DROOGTE HALVEER DALK OOS-KAAP SE WILDGETALLE
TOT die helfte van die vlaktewild in die OosKaap het waarskynlik weens die ergste droogte in 100 jaar gevrek, meen mnr. Johan (Stappie) Staphorst, uitvoerende hoof van die Oos-Kaapse Wildbestuursgenootskap (ECGMA).
Staphorst sê ofskoon daar nie amptelike statistieke van die vrektes is nie, het lede van die organisasie grootskaalse verliese aangemeld. “Die wildboere wat die ergste geraak is, is dié wat ekstensief met wild boer. Alle diersoorte, insluitende koedoes, springbokke, gemsbokke, blouwildebeeste en selfs geharde rooibokke het gevrek.”
Boere wat intensief met wild boer, is in ’n mindere mate geraak aangesien hulle as voorsorgmaatreël die diere kon voer.
“Die westelike dele van die provinsie vanaf Uitenhage tot by Willowmore is die ergste geraak. Geen koedoes sal in die komende seisoen in die distrik Steytlerville gejag mag word nie.”
Staphorst sê sporadiese reënneerslae was te min om die veld voldoende kans op herstel te gee.
“As deel van hul bestuurstrategie het sommige boere wild verminder voor hulle weens die droogte gevrek het. Ander wat dit nie gedoen het nie, het groot verliese gely.”
MINDER JAGGELEENTHEDE
Me. Janene Ferreira Barnard, ’n lektor in landbou en wildbestuur aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se Somerstrand-kampus, het in ’n verhandeling vir haar meestersgraad in 2015 bevind dat daar in 2011 sowat 1,35 miljoen stuks wild in die provinsie was. Die algemeenste wildsoorte was springbokke (244 160), koedoes (202 570), rooiribbokke (139 225), rooibokke (112 158) en duikers (111 127).
In die komende jagtyd in die provinsie – 1 Junie tot 31 Augustus, en in sommige distrikte van 1 Junie tot 31 Julie – meen Staphorst daar sal minder jaggeleenthede wees vir plaaslike biltongjagters. “Met die goeie reën in ander dele van Suid-Afrika sal die wild waarskynlik nuwe weivelde opsoek. As dit goed kom reën, kan dit tot twee seisoene duur voor wildgetalle in die provinsie styg. Ál troos is dat waar die natuur ’n manier het om die swakstes uit te dun, die boere nou met die beste teelmateriaal sit.” –
‘Geen koedoes sal in die komende seisoen in die distrik Steytlerville gejag mag word nie.’