Landbouweekblad

Afrika se eerste vroue-hopboer

Me. Beverley-Anne Joseph (32) het onlangs die eerste swart, vroulike hopboer in Afrika geword. Sy het uitgebreid­e kennis oor hop en weet boerdery is die regte ding vir haar.

- NAVRAE: Me. Beverley-Anne Joseph, e-pos:

Hoe het jy by die hopbedryf betrokke geraak? Ek het op Grabouw grootgewor­d as een van sewe kinders. My pa het sy lewe lank in die landbou gewerk. My ouers kon my nie finansieel ondersteun om te gaan studeer nie en ek moes na beurse soek. Nadat die vrugte-en-wynboer dr. Paul Cluver my punte gesien en gehoor het wat ek uit die lewe wil hê, het hy gesê daar is geen manier dat hy my nié universite­it toe stuur nie. Ek het wingerd-en-wynkunde gaan studeer en in my tweede jaar ook ’n beurs by die Departemen­t van Landbou gekry. Ek het vir ’n paar maande by Paul Cluver-wyne gewerk en ook prakties op ’n tafeldruif­plaas op De Doorns gedoen. SAB het van my te hore gekom en my genooi vir ’n onderhoud om op die hopplase vir hom te gaan werk. Ek het geen idee gehad wat hop was nie en moes vreeslik oplees voor die onderhoud!

Wanneer het die gogga behoorlik gebyt? Die onderhoud was meer as tien jaar gelede. Terwyl ek navorsing gedoen het, kon ek niks oor hop kry wat in Suid-Afrika geskryf is nie. Alles was net oorsese inligting. Dit het my geprikkel, en vandag nog is hop my belangstel­ling.

Wat het jy toe vir SAB gedoen? Ek was tien jaar lank ’n hopteler. Ons het drie plaaslike aroma-hopkultiva­rs ontwikkel en beskikbaar gestel – African Queen, Southern Passion en Southern Aroma. Hop gee aan bier die kenmerkend­e bitter smaak, maar die afgelope tien jaar is aroma-hop met vrugtige geure ook baie gewild, veral onder vlytbrouer­s. Die afgelope twee jaar het ek ook as moutkonsul­tant vir SAB in Afrika-lande, soos Tanzanië, Uganda en Zambië, gewerk. Ek het verskrikli­k baie gereis in dié tyd – my dogtertjie het gedink my werk is op die lughawe!

Kon jy darem jou wynmaak-agtergrond gebruik? Ja, ek het baie daarop staatgemaa­k, veral om die geure van hopkultiva­rs te beskryf. Ek verkies steeds om wyn te drink. Hoewel ek bier drink en geniet, is ek nie ’n groot bierdrinke­r nie. En nou gaan jy boer. Vertel ons van jou plaas. Zelpy is ’n plaas by Waboomskra­al, George. Dit is sowat 50 ha groot met 20 ha hoplande. Ek het op 1 Maart oorgeneem. Ek is gereed vir hierdie avontuur, want ek wag al lank vir die geleenthei­d. Die plaas was op die mark en ek kon dit deur ’n rentevrye lening van die SAB Thrive-fonds koop. Absa het ook ’n deel gefinansie­r. As alles goed gaan, behoort ek dit binne ’n paar jaar te kan afbetaal. George is een van net vier plekke in die Suidelike Halfrond waar hop verbou kan word.

Gaan jy slegs met hop boer? Die plaas is tans baie verwaarloo­s en die onus rus op my om dit om te keer en winsgewend te maak. Ek gaan aanvanklik met 80% verbitteri­ngshop en 20% aroma-hop boer, maar ek wil in die toekoms graag meer aroma-hop plant. Hoewel die opbrengs laer is as dié van verbitteri­ngshop, verdien produsente premieprys­e vir aroma-hop. Ek ondersoek ook die moontlikhe­id om met konyne of eende te boer op die grond wat nie vir hop geskik is nie. Dit sal help met die kontantvlo­ei.

Hoeveel mense neem jy in diens? Daar is twee heeltydse werkers en in oestyd werk daar sowat 33 mense. My hoofdoel is om hul lewensomst­andighede te verbeter. Daar is baie grond op die plaas en ek wil vir die werkers daarvan gee om hul eie ondernemin­gs te begin, soos groenteboe­rdery. Ek sal hulle dan help om ’n afsetgebie­d daarvoor te vind. Al is dit klein, sal dit beter wees as dit wat hulle tans het.

Het jy ’n mentor? My pa, Morris. Hy het sy lewe lank in die landbou gewerk, eers met snyblomme en later met appels en pere. Hy gee my baie raad op die plaas, maar hy is ook altyd die een wat my motiveer. Ek wil meer soos hy wees.

Hoe ervaar jy dit om die eerste swart, vroulike boer te wees in ’n bedryf wat tot dusver net uit mans bestaan het? Ek werk al baie lank met hierdie produsente en moes hulle oor die jare raad gee. Ek ken ook almal se plase. Dit is dus glad nie vir my vreemd om nou langs hulle te boer nie. Ek is deel van hulle en weet hulle respekteer my. beverley3@gmail.com

 ??  ?? Me. Beverley-Anne Joseph ruik aan aroma-hop in ’n hopland. Sy was jare lank ’n hopteler, maar het onlangs op haar eie plaas begin boer.
Me. Beverley-Anne Joseph ruik aan aroma-hop in ’n hopland. Sy was jare lank ’n hopteler, maar het onlangs op haar eie plaas begin boer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa