Peperduur inspeksies gaan in die hof draai
VERSKEIE landboubedrywe maak gereed vir regstappe teen die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye oor minstens vyf burokratiese inspeksiedienste wat die departement op die been bring en wat kospryse heelwat kan opjaag.
Hewige teenkanting is al vanaf verlede jaar binne verskeie landboubedrywe aan die opbou oor dié rompslomp, waarvan die koste op die bedrywe gelaai sal word. Tot dusver het korrespondensie en gesprekke met die departement op niks uitgeloop nie.
Onder die inspeksiedienste is ’n organisasie, bekend as LEAF, om alle plaaslike en ingevoerde grane en oliesade (asook produkte daarvan) te toets ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde van 1990. Terwyl die graanbedryf nog besig was om met LEAF te onderhandel, is eensydige tariewe vir graaninspeksies reeds in die Staatskoerant afgekondig.
Koste wat voorgestel word, is sowat R3 per ton vir grane en oliesade, ’n uurlikse tarief van R420 en meer indien die regstreekse koste vir die toetse nie verhaal kan word nie en ’n reistarief vir die inspekteur van R4/km. LEAF sal die bedryf na raming R60 miljoen per jaar kos.
WAARDEKETTING
Prokon, ’n agentskap wat 25 jaar gelede deur die aartappelbedryf in die lewe geroep is om te verseker aartappels voldoen aan die nodige regulasies en standaarde, is nou aangestel om ook alle ingevoerde en plaaslike varsprodukte te toets.
Nog drie ander inspeksiedienste wat ook vroeër vanjaar in die Staatskoerant afgekondig is, sluit in Nejahmogul Technologies and Agric Services vir suiwelprodukte, Agency for Food Safety vir gereguleerde diereprodukte (soos pluimvee, eiers en vleisprodukte waar voor daar regulasies kan kom) en Impumelelo Agribusiness Solutions vir gereguleerde verwerkte produkte (soos vrugtesappe, bevrore vrugte en groente, konfyte, rooibos, heuning, olywe en smere, sowel as geblikte groente en vrugte).
Volgens landbouleiers sal die inspeksies op verskeie punte in dieselfde waardeketting geskied – vanaf rou, heel of vars produkte, tot die verwerkte en die finale produkte. Só sal byvoorbeeld koring, meel en brood geïnspekteer word wat stapelvoedselkoste vir die armste deel van die bevolking die hoogte sal laat inskiet. Die inspeksies kan die koste van ’n brood met R3 laat styg.
DOWE ORE
Talle briewe van belangeorganisasies is aan mnr. Billy Makhafola, uitvoerende beampte by die departement vir dié wetgewing, geskryf om beswaar daarteen aan te teken. ’n Dringende gesprek met mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, en bedryfsleiers is ook aangevra, maar Makhafola het geweier om daarmee te help.
Die bedrywe se besware behels kortliks dat die wetgewing in werking getree het nadat die beheerrade in die 1990’s afgeskaf is, maar dat die bedrywe self – sonder probleem – hul standaarde gereguleer het. Verder is die bedrywe reeds onderhewig aan verskeie inspeksies kragtens gesondheids en voedselveiligheidsregulasies. Verdere inspeksies beteken onnodige koste en ’n ekstra las op bedrywe. Daarby is daar nie behoorlik met hulle oorleg gepleeg oor die instelling van die inspeksiedienste nie.
Die departement meen daar is wetgewing wat nagekom moet word en dit is sy verantwoordelikheid om toe te sien dat dit geskied. Landboubedrywe is onderhewig daaraan en kan nie bepaal hoe die inspeksies moet geskied nie. —
‘LEAF sal die bedryf na raming R60 miljoen per jaar kos.’