Grondkwessie: Kyk na die konteks vir oplossing
Hoeveel grond besit wie? Dit hang af met wie jy praat. Navorsing wat deur Landbou.com en Johann Bornman van Agri Develpment Solutions gedoen word en wat kyk na grondverkope by die aktekantoor het ‘n paar verrassende statistiek aan die lig gebring.
‘Die kwessie van die migrasie van die bevolking, asook die veranderde rol van die landbou kan nie anders nie as om middein die behoeftestelling na en aanwending van grond in die land te staan.’
IN SUID-AFRIKA word die gronddebat hoofsaaklik gegrond op sentiment, emosie, politiek en meestal bedenklike sienings wat maklik in verdraaide waarhede omgetower word. “Dít is kwalik ’n manier om tot ’n werkbare antwoord vir die probleem te kom,” sê mnr. Johann Bornman van Agri Development Solutions (ADS).
Bornman doen ’n grondoudit met die samewerking van Landbou.com. Dit bring interessante inligting aan die lig. Bornman het 34 994 grondtransaksies vanaf 2010 tot 2016 in SuidAfrika bekyk. Dié transaksies het 17 669 994 hektaar behels wat teen R206,8 miljard verkoop is.
Daaruit blyk dit dat swart mense wel landbougrond koop, maar kleiner stukkies grond verkies in distrikte wat tradisioneel deur swart mense bewoon is.
Die oudit wys op sekere kooppatrone by swart mense wat landbougrond vanaf 2010 tot 2016 gekoop het. Dit dui aan dat swart kopers hulle veral toespits op grond in Mpumalanga, Limpopo, die noordooste van KwaZulu-Natal, die oostelike deel van die Oos-Kaap, en Rustenburg en Marikana in Noordwes. Talle transaksies vind ook in Gauteng by stede plaas.
Bornman sê dié neiging toon ’n groot ooreenkoms met waar mense van kleur hulle geskiedkundig gevestig het.
Voorts koop mense van kleur kleiner stukkies grond – kleiner as 50 hektaar – in dié gebiede of rondom dorpe. Uiteraard betaal hulle meer vir dié grond.
SWART KOPERS VERKRY 17% VAN LANDBOUGROND
Bornman sê inligting van die aktekantoor wys dat swart mense (oftewel mense van kleur) verantwoordelik was vir 17,1% van die aankope van landbougrond in daardie tyd (sien ook “Swart kopers koop 17% van grond in SA”, LBW, 24 Februarie 2017). In dié 5 886 transaksies is R44,9 miljard vir 3,034 miljoen hektaar betaal. In dieselfde tyd het die Regering slegs 7,6% of 1,354 miljoen hektaar van die landbougrond gekoop. Dit beloop 1 338 transaksies van R9,576 miljard. Die Regering het ook 1% van die landbougrond vir stedelike of dorpsontwikkeling gekoop.
Volgens Bornman het aankope van landbougrond deur die Regering in 2011 ’n hoogtepunt bereik toe 460 487 hektaar gekoop is, maar dit het in 2016 tot die koop van 76 735 hektaar gedaal. Private aankope van grond het in 2013 ’n hoogtepunt bereik toe 240 878 hektaar gekoop is. Verlede jaar het private aankope van grond egter tot 151 575 hektaar verminder.
Bornman het bevind dat die Regering net op enkele uitsonderings na nie meer as markwaarde vir grond betaal nie. Sy ontleding van grondverkope op distriksvlak bevestig dié waarneming.
Die gemiddelde prys wat vir grond deur verskillende groepe kopers betaal is, is:
■ Mense van kleur: R14 812/ha. ■ Regering: R7 074/ha. ■ Stedelike ontwikkeling:
R52 847/ha. ■ Private kopers: R14 071/ha. ■ Res (soos mynbou, Eskom en padagentskappe): R40 744/ha.
WAT LEER DIE GESKIEDENIS?
“Gegewe die rol en bydrae met verloop van tyd tot die ontwikkeling van die land en teen die agtergrond van die geskiedenis kan die grondkwessie nie anders as om sentraal te staan in sake van die dag in die land nie,” sê Bornman. “Die groot nodigheid vir grondhervorming en die fyn balans om volhoubaar voedselsekerheid te verseker, spreek vanself, maar dit moet in konteks en met groot omsigtigheid benader word. Om op lang termyn tot ’n werkbare en volhoubare oplossing van dié veelhoekige en baie ingewikkelde grondkwessie te kom, is dit nodig om die feitelike inligting oor die besit en/of besetting van grond deur die mense van die land as belangrike boublok in die proses te gebruik.”
Hy sê met die stigting van die halfwegstasie aan die Kaap in die 17de eeu was die vestiging van boerdery die oplossing om die voedsel- en hulpbronvoorsieningsplan aan die destydse skeepvaart te laat slaag. “Bestaande hulpbronne van die tyd kon gewoon nie byhou om produkte te lewer nie. Die besitreg van grond was die onderbou teenoor die nomadiese en kommunale bestaan van die inheemse mense van daardie tyd.”
Die landbou was dus integraal as hoeksteen tot die ontwikkeling van die land, tot die ontdekking van diamante en goud en die gevolglike vestiging van die nywerheidsektor.
BYDRAE TOT DIE BBP EN DEMOGRAFIE
In 1922 was die bydrae van die landbou tot die bruto binnelandse produk tot 22,2% hoog, met die mynbou se bydrae 18,3%, die fabriekswese s’n 7,3%, handel s’n 15,6% en dienste/res s’n 36,6%.
In 2015 het die verhouding só gelyk: Die landbou, ongeveer 2% (die totale bydrae regstreeks en onregstreeks is meer as 26%); mynbou, 8,3%; die fabriekswese, 13,8%; handel, 15,1% en dienste/res, 61,8%.
In 1918 was Suid-Afrika se bevolking 5,2 miljoen mense van wie 1,2 miljoen stedelike of dorpsbewoners was wat 23,4% van die totaal verteenwoordig.
Tans is die bevolking 56,9 miljoen, van wie 37,6 miljoen (65%) stedelike inwoners is. Teen 2030 sal die bevolking na raming groei tot 66,9 miljoen, van wie 71,3% of 47,7 miljoen (soveel as die totale bevolking van 2006) sal verstedelik. Die demografie dui verder daarop dat 49,2% van dié mense tans jonger as 24 jaar is.
Die kwessie van die migrasie van die bevolking asook die veranderde rol van die landbou kan nie anders nie as om midde-in die behoeftestelling na en aanwending van grond in die land te staan.
Bornman sê net soos die veranderende gesig van die makroomgewing van die land het die landbou ook aangepas en verander in die lig van die landbouekonomie van die tyd.