Eendrag maak dié Drakensbergers
Dié vooraanstaande stoetteler glo onwrikbaar in die verbetering van sy boerdery deur bloot met geregistreerde diere te boer.
Optimale wins per hektaar is die groot dryfveer van die die 6+ Telers, ’n Vrystaatse Drakensberger-beestelersgroep waarvan mnr. Carel Nel van die plaas Helderfontein, Brandfort, lid is. Carel, eienaar van vanjaar se Elite-Drakensbergerkoei, sê lede van dié groep behou hul onderskeie identiteite, maar optimale winsgewendheid per hektaar uit die groter genepoel van die gesamentlike koeikudde is deur samewerking ’n groter werklikheid. “Dit is ’n aansienlike besparing omdat ons saam die koste van gesamentlike bemarking dra.”
Vir dié groep, mnre. Kobus en Petri Bezuidenhout (Swartbult), Daan Bothma (Keurkuil), Fanie van Dyk (Brakenjan) en Frannie du Toit (Turfkuil-stoetery), is dit ’n lewenstaak wat toewyding verg. Opregte stoettelers is nie “bulprodusente” wat enige bul as “bul” wil bemark nie.
Hulle keur en selekteer ook mekaar se diere om seker te maak die produk wat hulle gesamentlik bemark, is van hoogstaande gehalte.
GENETIES DOMINANTE KOEI
Carel, wat al diep spore in die bestuur van SA Stamboek getrap het en tans as tesourier dien, beskou die koei CL 070014 as die volledige prentjie van ’n vroulike bees wat as skoudier presteer en uitstekende nageslagsyfers het. Haar nageslag van ses verse is deur die genootskap goedgekeur en in sy kudde as vervangingsdiere opgeneem. Haar twee bulkalwers, waarvan een goue meriete verwerf het, is topstoetbulle wat deur medetelers gebruik word.
“Dié Elitekoei is geneties dominant in my kudde en haar produserende dogters volg absoluut in haar voetspore wat reproduksie betref.”
Reproduksie en winsgewendheid is die kernbeginsels van alle seleksie in sy kudde.
Deur seleksie is die groep se voeromsettingsverhouding (VOV) van 6,7 in 1984 tot ’n huidige beste van 4,4 verbeter. Die gemiddelde daaglike gewigstoename het van 1,576 kg tot ’n beste van 2 kg per dag toegeneem. Hul ervaring die afgelope jare was dat die vroulike verwante of nageslag van goue meriete-bulle met veral ’n goeie VOV ook beter in die kuddes presteer, hul kondisie beter handhaaf, vroeër geslagsryp is, ’n beter tussenkalfperiode het en swaarder kalwers speen. Dit is ook deur navorsing van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Diereverbetering bevestig.
WINS BLY DIE MAATSTAF
Elke teler ding eintlik met homself mee en een se sukses is die hele groep se sukses. Vir groter wins meet hulle vir elke aspek wat die doeltreffendheid en reproduksievermoë van hul kuddes kan verbeter. Hulle glo dat, soos in die saaibedryf, wins per hektaar die maatstaf is. Hul diere oorleef en produseer op natuurlike weiding en oesreste. Die ras se langlewendheid is ook vir Carel ’n voordeel. Koeie kalf maklik vir tot 16 jaar lank jaarliks. In een geval het ’n koei van 21 jaar 18 kalwers gehad.
Die gehardheid van die Drakensberger as ’n inheemse ras, sy aanpasbaarheid en weerstand teen bosluisgedraagde siektes is ook belangrike ekonomiese aspekte wat vir die groep saak maak, want dit hou koste laag. Bulle uit hierdie kuddes pas maklik aan en loop op plase reg oor die land en selfs in die warmste dele van Namibië. Ondanks die droogte was die gemiddelde kalfpersentasie van die 6+ Telers almal bo 90. “Geen ras kan by die Drakensberger kers vashou nie. Drakensbergers floreer ook in uiterste omstandighede,” sê Carel.
Koning Letsie III van Lesotho is een van die getroue ondersteuners van die groep se beeste. “Sy diere was die vorige winter vier dae lank in ’n dik laag sneeu van ’n meter vasgevang en hy het nie een verloor nie – selfs nie kalwers nie,” sê Carel.