Só raak wet jou inkomste en batevervreemding by sterfte
Onlangse veranderings aan die Inkomstebelastingwet raak veral veeboere. In hierdie artikel kom die uitwerking van hierdie veranderings op inkomstebelasting en kapitaalwinsbelasting, en die vervreemding van hul bates by afsterwe, onder die vergrootglas.
In Suid-Afrika word individue en maatskappye wat by boerderybedrywighede betrokke is, ingevolge artikel 26 van die Wet op Inkomstebelasting (Wet 58 van 1962) belas.
Artikel 26 (1) lui dat die belasbare inkomste van enige persoon wat by veeteelt-, landbou- of ander boerdery-bedrywighede betrokke is, (sover die inkomste uit sodanige bedrywighede verkry word) bepaal sal word in ooreenstemming met die wet, onderhewig aan die Eerste Skedule. Die Eerste Skedule handel met die berekening van belasbare inkomste verkry uit veeteelt-, landbou- of ander boerderybedrywighede. Die definisie van “persoon” sluit in hierdie geval ’n natuurlike persoon (wat alleen of in vennootskap boer), ’n bestorwe boedel, ’n insolvente boedel, ’n maatskappy, ’n beslote korporasie of ’n trust in.
Die Eerste Skedule is van toepassing ongeag of ’n belastingbetaler ’n vasgestelde verlies of ’n belasbare inkomste uit boerderybedrywighede verkry.
Om binne Skedule 1 te val, moet ’n boerderybedrywigheid die belastingbetaler se beroep wees en moet die oorkoepelende bedoeling wees om wins te maak.
Die algemene reël is dat daar van alle boere, waaronder maatskappye wat by boerdery betrokke is, vereis word om in hul belastingopgawe die waarde van die vee in te sluit wat aan die begin en einde van elke jaar van aanslag gehou word.
Sodra ’n dier as lewende hawe geklassifiseer is, moet enige koopsom wat ontvang of verkry is wanneer dit van die hand gesit word, by die boer se bruto inkomste ingesluit word, ongeag of die dier as vaste kapitaal of bedryfskapitaal bekom is.
STANDAARDWAARDE SÓ BEPAAL
Paragraaf 2 van Skedule 1 bepaal dat elke boer in die opgawe wat hy vir inkomstebelastingdoeleindes indien, die waarde van alle lewende hawe of produkte moet insluit wat hy aan die begin en einde van elke jaar van assessering hou en nie van die hand sit nie.
Paragraaf 3 bepaal dat die waarde van lewende hawe of produkte wat aan die einde
van die jaar van assessering gehou word en nie van die hand gesit word nie, ingesluit moet word by die inkomste vir die betrokke jaar van assessering, terwyl die waarde van lewende hawe of produkte wat aan die begin van die jaar van assessering gehou en nie van die hand gesit is nie, as ’n aftrekking van die inkomste toegelaat sal word.
Paragraaf 5 bepaal dat die waarde van lewende hawe die standaardwaarde is wat op lewende hawe van toepassing is.
Die standaardwaarde wat op enige klas van lewende hawe van toepassing is, word in paragraaf 6 gedefinieer, en is een van die volgende: Die standaardwaarde soos vasgestel vir daardie klas van lewende hawe deur regulasies wat volgens hierdie wetgewing bepaal is. Sodanige ander standaardwaarde wat die boer vir daardie klas van lewende hawe aanneem wanneer hy sy eerste inkomstebelastingopgawe indien op of na die genoemde datum met betrekking tot boerderybedrywighede, of wanneer so ’n klas van lewende hawe vir die eerste keer by enige belastingopgawe ingesluit word. In die geval van ’n oorledene se maatskappy of boedel, sodanige ander standaardwaarde as wat die maatskappy of eksekuteur van die boedel vir elke unieke geval aanneem vir daardie klas van lewende hawe wanneer genoemde inkomstebelastingopgawe ingedien word. Dit is belangrik om kennis te neem dat paragraaf 6(2) bepaal dat geen standaard-
waarde wat onder paragraaf (b) of (c) hierbo aangepas is, met betrekking tot enige klas van lewende hawe, meer as 20% hoër of laer mag wees as die standaardwaarde soos dit deur die regulasies ingevolge die wetgewing vir die betrokke klas lewende hawe bepaal is nie.
LET OP DIÉ BEPALINGS
Die belangrikste bepalings van die wet wat die betaalbare inkomstebelasting van produsente van lewende hawe bepaal, is: Alle boere, waaronder maatskappye wat boerderye bedryf, moet die waarde van hul lewende hawe aan die begin en einde van elke jaar van assessering by hul belastingopgawes insluit. Die waarde van lewende hawe in besit aan die einde van die jaar van assessering (“eindvoorraad”) word ingesluit by die inkomste en die waarde van lewende hawe in besit aan die begin van die jaar van assessering (“beginvoorraad”) en word as ’n aftrekking van die inkomste toegelaat. Die waarde van lewende hawe sal die standaardwaarde wees wat op lewende hawe van toepassing is. Die standaardwaarde van lewende hawe is gewoonlik een van die volgende:
Die standaardwaarde van daardie klas lewende hawe soos deur regulasies ingevolge die wetgewing vasgestel. ’n Ander standaardwaarde wat deur die boer (of maatskappy of eksekuteur van die boedel) aangeneem is toe ’n spesifieke klas van lewende hawe die eerste keer aangeskaf is, mits sodanige waarde binne 20% is van die standaardwaardes soos vasgestel in die regulasies of deur die kommissaris goedgekeur is. Die aftrekking van uitgawes wat in die jaar van assessering aangegaan is vir die verkryging van lewende hawe, wat ingevolge Artikel 11(a) teen kosprys toegelaat word, is beperk. Die beskikbare aftrekking is beperk tot die som van die inkomste wat van boerderybedrywighede ontvang en aangewas is, plus die waarde van lewende hawe in besit aan die einde van die jaar van assessering minus die waarde van lewende hawe in besit aan die begin van die jaar van assessering.
Enige bedrag wat nie as ’n aftrekking toegelaat word nie, sal oorgedra word na die daaropvolgende jaar van assessering en sal as uitgawes vir daardie jaar geag word.
ONREALISTIESE WAARDES
Die meeste boere weet nie dat hulle elke jaar die waarde van hul lewende hawe in hul belastingaanslag moet insluit nie.
Die standaardwaardes wat op die belastingaanslag getoon word, is veronderstel om werklike waardes van die verskillende diere te weerspieël. Daarom sal ’n mens aanneem dat daardie waardes jaarliks aangepas sal word.
In werklikheid is daardie waardes al geruime tyd nie aangepas nie, met die gevolg dat ons nou standaardwaardes het wat baie onrealisties is en nie die werklike waarde van die diere weerspieël nie. Hierdie situasie geld ook boere wat hul eie standaardwaarde gekies het aangesien hierdie waarde binne 20% moet wees van die standaardwaardes.
Weens die groot verskil tussen mark- en standaardwaarde kan daar ’n implikasie wees wanneer ’n boer se belastingaanspreeklikheid bereken word (sien TABEL 1 ).
GEVOLGTREKKING
Die belangrike punte om oor na te dink na aanleiding van die bespreking en die voorbeelde hierbo, kan as volg opgesom word: Die meeste boere weet nie dat hulle die standaardwaarde, of ’n waarde binne 20% van die standaardwaarde, van lewende hawe in hul besit op hul inkomstebelastingaanslag moet invul nie. By afsterwe word alle lewende hawe wat nie aan ’n langslewende huweliksmaat bemaak is nie, beskou as dat dit teen markwaarde van die hand gesit is. Die verskil tussen die standaardwaarde en markwaarde van lewende hawe sal ’n aansienlike belastinglas meebring wat deur die eksekuteur van die boedel betaal moet word. Dit hang klaarblyklik af van hoeveel lewende hawe die boer op sy/haar naam gehad het. Volgens huidige wetgewing is ’n goeie oplossing vir bostaande om lewende hawe aan die langslewende huweliksmaat te bemaak. Dit is egter nie altyd die geval nie. Elke boer moet met sy/haar finansiële beplanner praat en ’n deeglike boedelbe- planningsoefening doen. As die oplossing hierbo nie lewensvatbaar is nie, kan lewensversekering ook op die boer se lewe uitgeneem word met sy of haar boedel as die begunstigde.
Johan Rogers is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by Geonet Consulting (geaffilieer by die Liberty-groep). Navrae: Sel 083 404 4728.