HOU JOU OË OOP VIR DIÉ BLAARROLMYT
Die granaatblaarrolmyt (Aceria granati) kan baie skade aan jong granaatbome aanrig. Die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Plantbeskerming het onlangs die voorkoms van die myt op jong, kommersiële granaataanplantings op ’n plaas in die Hardap-besproeiingskema buite Mariëntal, Namibië, bevestig. Die simptome was wydverspreid in die aanplantings.
Die myt is ’n bekende plaag op granate (Punica granatum). Dit is al sedert die 1890’s in die Middellandse See-streek bekend, en kom waarskynlik, nes granate, oorspronklik van Persië (die hedendaagse Iran) af. Dit kom vandag oral voor waar granate verbou word — ook wydverspreid in Suid-Afrika.
Dié myte is baie gasheerspesifiek en een soort kom gewoonlik net op een plantsoort voor. Die myte op granate sal dus nie op ’n ander plant oorleef of simptome veroorsaak nie, en moes Suid-Afrika saam met granaatmateriaal binnegekom het. Aantekeninge van die nasionale versameling van myte van die LNR toon dié myte is in 1986 vir die eerste keer in Rustenburg en Pretoria aangemeld.
Die myte leef van die selsap van jong, ontwikkelende blare. Hulle laat die blaarrande styf na die onderkant oprol. Die blare van erg besmette bome is kwaai verdraai en misvorm, en jong lote lyk soms blaarloos omdat die blare onderontwikkel en opgerol is.
Van die weefsel binne en teen die rolletjie vrek. Baie jong groei naby die groeipunt kan beskadig en misvorm word. Die myt is veral skadelik op jong bome, maar word nie as ’n groot plaag by ouer granaatbome beskou nie.
Die simptome van dié piepklein mytjies, wat nie met die blote oog sigbaar is nie, word dikwels met simptome van ander oorsake verwar en dan verkeerd bestry.
Mnr. Gerrit van Vuuren, hoof- tegniese adviseur by Villa Crop Protection, sê hormoon-onkruiddoders kan ook blaarrande laat opkrul, maar dan kan die blaarsteel ook verdraai wees, waarmee dit van mytsimptome onderskei kan word. Dit is wys om die blare met ’n mikroskoop te ondersoek om te bevestig die simptome kan wél aan die myt toegeskryf word.
Die myte leef en plant voort in die stywe blaarrolletjies. Bitter min is bekend oor hul lewenswyse. In kontinentale klimaatsgebiede oorwinter hulle in die plantknoppe. Hulle versprei baie suksesvol. Dit geskied veral deur wind, maar ook saam met besmette steggies, op werktuie en deur mense wat met besmette plante in aanraking was. Hul lewenswyse en ekologie in Suid-Afrikaanse omgewingstoestande is egter nog onbekend. Die voorkoms en ekonomiese belangrikheid van die granaatblaarrolmyt in Suid-Afrika is nog nie aangeteken of bestudeer nie.
Die eerste omvattende plaaslike plaagopname by granate is in 2006 tot 2008 landwyd deur die maatskappy Alternafruit SA gedoen, met maandelikse inspeksies in die Wes-Kaap.
Dié navorsers het die myt vir die eerste keer op kultivars van Indiese oorsprong op ’n plaas in die omgewing van Wellington gekry. Mnr. Martin Wohlfater, nou Laeveld Agrochem se sake-ontwikkelingsbestuurder, was een van die persone wat aan die opname deelgeneem het. Hy het sedertdien die mytsimptome op verskeie ander plekke gesien, maar weens die wye verspreiding nie daarvan boekgehou nie.
Kommersiële granaatverbouiing in SuidAfrika is ’n taamlike jong bedryf. Granate in Suid-Afrika word op sowat 1 000 ha verbou, maar die bedryf groei en meer hektare word deurlopend aangeplant.
As simptome van die myte gewaar word, moet die plaag so gou moontlik bekamp word, want die opbou van mytgetalle tot ’n swaar besmetting kan ’n hele boom se groei onderdruk. — DR. CHARNIE CRAEMER