DIÉ BOM GAAN OOR DIE HELE LANDBOU BARS
KLIMAATSVERANDERING IS ’n tydbom wat grootskaalse veranderings in die landbou sal noodsaak.
Dr. Ilse Trautmann is die hoofdirekteur van navorsing en die tegnologiese ontwikkelings diens by die Wes-Kaapse departement van landbou.
Sy het op die kongres van die Internasionale Federasie van Landbou skrywers gesê die eerste verskyning van die vernietigende herfs kommandowurm die afgelope somer in Suider-Afrika en Tuta absoluta, oftewel die tamatie blaar myner, kan albei met aardverwarming verbind word.
Sy sê die landbou moet nou reeds beplan en kan nie wag vir môre nie. Dié voorbereiding sluit die identifikasie van gewasse in wat beter by die verwagte moeiliker boerdery toestande aangepas is, asook die uitskakeling van gewasse wat nie die mas opkom nie.
“Die Wes-Kaap het in die onlangse verlede miljarde rande se skade weens natuurverskynsels gely. Dit sal oplossings verg,” het sy gesê.
NUWE GEWASSE EN STREKE
Dr. Johann Strauss, senior landboukundige by die departement, sê menige boer haal reeds wingerde uit en vervang dit met sitrus omdat die provinsie betreklik min sitrussiektes het en nie deur swart- vlek geraak word nie. Selfs koringboere plant nou sitrusbome.
Mnr. Darryl Jacobs, assistentdirekteur-generaal, het gesê sekere dele sal nie langer voedsel kan verbou nie, maar nuwe gebiede sal beskikbaar raak.
“Die goeie nuus is dat die landbou aan die vooraand van ’n tegnologierevolusie staan wat boere sal help om voort te bestaan,” het hy gesê.
Mnr. Gys du Toit, besturende direkteur van Dutoit Agri (’n omvangryke vrugte-onderneming op Ceres), sê dié maatskappy gebruik reeds tegnologie om hierdie veranderinge die hoof te bied.
Dit sluit in produksie onder haelnette om oeste teen insekte, voëls en die elemente te beskerm, doeltreffender besproeiing wat haarfyn gemeet word en die ontwikkeling van nuwe kultivars wat beter by die veranderende klimaat aangepas is. Hulle chemiese plaagen siektebestryding word ook streng bestuur.
NETTO UITVOER
Met sulke planne sal Suid-Afrika kan voortgaan om sy rol as netto uitvoerder van voedsel vol te hou en die land én die wêreld te voed, sê Du Toit. Die maatskappy verbou vrugte en groente onder besproeiing op 4 500 ha in die Wes- en Oos-Kaap.
Dit sluit appels, pere en steenvrugte in, asook groente, soos uie, aartappels en patats in die Wes-Kaap, Limpopo en Namibië. In die spitsproduksietyd het hulle 7 500 mense in diens.
Du Toit sê Suid-Afrika het nie die beste middele om boerdery te vergemaklik nie – die land het nie goeie grond, reënval, klimaat en staatsubsidies nie. Daarom moet Suid-Afrika se boere slim en volhoubaar boer.