Landbouweekblad

Hou op skinder

- ANGUS GESELS ANGUS BUCHAN

Ons Here Jesus Christus het ’n mooi voorbeeld gestel oor hoe om teenoor vriende op te tree wat ’n fout gemaak het.

Die Here Jesus wil nie hê sy kinders moet stories aandra nie, want die gif raak drie mense: die mens wat die storie vertel, die een wat daarna luister en die een oor wie dit gaan. Die laaste ding wat ons nou in Suid-Afrika nodig het, is mense wat pessimisti­ese praatjies verkondig. Sommige van ons is só pessimisti­es dat die duiwel self nie eens hoef te werk nie. Ons moet leer om ons tonge in toom te hou. As jy niks goeds het om oor iemand te sê nie, sê eerder niks.

Dit is beter om jou medemens te beskerm as om hom aan die kaak te stel. Dink aan een van Noag se wyse seuns wat ’n mantel (kombers) oor sy pa gegooi het toe hy ontbloot gelê het. Een van die goeie dae gaan ek en jy ’n fout begaan. Dan gaan ons ons vriende nodig hê om ons te beskerm pleks van om ons te ontmasker. Ons moet oor niemand kwaad praat nie.

As ons dan regtig iets het om te sê, gaan liewers na daardie mens toe en praat reguit met hom. Hanteer die probleem en stel dit reg pleks van om agter sy rug met ander mense daaroor te praat. Ons Here Jesus Christus het ’n mooi voorbeeld gestel oor hoe om teenoor vriende op te tree wat ’n fout gemaak het.

In hierdie onstuimige tye waarin ons leef, het boere vriende nodig, nie vyande nie. Ons moet saamwerk, mekaar help en mekaar se beeld opbou pleks van om mekaar af te takel. Ons moet eerder die balk uit ons eie oog haal voor ons die splinter uit ons broer se oog haal.

Ja, natuurlik moet ons sonde, korrupsie, swak boerderyme­todes en swak houdings openbaar maak. Kom ons wees egter mans genoeg om die situasie te erken en die betrokke mens trompop te loop. Hopelik wen jy ’n vriend daardeur. Moenie ’n lafaard wees en agter sy rug met almal in die distrik oor hom gaan praat sonder om hom te probeer help nie.

Mag God julle seën terwyl julle ambassadeu­rs vir Hom is.

Lekker boer.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa