Landbouweekblad

Skadunet se kleur speel rol in avokado-gehalte

- – JASPER RAATS

Hass-avokado’s wat onder blou en pêrelwit nette verbou word, lewer aansienlik beter uitpakpers­entasies as wanneer dit sonder net of onder rooi nette verbou word, sê prof. Dharini Sivakumar van die departemen­t plantweten­skappe aan die Tshwane Universite­it van Tegnologie.

Dit blyk uit navorsing wat Dharini en haar span in 2015 en 2016 gedoen het om die uitwerking van foto-selektiewe gekleurde skadunet op vruggroott­e, bemarkbare opbrengs, sonbrand, windskade, rypwordpat­rone en na-oesgehalte.

Sy sê die gehalte van avokado’s vir bemarking kan erg beïnvloed word deur hoë somertempe­rature, wind en soms hael.

“Die verhoogde oppervlakt­emperatuur van vrugte en hoër sonbestral­ing kan sonskade tot gevolg hê en die uitpakpers­entasie en bemarkbaar­heid van vrugte erg benadeel,” sê Dharini. Verslae uit die bedryf wys dat blootstell­ing aan hoër temperatur­e gedurende die groeifase variasies in rypwordpat­rone en die fermheid van vrugte tot gevolg het.

Dit is waarom al hoe meer avokadokwe­kers daaraan dink om, soos sitrusboer­e met sitrus, avokado’s onder nette te verbou.

Dharini waarsku egter dat boere die belangrikh­eid van die nette se kleur en digtheid in ag moet neem wanneer hulle nette span. Dit speel ’n groot rol in die veranderin­g van liggehalte wat deurgelaat word en die mikroklima­at onder die net.

Vir hul proefnemin­gs in die Agatha-omgewing by Tzaneen het die span Gemm-avokadoboo­rde onder 20% rooi leno- en 20% pêrelwit leno-nette toegespan. Daar is ook ’n blok onder 20% blou nette en ook knittex-nette toegemaak vir vergelykin­gsdoeleind­es en ’n kontrolebl­ok is oopgelos.

Die 20% skadunet het deur die bank die bemarkbare opbrengste verbeter. Die uitpakpers­entasie was egter aansienlik hoër in die blokke waar vrugte onder wit en blou nette gelewer is. Met die 2016-oes het daar veral meer vrugte van geskikte groottes vir kommersiël­e markte onder blou nette uitgekom, met wit nette ’n kort kop agter. Vrugte wat in oop boorde sonder bedekking gelewer is, was oor die algemeen kleiner in albei oesjare.

Dharini sê vrugte wat onder die blou nette en in die oop boorde geoes is, het vinniger ryp geword as vrugte wat onder die ander nette gelewer is, terwyl die rypwordpro­ses van die vrugte wat onder die rooi nette gelewer is, aansienlik vertraag is.

Verdere navorsing word nou gedoen om te sien watter invloed nette op die rakleeftyd van avokado’s het. “As ons ’n produk van ’n beter gehalte met net twee dae langer rakleeftyd kan lewer, is dit al die moeite werd,” sê mnr. Jannie Lombard, ’n avokadokwe­ker van Tzaneen op wie se grond die proefnemin­gs gedoen word.

 ??  ??
 ?? FOTO’S: VERSKAF ?? Die kleur van jou skadunet kan ’n beduidende rol in die uitpak-persentasi­e speel.
FOTO’S: VERSKAF Die kleur van jou skadunet kan ’n beduidende rol in die uitpak-persentasi­e speel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa