemse mense is ons (wit boere) almal uitlanders. So beteken dit ons hou ons grond?”
Lekker kopkrap, Minister!