EKSTRA GRONDTAKS ’N RAMP VIR KOSSEKERHEID – AGRI SA
’N BYKOMENDE belasting op grond sal beteken dat boere dubbel vir hul grond belas word, wat uiteindelik voedselsekerheid in gedrang sal bring, meen Agri SA.
Hoewel Suid-Afrika reeds drie vorms van welvaartbelasting het, naamlik boedel-, skenkingsen oordragbelasting, ondersoek die Regering bykomende belastingmoontlikhede, siende dat dié belastings net 1% tot die belastingkoffer bydra.
Die bykomende belasting wat ondersoek word, is ’n belasting op grond, ’n nasionale belasting op die waarde van ’n eiendom (dit is bo en behalwe erfbelasting) en ’n jaarlikse welvaartbelasting wat op ryk mense gerig is.
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê dit is beslis nie nou die tyd om enige belasting in te stel wat ekonomiese groei sal beperk nie.
Politieke onstabiliteit, hoë werkloosheid en afgraderings van Suid-Afrika se soewereine skuld tot rommelstatus het reeds sake- en verbruikersvertroue benadeel. Onlangse data toon dat die land vir die eerste keer in agt jaar in ’n resessie verval het.
ONDUIDELIK BEREKEN
Van Zyl sê hoewel dit in hierdie stadium nog nie duidelik is hoe so ’n belasting op grond bereken sal word nie, word dit in Australië bereken op ’n persentasie van die waarde van die grond wat jy besit. Die Australiërs het egter ondervind dat die belasting ’n nadelige impak op die eienaar het, of dit geboue en verbeterings insluit of nie.
Agri SA is dus bekommerd dat die voorgestelde belasting beleggings in eiendomme sal beperk, want hoe meer grond ’n mens besit of hoe hoër die waarde van jou grond is, hoe meer belasting sal jy per jaar moet betaal.
Van Zyl sê as jy een of meer plase besit, sal daardie plase by- voorbeeld saamgetel kan word en die belasting op die totale waarde van die plase bereken word. Dit beteken dat boere elke jaar ’n sekere persentasie van die waarde van hul grond aan belasting sal moet opdok, terwyl hulle reeds munisipale belasting betaal.
“Dit kan daartoe lei dat boere stukke grond verkoop of gedwing word om dit aan die Regering te oorhandig om die belasting op grond te vermy,” sê Van Zyl.
Gevolglik sal die opbrengs op hul belegging beduidend geraak word, met laer produksie-uitsette wat voedselsekerheid in Suid-Afrika ’n knou gaan gee. Verder sal dit tot ’n verdere verlaging in netto plaasinkomste en werksverliese in die landbousektor lei.
Van Zyl waarsku as Suid-Afri- ka, wat die ekonomiese enjin van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is, voedselonsekerheid ervaar, sal die hele streek daardeur geraak word. Immigrasie sal die gevolg wees.
KONTANTVLOEI
’n Belasting op grond kan daartoe lei dat ’n boerdery nie-winsgewend raak, wat probleme met kontantvloei meebring.
Plaasskuld sal ook beduidend styg.
Dit sal boere aanspoor om eerder die meganisasieroete te volg ten einde oorhoofse koste te verminder.
Arbeidskoste is ’n groot bydraer tot die oorhoofse koste en werksverliese van tot 30% kan die gevolg wees.
Boonop sal nuwe toetreders tot die sektor die ergste benadeel word.
Agri SA stel voor dat die Regering hom eerder daarop toespits om Suid-Afrika se openbare sektor reg te ruk, die opvoedingsvlak van die bevolking te verhoog en die nodige vaardighede te ontwikkel wat in die land kortkom.
Wat nóg belangriker is, is dat hy die vermorsing van belastingbetalersgeld aan bande moet lê en korrupsie, wat die fiskus uitput, moet uitwis.
‘Dit kan daartoe lei dat boere stukke grond verkoop of gedwing word om dit aan die Regering te oorhandig.’