Op Rozenburg buite Malmesbury vorm reuse-skilderye teen die sitkamermure deel van ’n raaisel.
Hoewel die Van der Westhuijzen-familie al sedert 1898 op Rozenburg woon en die geskiedenis van hul plaas goed ken, ontbreek inligting oor die indrukwekkende skilderye in die “skildersaal” aan die suidekant van die huis.
Oor die meeste aanbouings op die plaas is daar verhale, maar geen rekord van dié muurskilderye nie. Agt groot skilderye beeld Europese tonele uit met berge, kastele, die see, bote en tuine as deurlopende tema.
Verskeie reghoekige skilderye hoog teen die muur wissel die langwerpiges af. Elke skildery het sy eie geverfde raam. ’n Leeu pryk bo die eetkamerdeur en ’n arend met ’n sleutel in die snawel bo elke groot skildery.
Volgens me. Anna van der Westhuijzen, wie se man Pieter, die derde geslag op die plaas is, bring die skilderye vir die familie se kinders ure se pret.
Sy het op randpatrone en ’n Nederlandse sin in potlood (“Ek wil graag trou, maar kry nêrens vrou”) afgekom toe sy muurpapier van ’n slaapkamermuur aftrek.
Paulina, die vrou van Uys van der Westhuijzen, die vierde geslag, sê ondanks hul navrae ontwyk kundige raad die familie.
“Party skilderye is in die Ceres-aardbewing van 1969 beskadig. Die kleure van die skilderye raak ook ál donkerder. Ons vermoed die skilders kon Italiaanse krygsgevangenes gewees het.”
REISENDE SKILDERS
Dr. Matilda Burden, senior navorser en kultuurhistorikus aan die Universiteit Stellenbosch, twyfel. Sy meen dit was die werk van rondreisende skilders. “Die familie sou geweet het as daar in 1945 krygsgevangenes op die plaas was. Die skilderye lyk ook veel ouer as 70 jaar.”
Volgens Burden is daar nog soortgelyke skilderye in die WesKaap – die meeste toegeverf of weggesteek onder muurpapier.
“Die bekendste en oudste muurskilderye is by Rust en Vreugd in Buitenkantstraat, Kaapstad, en Uitkijk op Stellenbosch. Die muurskilderye van Libertas buite Stellenbosch is in die laat 1700’s deur Jan Adam Hartmann geskilder.
Sarie Marais-Nell woon in die Swartland. Sy het na historiese skatte op plase gaan soek om vervloë dae se gebruiksvoorwerpe en boerderye te bewonder.