Tegnorevolusie in die landbou is hier
Die landbou staan midde-in ’n inligtings- en tegnologierevolusie wat boerdery ’n enorme hupstoot gaan gee, wat broodnodig is om die groeiende wêreldbevolking te voed.
Die landboubedryf sal moet uithaal en wys as hy in die komende dekades grootskaalse hongersnood wil voorkom. Dit is egter nie net die boere wat alles in die stryd moet werp om groter oeste te lewer nie. Landboumaatskappye moet die nodige tegnologie in die vorm van verbeterde kultivars, werktuie en ander tegnologie, soos selfoontoepassings, ontwikkel om boere in staat te stel om dié formidabele taak aan te pak.
Dié maatskappye werk inderdaad hard agter die skerms om nuwe tegnologie te ontwikkel. Landbouweekblad het met verskeie leiers van die landboureus Monsanto gesels oor wat boere kan verwag.
DOELTREFFENDER BENUTTING
Mnr. Robert Fraley, internasionale hoof van tegnologie, sê die landbou se rol om genoeg voedsel aan elke mens te lewer, was nog nooit so belangrik soos nou nie. In die proses moet boere metodes volg wat die natuurlike hulpbronne, soos grond en water, doeltreffender benut. “Ons werk aan tegnologie, soos gevorderde kultivars en gewasbeskerming, waarmee die boer probleme, soos onkruid, insekte, siektes en veranderende klimaatstoestande, kan oorkom.”
Die samesmelting van Monsanto en Bayer bied nuwe moontlikhede aan boere oor die wêreld heen danksy versnelde navorsing en ontwikkeling, nuwe oplossings vir die landbou se toekoms en méér dienste aan boere.
Mnr. Kobus Steenekamp, besturende direkteur in SuidAfrika, sê die samesmelting behoort vroeg volgende jaar afgehandel wees. “Die gekombineerde pogings ten opsigte van navorsing, produkkombinasies en produkpakkette hou groot voordele vir boere in. Waar ons nou afsonderlik navorsing doen, kan die gekombineerde poging beter resultate meebring.
“Die wetenskap stel ons in staat om nuwe oplossings vir boere te vind. Boere moet basies 40 sleutelbesluite in die groeityd van hul gewasse neem. Ons werk aan nuwe oplossings om boere in staat te stel om suksesvolle oeste te behaal,” sê hy.
Hul navorsing is toegespits op vyf terreine van landbou tegnologie, naamlik inligtingswetenskap, plant teelt, plant biotegnologie, gewasbeskerming en landboubiologie, wat volhoubare landboupraktyke ondersteun om die spoor van landbouproduksie te verminder, om beter oeste te behaal, om oeste teen toenemende bedreigings te beskerm en om landbouproduksie voortdurend te verbeter.
KLEINER SPOOR
Die landbousektor is wêreldwyd onder druk weens die groei in stedelike bevolkings en omgewingskwessies, sê Robert. Daarom moet boere maniere vind om die impak op natuurlike hulpbronne te verminder, terwyl hulle genoeg voedsel op die bestaande landbougrond moet lewer. Groter oeste verg nie méér grond nie, wat die vrylating van kweekhuisgasse in toom hou en woude beskerm.
Navorsing en ontwikkeling wat vanjaar in die kollig is, is die BioAgalliansie tussen Monsanto en Novozymes wat op mikrobiese oplossings toegespits is. Hul BioYieldplatform werk aan nuwegenerasieprojekte om opbrengspotensiaal te verbeter deur gewasse te help om voedingstowwe in die grond doeltreffender te benut.
Met die Climate FieldViewplatform kan boere inligting van veelvuldige bronne, waaronder die grond en atmosfeer, versamel en ontleed sodat hulle hul plase maksimaal kan benut. “Daarmee kan boere méér ingeligte besluite oor saad, plant, bemesting en vrugbaarheid neem.”
HigherYieldingmielies is ’n groep mieliekultivars met eienskappe wat die opbrengspotensiaal verhoog. Dit word tans ontwikkel.
Boere kom elke seisoen voor die druk van insekte, onkruide, siektes en die omgewing te staan, wat oesverliese op die land en ná die oes kan veroorsaak. Die klimaat kan die druk verder verhoog.
Robert sê een aspek van Monsanto se navorsing sluit in breë, geïntegreerde oplossings vir siektes wat die opbrengs beperk, asook die identifisering en voorspelling van gewasse se vatbaarheid vir siektes en die diagnosering van sleutelsiektes. Dit sal by Climate FieldView gevoeg word. Verder is daar sterk klem op plantteling om die uitwerking van siektes op rygewasse en groente te verminder en die bestuur van siektes gedurende kritieke groeistadiums te verbeter.
Hulle werk ook hard aan nuwe metodes om siektes en onkruide te bekamp, waaronder Bollgard® 3 XtendFlex®-katoen en vierdegenerasiemielies wat teen onkruiddoders bestand is.
VERBETERING VAN PRODUKSIE
Die landbousektor moet ook nuwe produksiemetodes ontwikkel om méér voedsel op bestaande grond te lewer. Monsanto doen gevolglik navorsing oor nuwe produkte, soos die gesondheid van heuningbye, wat belangrik vir bestuiwing is. Bye word deur die Varroa-myt bedreig en die maatskappy werk aan ’n biologiese benadering om dié bedreiging die hoof te bied.
Om boere te help om hul produktiwiteit deur digitale instrumente te verhoog, werk hulle aan die uitbreiding van die Climate FieldView-platform in talle lande, wat Suid-Afrika in die komende jare sal insluit.
Die bestryding van aalwurms geniet ook aandag deur die voortdurende verbetering van NemaStrike-tegnologie deur middel van saadbehandeling.
PRESISIEBOERDERY
Mnr. Daniël Kruithoff, bemarkingsbestuurder vir Asië en Afrika, sê boere se groot uitdaging om méér voedsel op minder grond te lewer, kan met presisieboerdery vermag word. Alle boere, groot en klein, speel ’n rol in voedselproduksie en -sekerheid.
Sowat 67% (5 miljard mense) van die wêreldbevolking woon in Asië, Afrika en die Stille Oseaan-gebied. Nagenoeg 83% van die wêreld se 570 miljoen boere woon in Afrika en Asië, maar hul grond beslaan gemiddeld minder as ’n hektaar. Ondanks al dié boere is dit ook die wêrelddele waar die meeste hongersnood voorkom. Intussen lyk dit of aardverwarming opbrengste in die meeste dele van Afrika en Asië gaan laat daal.
Die landbou staan midde-in ’n inligtingsrevolusie. Daniël sê toepassings op selfone stel boere in staat om in ’n japtrap doel-
treffende besluite oor hul gewasse te neem. Sulke toepassings help hulle ook met die bemarking van hul oeste om die hoogste pryse te behaal.
’n Nuwe toepassing wat die boer in staat stel om sy plaasdata te integreer, Climate FieldView Plus, word reeds voluit in Amerika gebruik om plaasdata oor oes, plant en bespuiting te integreer.
Die eerste proeflopies in Suid-Afrika word by 15 boere gedoen. ’n Boer kan byvoorbeeld op sy iPad sien hoe groot die oes is terwyl die stroper dit insamel. Daarmee kan hy ook plantsiektes 90-95% akkuraat diagnoseer. Dit word ook aan oesdata gekoppel. As die boer sien die opbrengs op ’n deel van ’n land is laag, kan hy die stroper laat stop om na die plante te kyk en ontledings doen, sê Daniël.
As hy reeds vroeër ’n plantsiekte geïdentifiseer het, kan hy op die plek sien watter uitwerking dit op die oes het.
VERNUWINGS
Mnr. Pieter Smit, bemarkingsbestuurder vir saad en biotegnologie, sê in 1950 was daar wêreldwyd 0,5 ha bewerkbare grond per persoon beskikbaar, in 2000 het dit tot 0,25 ha gedaal en in 2050 sal dit net 0,15 ha wees. “Dit is hoekom ’n reeks geïntegreerde landbou-oplossings noodsaaklik vir die landbou is om méér voedsel op minder grond te lewer, naamlik ’n kombinasie van genetika en biotegnologiese en biologiese (natuurlike) produkte waarmee boere presisieboerdery en gewasbeskerming kan toepas.”
Daar is talle vernuwings wat boere
kan help om water beter te benut. Een daarvan is droogteverdraagsame mielies wat ontwikkel word deur biotegnologie.
Die doel is om boere te help om stres weens droogte makliker te hanteer en opbrengsverliese te verminder. Monsanto het al in 2013 ’n droogteverdraagsame mieliebaster in Amerika bekend gestel. Suid-Afrika het reeds ver gevorder met die kommersiële beskikbaarheid van hierdie tegnologie en die droogtegeen word vanjaar vir registrasie by die registrateur vir Biotegnologiese Produkte ingedien sodat dit ná ongeveer twee jaar geregistreer en aan boere verskaf kan word.
SOJABOONTEGNOLOGIE
Tans het boere slegs toegang tot die vorige generasie RR- (Roundup Ready) tegnologie, wat druk plaas op die ontwikkeling en bekendstelling van nuwe genetiese eienskappe by sojabone. Die nuwe generasie RR-tegnologie, asook tegnologie wat weerstand teen insekte by sojabone bied, word ondersoek. Dit sal in ideale toestande ook vir plaaslike boere beskikbaar gestel kan word.
Vorentoe sal saad met beskerming teen onkruiddoder met ’n ander aktiewe bestanddeel, dikamba, beskikbaar word. Dit is ’n breëblaaronkruiddoder en sal Roundup (glifosaat), ’n breëspektrumonkruiddoder, aanvul om Suid-Afrikaanse boere in staat te stel om onkruide nóg doeltreffender te bestry. Dus sal kultivars met weerstand teen twee aktiewe bestanddele in onkruiddoders beskikbaar wees. Die tegnologie sal later ook in mielies beskikbaar wees.
Ter wille van natuurlike plantbeskerming toets Monsanto produkte wat gewasse se groei sal verbeter deur siektes doeltreffend te beheer en voedingstowwe maksimaal te benut.
DIGITALE BOERDERY
Pieter gesels ook oor digitale boerdery. Daarmee bedoel hy dat alles in die landbou digitaal gemeet kan word. Sulke tegnologie behels onder meer planters wat boere in staat stel om uiters akkuraat te plant, stropers wat elke vierkante meter van ’n land se opbrengs meet, toerusting wat bemesting volgens opbrengskaarte afwisselend volgens behoefte toedien, en sensors wat bepaal hoeveel vog in die grond is. “Dit is belangrik dat al die inligting op een platform saamgetrek word om goeie, oordeelkundige besluite te neem. Die volgende vernuwings op dié vlak behoort in die nabye toekoms plaaslik beskikbaar te wees.”
Nuwe digitale ontwikkelings vir die toekoms sluit selfs tegnologie in, soos Intelliscout, wat die plantestand op ’n mielieland bereken, pitte op ’n kop tel en dan die potensiële oes akkuraat beraam. Dit sal ook siektes en voedingstekorte waarneem.
Satelliettegnologie maak baie van die nuutste ontwikkelings in die plant, grootmaak en oes van gewasse moontlik.
Nou is daar ’n verdere ontwikkeling, naamlik trekkers wat hulself bestuur. (Sien “Selfrytrekker die toekoms?”, LBW, 7 Oktober 2017.) Dié prototipe trekker van Case IH is bestuurderloos en gekoppel aan toerusting wat dit vanself na die land bestuur om daar te gaan werk. Die aanboordstelsel maak outomaties vir toerustingwydtes voorsiening en werk die beste roetes uit na gelang van die terrein, versperrings en ander werktuie wat op dieselfde land gebruik word.