Bestuur dit só Hier’s sakekanse!
DIE werklike nadelige gevolge van die kabinetskommeling en afgradering tot rommelstatus lê tans nog verskuil agter hoër pryse vir uitvoerprodukte weens die swakker rand, maar die pad na herstel gaan lank en moeisaam wees.
Dít was die boodskap van landboukenners en ekonome ná Standard & Poor’s (S&P) én Fitch Suid-Afrika tot sub-beleggingsgraad afgegradeer het.
Mnr. Alec Hogg, redakteur van die webblad BizNews.com, sê anders as met Nenegate, waar die ekonomie relatief vinnig herstel het ná mnr. Pravin Gordhan se heraanstelling, is dié situasie soos ’n lekplek in ’n band waaruit die lug stadig maar seker bly ontsnap.
Die markwaarde van die 17 aandele binne die JSE se Top 40, wat die vatbaarste is vir rentekoersverhogings, het bly verswak. In twee weke het dit R188 miljard (10%) verloor. Staatseffekte, wat meestal deur pensioenfondse gehou word, het in dié tyd R100 miljard verloor. Ná Nene se afdanking was dieselfde verliese R290 miljard en R250 miljard. “Die verskil is die relatief vinnige herstel ná Nenegate, terwyl daar nou geen soortgelyke vooruitsig is nie.”
SPIRAAL
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, sê afgesien van hoër rentekoerse en inflasie, word groeivooruitsigte gestrem. Dit beperk weer die land se vermoë om werk te skep en armoede te verlig. “Die opvolgende ongunstige uitwerking dwing jou in ’n aanhoudende afwaartse spiraal, vandaar die ‘slow puncture’-vergelyking!”
Mnr. Francois Groepe, adjunk-goewerneur van die Reserwebank, het by die bank se monetêre beleidsforum gesê dit kan vyf tot sewe jaar duur voor Suid-Afrika sy beleggingstatus herwin, na gelang van stappe om die agentskappe te oortuig van daadwerklike veranderings.
Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, waarsku ook dit sal nie oornag gebeur nie. “Dis soos boomklim – dis maklik en vinnig om uit te val, maar dit verg moeite en tyd om weer bo te kom.
“Boere behoort nou ernstig te besin oor hul bemarkingstrategieë en seker maak dat ingeligte besluite geneem word. Boere én die man op die straat sal ook dalk twee keer moet dink wanneer groot aankope oorweeg word, veral met die oog op moontlike hoër koste van kapitaal.”
TROOS
Die styging in graanpryse weens die swakker rand bied boere ’n bietjie troos, maar daar is talle ander nadele, sê mnr. Mike Schüssler, ekonoom en direkteur van
Economist.co.za. “Die Regering gaan minder geld hê vir infrastruktuurverbeterings, werkskepping en hulp aan boere, verbruikers gaan duurder vir kos betaal en banke gaan minder geld wil uitleen. Boere sal moet dink aan maniere om hul risiko’s vinniger te verskans.” —