Landbouweekblad

NOG NOOIT TERUGGEKYK

-

Mnr. Johan van Huyssteen jr., wat homself aanvanklik as meganiese ingenieur en tegniese tekenaar bekwaam het, sê hy was nog nooit spyt dat hy in 2002 besluit het om te gaan boer nie. Hy en sy pa is onderskeid­elik die vyfde en vierde geslag Van Huyssteen op Bloekom.

Die plaas is in die 1800’s deur Johan sr. se oupagrootj­ie, Hendrik Petrus van Huyssteen, aangelê nadat hy vanaf George via Winburg daarheen getrek het.

Bloekom grens aan die Welgeleësi­lo’s en lê digby die goudmyne Harmony en Beatrix.

Sy leuse is om in geloof te leef en hom nie van dag tot dag te laat beïnvloed deur wat rondom hom gebeur. “Daar gaan altyd iets neerdrukke­nds wees, of dit nou politiek, pryse of ’n swak oes is. ’n Mens moet by daardie dinge verby kan kyk.”

Politieke uitsprake pla hom min, want hy het geleer dis meestal net ’n geraas, maar plaasmoord­e vang hom. “Dis nie ’n leuen of ’n storie nie, maar die werklikhei­d. Dit gebéúr.”

Maar daarby bly die beste van boer vir hom om in die natuur te kan wees en die skepping te kan ervaar.

Die oorgee van pa na seun verloop in die Van Huyssteens se geval heel vlot. “Ons het dit nie juis beplan nie, maar my pa gee my die ruimte om te doen waarvan ek hou, en ek doen dit goed. Dit is nie vir hom ’n probleem om aan my oor te gee nie. Hy behartig nog die administra­sie, waarmee hy goed is en waarby ek sukkel om uit te kom. Ons het ’n goeie verstandho­uding, wat dit maklik maak.”

Talle van hul nege werkers het saam met Johan jr. grootgewor­d. Van hulle het vir sy pa gewerk, en party vir sy oupa.

Johan jr. en sy vrou, Johanita, woon op Bloekom. Sy jonger broer, Francois, ’n veearts, en sy vrou, Lelanie, bedryf ’n veeartspra­ktyk op ’n buurplaas.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa