KAN BLOUKURPERS HARTIES RED?
Die Hartbeespoortdam staar ’n ernstige probleem in die gesig met waterplante en blougroen alge wat besig is om die beskikbare suurstof in die dam op te gebruik, terwyl die onaangename reuke oewerbewoners die skrik op die lyf jaag.
Mnr. Charles Marais, ’n visboer van die omgewing, meen egter daar is ’n bekostigbare, doeltreffende oplossing vir die probleem.
“’n Hele aantal riviere, waaronder die Groot Renosterspruit, loop in die dam in en is met alge besoedel. Dit maak al jare lank die lewe ondraaglik vir diegene wat naby die dam woon. Verskeie ondernemings ervaar probleme omdat hulle nie meer vaartuie op die toegegroeide riviere kan laat vaar nie.
“Eenvoudig gestel, daar is twee faktore wat die probleem vererger. Die eerste is dat Gauteng se rioolwater in die dam invloei en algegroei stimuleer. Tweedens is daar ’n gebrek aan natuurlike vreters van hierdie alge.”
Charles meen dat toenames in alge ’n seisoenale verskynsel is, maar dat onbehandelde riool hierdie algegroei geweldig stimuleer.
“Vandaar die probleem dat toksiese blougroen alge handuit ruk en die dam besoedel.”
Hy skryf die tekort aan natuurlike algevreters onder meer toe aan uitheemse vissoorte wat inheemse soorte uitwis.
“Inheemse vissoorte, soos die bloukurper (‘n tilapia-soort), is natuurlike algevreters wat groot hoeveelhede alge per dag vreet. Ongelukkig verdring uitheemse vissoorte, soos swartbaars en karp, die bloukurper se natuurlike habitat. Swartbaars maak veral jag op jong bloukurpers en het die getal bloukurpers in die dam geweldig laat afneem,” sê hy.
Boonop maak plaaslike vissermanne van onwettige kieunette gebruik om groot hoeveelhede vis in die dam te vang en te verkoop. Hierdie nette vang visse in groot getalle uit, wat die bloukurpergetalle in die dam verder verlaag.
“Die oplossing is dus om ’n bloukurperhervestigingsprojek van stapel te stuur. Deur groot getalle van hierdie visse in die dam te vestig en te verseker hul getalle bly groei, sal alge nie die geleentheid kry om vatplek in die dam te kry nie.”
Marais meen daar is reeds meer as R70 miljoen in verskeie skoonmaakpogings bestee is, maar dié pogings is nie volhoubaar nie. “Die koste van ’n volhoubare hervestigingsprojek sal sowat R5 miljoen wees. As dit kan gebeur, is dit heeltemal moontlik dat daar binne vyf jaar genoeg bloukurpers in die Hartbeespoortdam sal wees om dit te herstel na dieselfde toestand as waarin dit 40 jaar gelede verkeer het — sonder stank en ’n hengelparadys,” sê hy. — GERRIT BEZUIDENHOUT