Landbouweekblad

Die onnutsige Kassie

Corneels se grootmaaks­eun, Kassie, was ’n ondeunde kalant. Waar hy was, het die onheil maar altyd gebroei.

-

Op Grootvlei naby Kamieskroo­n het oom Corneels van der Westhuizen en sy vrou, Hettie, geboer. Hy was ’n gesiene man en lid van die voormalige afdelingsr­aad van Namakwalan­d. Dit was tydens die Depressiej­are en die boere was arm. Almal het swaargekry. Oom Corneels het hulle gehelp om teen twee sjielings per dag “op die paaie” te werk.

Corneels was ’n saaiboer en wyd bekend vir sy pragtige perde. Hy het ook muile geteel wat die boere by hom gekoop het. Sy oudste seun, Neels, het van jongs af die perde vir hom ingebreek. Sy grootmaaks­eun, Kassie, was ’n ondeunde kalant wat saam met Neels grootgewor­d het. Corneels se skoonsuste­r het gesterf met Kassie se geboorte toe Neels skaars ses maande oud was. Hettie het die twee seuns as ’n tweeling grootgemaa­k.

In hul grootwordj­are het Corneels sy hande vol gehad met die twee vabonde, want met Kassie, die voorbok, het daar altyd onheil gebroei. Hulle het gereeld streepsuik­er gekry, maar Neels het nooit gaan klik nie.

Onder uit die Sandveld het oom Joos Koelenberg baie wavragte kaf vir sy trekdiere kom haal as hulle die jaar nie ’n oes gemaak het nie. Hy het dan op Neels en Kassie se bed geslaap en vir hulle is ’n grondkooi gemaak. Hulle het gou agtergekom dat die oom vreeslik kan snork dat selfs die honde begin blaf.

’N GESNORK VAN DIE EERSTE WATER

Een jaar kort voor die “groot dae” het oom Joos weer met sy muilwa kom kaf haal, maar dié keer wou hy ook ’n ryperd koop. By die stalle het hy die perde deurgekyk en op die groot bruinkol-hings besluit. “Jy het reg gekies, neef, want Ligman is die enigste perd wat jou gewig kan dra.”

Die aand ná boekevat sê Joos: “Neef Corneels, ek het my kooigoed saamgebrin­g. Ek gaan slaap sommer by die kafhok.”

Die seuns het verlig na mekaar gekyk, maar hul pa het heftig sy kop geskud. “Nee, neef Joos, jy slaap weer in die kinders se kamer. Hettie het klaar jou kooi vir jou reggemaak.”

Terwyl die grootmense nog ’n koffietjie drink, kom Kassie met ’n gawe plan. “Neels, vanaand snork ek die ou man uit ons kamer uit . . . Speel jy net saam en vertel hom al wat ’n storie is.”

Toe oom Joos later kom lê, trek hy uit en blaas die kers dood. Kassie begin eers saggies te snork en later ál harder. “Neelsie, druk dan die man ’n bietjie aan.”

“Nee, Oom, dit moet ek nie doen nie, want dan vererger ek net die besigheid. Ek sal hom liewer probeer omdraai.”

In sy slaap mompel Kassie ’n paar woorde en toe hervat hy met mening. Oom Joos steek later die kers op. “Ou Neels, wat het die man oorgekom, want laas keer het hy niks gesnork nie?”

Neels besef hy moet vinnig ’n storie prakseer. “Oom, toe ons laas jaar op Brakkies gaan tamaties pluk het, het hy mos aan die slaap geraak en van die wa afgeval.”

Met sy kop op sy hand gestut, het Joos nog ’n tydjie na Kassie se snorkery geluister. “Magtig, Neels, dit klink mos soos ’n kapater wat jy sleg keelaf gesny het. ’n Mens kry dan dood se gedagte! Ek het genoeg kooigoed saamgebrin­g. Jy kan saam met my by die kafhok gaan slaap, want g’n mens kan verdomp saam met dié man slaap nie.”

Ná oom Joos die volgende dag weg is, vra hul pa die aand aan tafel: “Wanneer het Kassie dan van die wa afgeval, want oom Joos het my aangeraai om hom so gou as kan by ’n dokter te kry?” Hulle het onthuts na mekaar gekyk en toe met die volle waarheid vorendag gekom.

NAMAKWALAN­D SE ‘SUPERPERD’

Onder die Kamiesberg­e het Corneels se swaer, Alexander Roux, geboer. Sy plaas was waterryk en daar was baie vrugte en wingerd. Elke jaar het hy vir hom witblits gestook en gesorg dat hy nooit sonder brandstof raak nie. Hy was ’n parmantige klein mannetjie met ’n vinnige humeur wat deur die vuurwater aangehelp is. Hy was brêkerig met sy perde, maar Corneels was die perdekonin­g – hy het sy hingste uit die Boland laat kom.

Alexander was trots op sy swart merrie met haar wit agterpoot. Haar naam was Klinkvoet en dit het gelyk of sy oor die aarde sweef. Wat ’n pragtige dier was sy nie! Alexander het vir almal wat by hom aangekom het, vir Klinkvoet gaan wys.

Toe Klinkvoet ’n volwasse perd raak, het hy swaer Corneels gevra of hy sal omgee dat Corneels se hings Klinkvoet dek. Corneels het ingewillig: “Swaer, as sy weer op hitte kom, bring jou perd Grootvlei toe, want my perde bly op my werf.”

Een Sondagogge­nd het oom Corneels sy perdewa ingespan om na Kamieskroo­n se kerk te ry. Neels en Kassie moes agterbly om die werf op te pas. Oom Corneels was ’n streng man en hy het hulle ge-order: “Kyk, kêrels, julle weet mos hoe beneuk is die twee hingste.” Neels en Kassie knik. “Vat eers die donkiehing­s water toe. Laat hom suip en sit

Kassie lê agteroor soos hy rem, maar Jakob se bek is wawyd oop en hy rek sy treë.

hom weer op stal voor julle Steyn water toe vat, want as hulle baklei, kan die donkiehing­s my perd seermaak.”

Hy kyk na Neels. “Onthou, Alexander sal op ’n dag vir Klinkvoet bring sodat Steyn haar kan dek. As ek dalkies nie hier is nie, moet julle die twee perde saam in die klipkraal sit.”

Met dié woorde het hy sy kerkhoed opgesit en die leisels losgemaak.

Die perdewa was skaars oor die bult, toe kom die onhebbelik­e Kassie met ’n blink gedagte. “Ou Neels, vanoggend wil ek hierie befoeterde donkiehing­s riem in die bek sit en op hom klim en al sy geite uit hom neuk.”

Neels skud sy kop toe hy sien hoe rats Kassie bloots op Jakob se rug spring en sambok inlê. Jakob spring en skop, maar Kassie sit asof sy stert vasgegom is. Neels verlustig hom in die toneel. Die verdomde donkiehing­s het al baie perde seergemaak, maar niemand het dit al ooit gewaag om hom op te klim nie. Jakob spring desperaat die lug in. “Neuk die vuiles!” hits Neels die ruiter aan.

Toe Jakob se asem later begin jaag en die stoom uit sy lyf trek, skree Neels vanaf die kraalmuur: “Ou Kasman, nou het jy hom ordentlik gefoeter. Ek is seker hy sal nie gou weer na ’n merrie se kant toe loer nie. Vat hom maar water toe.”

Die natgeswete Jakob draf hondmak en uitasem na die waterkamp toe Neels die hek oopmaak. ’n Flou oostewindj­ie begin stoot toe Neels in die stal Jakob se hawergerf met die sekel fynkerf. Hy skrik toe hy ’n perd hoor runnik. Hy loer by die staldeur uit en sien ’n man in die pad met ’n perd aankom.

Jakob spits sy lang ore en toe hy die perd sien, begin hy te balk. Dis asof daar skielik lewe in Jakob kom en Kassie sukkel om die donkiehing­s in toom te hou. Die oostewind moes vir Jakob die goeie tyding aangedra het, want skielik trek hy sy ore plat en begin na die vreemde perd toe hol. Kassie lê agteroor soos hy rem, maar Jakob se bek is wawyd oop en hy rek sy treë. Die mannetjie wat die swart merrie lei, skrik vir die donkie se oopgesperd­e bek. Bevrees los hy die halterriem en verdwyn tussen die ysterhoutb­ome.

Kassie sien hier kom moeilikhei­d toe die merrie omdraai en Jakob verwoed teen sy bors skop. Kassie spring verboureer­d van die donkie af en hol vir die kraalmuur. Die geveg is van korte duur en die twee plaaswagte­rs sit magteloos op die kraalmuur en kyk hoe Klinkvoet met die verbode vryer oor die tou trap. Toe die paartjie eindelik rustig raak, word Klinkvoet saam met Steyn in die kraal gesit. Neels en Kassie sweer trou dat dié petalje ’n geheim sal bly.

Ná ’n paar maande was Alexander in die wolke toe hy sien Klinkvoet is dragtig. Hy het breëbors aan almal vertel van die “superperd” wat gebore gaan word soos Namakwalan­d nog nie gesien het nie.

Oom Corneels stap een oggend vroeg stalle toe om sy perde te gaan voer gee. Hy draai sy kop dwars en luister. Dis wraggies ’n mouter wat hy hoor. Hy glimlag. Dit kan net Alexander s’n wees. Hy kom vertel seker van Klinkvoet se vulletjie. Corneels is self opgewonde toe hy Alexander se Whippet herken wat vinnig die werf nader. Hy stap nader om sy swaer nader te nooi.

Hy steek vas toe Alexander uitspring, die mouter se deur hard toeslaan en teen hom begin uitvaar. “Ek het nie geweet, Corneels, jy is so inhalig en gemeen nie. Jy is mos ’n bedrieër . . . skynheilig . . . kamtig ’n kerkmens, en kyk wat doen jy aan my? Skaam jy jou nie? Om dít aan my te doen? Jou eie bloedswaer wat elke Krismis vir jou ’n bottel witblits gee!”

Hettie ruk die voordeur oop toe sy die rumoer buite hoor. Sy steek haar hand op en vra kortaf: “Alexander, waaroor gaan jy so tekere? As jy nie ordentlik kan praat nie, voertsek jy van ons werf af!”

Dis asof die rooigevree­t-mannetjie ontplof. “Jy vra nog? Daardie vroom man van jou het my gruwelik verneuk. Klinkvoet het ’n bleddie eselvul!”

Corneels stap kalm nader en gaan staan voor Alexander. “Kyk, swaer, jy het nou goed bors skoongemaa­k. Moenie soos ’n mal mens tekere gaan nie. Ek is spyt oor wat jy oorgekom het, maar ek was nie daardie Sondag by die huis toe jy die perd gestuur het nie. Ek sal by die kinders uitvind wat daar gebeur het.”

Laat die middag toe Neels en Kassie uit die veld kom, is hulle voor stok gekry en het hulle met die hele sak patats vorendag gekom. Die aand toe die grootmense gaan inkruip, blaas Hettie die kers dood. In die donkerte raak Corneels onverwags aan die lag. “Waaroor lag jy?” vra ant Hettie verbaas. “Ai, ou vrou, ek weet die kinders het ’n fout gemaak, maar ek sou graag Alexander se gesig wou sien toe hy by Klinkvoet kom en sien dis ’n eselvul.”

Hy bly ’n tydjie stil en later sê hy ewe droog: “Nou’s ek seker ook my Krismispre­sentjie kwyt!”

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Dié storie is ’n oorspronkl­ike verhaal.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa