Staat moet sy kant bring
‘Nog duisende hektare’ kan by die meer as 30 000 ha gevoeg word wat reeds in die Witzenbergomgewing aan swart boere oorgedra is, mits die Regering sy kant bring.
108 projekte van Partners in Agri Land Solutions (PALS) is reeds van stapel gestuur sedert dié plan twee jaar gelede die lig gesien het. Dit sluit in sewe nuwe landbouprojekte oor altesame 4 256 ha, sowel as onsuksesvolle projekte van die Regering se voormalige LRAD-program (herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling) wat herstruktureer is.
Mnr. Izak Strauss, landbou-ekonoom, het dié uiteensetting gegee tydens die Witzenberg PALS se ledevergadering in die Koue-Bokkeveld. Daar is ook projekte in die waardeketting, asook behuisings- en opleidingsprojekte. Strauss sê nog 20 landbouprojekte sal binne die volgende jaar die lig sien.
Intussen het belangstelling van elders in die land – die NoordKaap, Mpumalanga en Limpopo – ook opgevlam om grondhervormingsprojekte volgens die PALS-raamwerk aan te pak.
“Die PALS is ’n private inisiatief, maar ons het die Regering se ondersteuning in baie gevalle nodig,” het mnr. Gerrit van Vuuren, ’n prokureur van Ceres wie se breinkind die PALS was, gesê. Hy het gesê die raamwerk is op die beginsels van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en die plaaslike munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplanne geskoei.
“Gegewe ons land se geskiedenis was ons nie verras dat daar aanvanklik wantroue was nie, maar namate ons projekte van stapel stuur en wys dis suksesvol, is ons besig om mense se koppe te swaai,” het Van Vuuren gesê.
FRUSTRASIE
Ten spyte van die welslae neem frustrasie toe rondom gebrekkige regeringshulp en ondersteuning wat projekte vertraag of in die wiele ry.
Mnr. Lennox Plaatjies, hoofuitvoerende bestuurder van die PALS, sê hoewel daar baie verbintennise was om die raamwerk te ondersteun, het heelwat daarvan nie gebeur nie, spesifiek in ’n tyd toe hulle “desperaat” was vir die samewerking.
“Ons het reeds ’n paar projekte staangemaak, maar ons glo as die Regering sy kant bring om sake te bevorder, sal ons soveel meer kan regkry en in die gebied kan doen. Al wat ons van die onderskeie staatsdepartemente verwag, is om te hou by die ondernemings wat hulle gegee het ten opsigte van die NOP en die Grondwet.”
Van Vuuren het vyf kwessies as die belangrikste struikelblokke uitgesonder.
ELEKTRISITEIT
Eskom se kragtoevoerlyn na die Witzenbergvallei het in 2014 sy volle kapasiteit bereik. Die opgradering sal sowat R360 miljoen kos. “Ons almal weet besproeiingslandbou en waardekettingprojekte gebruik elektrisiteit. As die opgradering nie dringend gedoen word nie, sal nuwe groei belemmer of selfs gestuit word,” meen Van Vuuren.
’n Taakspan, bestaande uit lede van die PALS, Witzenberg Agri en die plaaslike munisipaliteit, is glo gedurig in gesprek met Eskom daaroor.
“Intussen het die taakspan groen energie en ander oplossings voorgestel, maar Eskom moet ook goedkeuring gee om groen krag in die bestaande netwerk te voer.”
WATERPERMITTE
Met riviere, soos die Breede-, Olifants-, Leeu- en Doornrivier, wat almal in die omgewing ontstaan, is die Witzenberg die kroon van die Wes-Kaap. Steeds vloei miljoene liters surplus-winterwater (meer as waaraan die ekologie behoefte het) weg see toe en word daar gesukkel om toestemming te kry om ekstra opbergingsvermoë te skep.
“Dit gebeur in tye van swaar reën- en sneeuneerslae, gewoonlik van Junie tot Augustus. As ons die opbergingsvermoë kan uitbrei en damwalle kan verhoog, kan die surplus-winterwater opgeberg en gebruik word om vrugbare, hoëwaardegrond te besproei vir nuwe PALS-projekte. Boonop is daar toegevoegde voordele, soos werkskepping en ekonomiese groei.”
Van Vuuren sê ekstra opbergingsvermoë is boonop ’n goeie strategie teen aardverwarming.
“Die NOP sê die fokus moet wees om besproeiingskemas uit te brei in gebiede waar hoërwaarde-landbou-aktiwiteite plaasvind, want dit het die meeste werkskeppingspotensiaal. Ons is in daardie geseënde area geleë.”
Nog ’n probleem wat hulle ervaar, is dat voete gesleep word met die uitreiking van waterpermitte.
“’n Aantal PALS-projekte is vertraag omdat permitte om water op te berg en te gebruik (wat reeds beskikbaar gemaak is deur PALS-produsente), nie binne ’n redelike of die beloofde tyd uitgereik is nie. Die beskikbare water kon dus nie goed gebruik word nie en nog ’n seisoen het verlore gegaan wat die PALS-maatskappye kon gebruik tot voordeel van die begunstigdes. Dit lei tot groot frustrasie.”
BELASTING
Wanneer plase na PALSmaatskappye oorgedra word, moet gehoes word aan kapitaalwinsbelasting en skenkingsbelasting. Van Vuuren en sy kollegas het voorleggings aan die Tesourie gemaak oor skenkingsbelasting en meen hulle het vooruitgang gemaak om die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) te wysig.
“Kapitaalwinsbelasting bied ’n groter uitdaging. Daar is duur maniere waarop jy kapitaalwinsbelasting kan vermy, maar dit verhinder tans dat ’n paar projekte deurgevoer word.
“Geld wat gebruik kon word
Intussen het die taakspan groen energie en ander oplossings voorgestel, maar Eskom moet ook goedkeuring gee om groen krag in die bestaande netwerk te voer.
om ’n PALS-plaas te ontwikkel, moet nou eers gebruik word om kapitaalwinsbelasting te betaal wanneer ’n plaas teen markwaarde na ’n PALS-maatskappy oorgedra word. Ons bly hoop dat ons ’n oplossing daarvoor sal vind.”
ONDERVERDELING
Van Vuuren sê daar was beloftes dat onderverdelings vir grondhervormingsdoeleindes versnel sou word as hulle die Wet op die Beskikbaarstelling van Grond en Bystand (Wet 126 van 1993) gebruik. Die teendeel het egter gebeur en vertragings daarmee het tot groot frustrasies gelei – en ’n gesloer om sekere projekte aan die gang te kry. Van Vuuren sê aansoeke ingevolge die gewone Wet op die Onderverdeling van Landbougrond (Wet 70 van 1970) sou suksesvol gewees het. “Die enigste rede waarom ons Wet 126 gebruik het, is omdat daar aan ons beloftes gemaak is dat dit vinniger sou wees.”
Hulle is steeds in gesprek met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en hoop die aansoeke sal vorentoe bespoedig word.
ERKENNING
“Ons vertrou dat die Kabinet dit sal oorweeg om die een of ander vorm van erkenning aan produsente te gee wat aan grondhervorming deelneem. Dit sal ’n hupstoot vir grondhervorming oor die hele land wees,” meen Van Vuuren.
Hy het bladsy 207 van die NOP aangehaal, waar aanbeveel word dat kommersiële boere wat help om 20% van grond in elke distrik aan swart boere oor te dra, iets in ruil daarvoor verdien.
“Een voorstel was om ’n SEB-status aan hul ondernemings te gee. Deur die PALS se betrokkenheid by kommersiële boere oral in Suid-Afrika weet ons die bereidwilligheid en welwillenheid is daar van boere se kant af om die PALS-projekte deur te voer. Dit maak boonop vir hulle sakesin.
“’n Gebaar van die Regering se kant af om een of ander vorm van erkenning te gee, sal tot ’n nuwe golf van die PALS-projekte oor die land heen lei.”
Hy het voorbeelde genoem van ’n sitrusprojek in Mpumalanga, ’n projek in Robertson, nege plase van altesame 4 000 ha op Riviersonderend en ’n projek van 10 000 ha in die Noord-Kaap wat almal belang stel om PALS-maatskappye te begin.
“Die PALS het reeds hoop geskep vir ’n beter toekoms. Ons het nog altyd aangedui ons wil saam met die Regering werk op ’n manier wat werk skep en ’n bydrae lewer tot sosiale harmonie.”