VERSKEIDENHEID ’N MOET BY DEKGEWASSE
Die natuur groei nie in monokulture nie; hoekom dink boere dus hulle kan welslae met enkelgewas-dekgewasse behaal? Dít was mnr. John Heermann, ’n bewaringsboer in die noordooste van die Amerikaanse deelstaat Colorado, se vraag op die konferensie van die geenbewerkingsvereniging van Suid-Australië (Santfa).
John is gevra om oor grondgesondheid en dekgewasse in ’n droë omgewing te praat. Nog ’n rede om ’n verskeidenheid dekgewasse te plant, sê hy, is dat ongunstige weerstoestande ’n volslae mislukking kan veroorsaak as net een gewas gebruik word. “Uiteenlopende soorte maak dit moontlik vir ander plantsoorte om daarvoor te vergoed as een soort swak groei.”
’n Verskeidenheid plantsoorte het ook verskillende worteldieptes. John het die voorbeeld van bokwiet genoem, wat vlak en klein, haaragtige wortels het, Soedansorghum, wat groot, veselagtige wortels het wat deur verdigtingslae kan dring, en radyse, wat een penwortel het wat uiterste verdigtingslae in grond kan opbreek.
Hy sê uiteenlopende dekgewasse is ook ’n manier om ’n gratis energiebron te benut. “By diverse dekgewasstande maak verskillende blaarvorms, blaarhoogtes en samestelling van plante dit moontlik dat alle energie van die son benut word én die grond heeltemal beskadu word.”
’n Verskeidenheid dekgewasse bied ook voordele onder die grond omdat elke plantsoort se wortels ander afskeidings vrystel om ’n verskeidenheid mikro-organismes te voed en te lok.
John het vir die eerste keer besef hoe belangrik grondgesondheid is toe hy maniere gesoek het om koste te besnoei en winsgewendheid op hul familieplaas te verhoog. Die plaas kry gemiddeld 400 mm vog per jaar in die vorm van reën en sneeu. Dit verplig hom om die grond bedek te hou om sodoende die vog wat hy kry, behoorlik te benut.
Toe hy ná universiteit begin boer het, het hy die plaas oorgeskakel van ’n ploeg-en-braakstelsel na geenbewerking en meer wisselbougewasse, maar steeds met oorlêlande in die somer gesukkel.
“’n Mens kry nie braakstelsels in die natuur nie. Ons moet dus ontslae raak van braakperiodes tussen gewasse as ons grondgesondheid en doeltreffende watergebruik wil verhoog.”