Landbouweekblad

KANOLA ONTKIEM TRAAG IN SWARTLAND

- — AMELIA GENIS

BOERE van die Swartland en navorsers krap kop oor die groot deel van die kanola wat vanjaar geplant is, maar wat nie opkom nie, of wat swak of laat opkom.

Me. Izane Leygonie, landboukun­dige van Southern Oil Limited (Soill) in die Swartland, sê kanola het in alle dele van die Swartland baie swak opgekom.

“Ek kan ’n rowwe skatting maak dat 30% tot 50% van die kanola wat geplant is, nie (of nog nie) opgekom het nie. Die persentasi­e hang af van die kanolakult­ivar en die gebied.”

Boere meen die grondtempe­ratuur was te laag teen die tyd wat die eerste ordentlike reën in Junie geval het. Mnr. Piet Lombard, navorsings­tegnikus by die departemen­t van landbou in die Wes-Kaap, meen egter ander faktore kan ook ’n rol speel. Volgens sy M.Tech-navorsing is die grond in die Kaap nie koud genoeg om die enigste rede vir die swak ontkieming te wees nie.

HARDE REËN

Leygonie sê die weer kon ook ’n rol gespeel het. In sommige gebiede het die harde reën begin Junie saadjies uit die grond gespoel as gevolg van oppervlaka­floop. Die reën kon ook die saadjies toegespoel het, wat ontkieming verhinder het of net in sekere dele moontlik gemaak het.

Mnr. Jim McDermott, kanolakons­ultant vir die saadmaatsk­appy DuPont Pioneer, sê ’n ander moontlike verklaring en iets wat ondersoek moet word, is die voorkoms van sekondêre dormansie by kanola. Dit is wanneer die saad dormant raak by sekere stremmings, soos die voggebrek en die hoë temperatur­e wat die Wes-Kaap sommige dae in Mei en Junie ondervind het. Die dormansie word opgehef as die stremming opgehef word.

Talle boere by Darling en Riebeek-Wes “plant oor” met hawer of koring op kanolaland­e nadat groot oppervlakt­es van die kanola wat hulle in April geplant het, nie opgekom het nie.

VERLIESE BEPERK

Mnr. André Kirsten van die Kirsten-boerdery by Darling weet nie van een medeboer wie se kanola normaal ontkiem het nie. Hy sê sowat die helfte van sy kanola, meestal dié op sandgrond, het nie opgekom nie. Waar dit wel op sy swaarder grond opgekom het, sukkel hy om tien plante per vierkante meter te tel.

“Ek het reeds R2 500 per hektaar bestee. Ek plant nou hawer om iets te oes. Ek het saad in die skuur en daar is kunsmis in die grond. Dit is ’n waagstuk en noodkosteb­estuur. Ek gaan nie ’n wins toon nie, maar gaan da- rem my verliese beperk.”

Die koring, hawer, gars en lupiene wat hy geplant het, het “pragtig” opgekom – van die beste ontkieming wat hy in jare gehad het.

“Ek vermoed met die donderweer in April het die kanolasaad ontkiem en daarna gevrek.”

‘WAG NOG ’N WEEK’

Leygonie meen van die kanola kan steeds opkom ná die optimale temperatur­e van 23 tot 26 Junie. “Daar is navorsing wat dit duidelik stel dat kanolasaad sy kiemkragti­gheid verloor in grondtempe­rature onder 2 grade Celsius, maar dit verskil van saad tot saad.”

Ook McDermott stel voor dat boere nog ’n week moet wag voordat hulle besluit om die kanola dood te spuit of te laat bewei. Hy sê dit is in elk geval baie laat om nou ander graan te plant.

‘Ek vermoed met die donderweer wat ons in April gekry het, het die kanolasaad ontkiem en daarna gevrek.’

UITVOER

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ?? Daar is groot kommer oor die swak ontkieming van kanola in die Swartland. Die oorsaak kon nog nie met sekerheid vasgestel word nie.
FOTO: AMELIA GENIS Daar is groot kommer oor die swak ontkieming van kanola in die Swartland. Die oorsaak kon nog nie met sekerheid vasgestel word nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa