Perdry 101
Of dit nou skou, spring, dresseer, gimkana, uithouritte of pensteek is — as jy kleintyd begin perdry, gaan jy vinnig dié waarhede oor perde teëkom.
Bygelowe oor perde is volop. Mense sit dalk nie meer hoefysters teen hul voordeur op om hekse weg te hou nie, maar hulle wens jou steeds sterkte toe as jy ’n vosmerrie met vier lang, wit sokkies opsaal – ’n perd van só ’n kleur kan net ’n wildewragtig wees. En, onthou, as ’n perd se kroontjie laer as sy oë sit, is hy dom, maar ’n perd met kroontjie bo sy oë gaan jou vinnig uitoorlê. As twee kroontjies saamsmelt, moet jy maar wegbly – daai perd sal jou in die eerste kol koeniebosse afsmyt. Gelukkig moet jy ook sewe keer afval voordat jy ’n goeie ruiter is.
Ryskoolperde kom in verskillende modelle. Daar is die koeëlronde ponie wat lyk of hy drie suikerklontjies weg van diabetes is, die merrie wat permanent haar gesig in afgryse trek oor al die reuns rondom haar, die Volbloed wat steeds ’n belowende loopbaan as resiesperd sien wink . . . En natuurlik die goedige leermeester waarop selfs die bewerigste beginner kan ry. By my eerste ryskool was dié perd een genaamd King – ’n sagmoedige staatmaker met ’n Romeinse neus en knopknieë. Honde kon raas en skote kon afgaan – ander perde het dalk die riel gedans, maar King het nie ’n voet verkeerd gesit nie. Verloor jy ’n stiebeuel, kom hy stadig tot stilstand tot jy weer vastrap kry.
Toe die dodelike Afrikaperdesiekte in daardie kontrei uitgebreek het, het dit sy stalmaats een ná die ander geëis – en hy het ook siek geraak. Hy’s die enigste perd wat ek ken wat dié siekte afgeskud het, reg om die volgende geslag kinders op sy geduldige manier te leer.
Moenie dat ponies jou flous nie. Hulle is dalk klein, maar ’n slinkse ryskoolponie kan sy staldeur oopmaak, onderdeur ’n heining wriemel, sy bek styf toeklem as hy nie vandag lus is vir ’n stang nie, jou klere vol slym smeer en ’n wortel wat vir ’n ander perd bestem is, op tien tree raaksien. Hy skrik vir niks – behalwe as die boomstop buite die arena vandag effens anders as gewoonlik lyk en dus lewensgevaarlik is.
Val sal jy val. Toe ’n los tarentaal op ’n onlangse dresseerskou ’n perd skrikmaak, merk ’n toeskouer op: “Ek het nie geweet hulle moet ’n driepuntdraai kan doen nie.”
Intussen, buite die arena, waarsku ’n pa sy dogter om haar Steri Stumpie te oorhandig voor sy op die perd klim. “As jy val met daai strooitjie, boor jy vir jou ’n derde neusgat.”
Skoue loop soms skeef, want hoe erg ’n perd hom wangedra, hou regstreeks verband met hoeveel mense jou dophou. Net so sal ’n perd wat gewoonlik nie vir ’n perdesleepwa skrik nie, op ’n skou vassteek en eers ná ’n uur en drie sakke wortels daar inklim.
Luister vir die juffrou. Alle instrukteurs het roepe van “hakke af!”, “sit regop!” en “duime bo!” gemeen, maar baie verleen hul eie karakter daaraan, soos: “Is daar diamante in die sand? Kyk op!”
In een uiterste geval het my ou instrukteur eendag in grafiese besonderhede verduidelik hoe, as ons nie behoorlik om die hoek ry nie, die perd gaan omslaan, sy been breek en sy verplig sal wees om ’n knipmes uit die bakkie te gaan haal en hom keelaf te sny. Dit het beslis ons aandag getrek.
Ouers en instrukteurs moet hare op hul tande hê, veral by iets soos ’n perdrykamp, waar iemand iewers hárd val of ’n perd tydens die laaste dag se sakresies ontsnap.
“Jy’s nogal ’n rabbedoe,” sê ’n vrou nadat haar 13jarige leerling ’n té skerp es in die opwarmarena gekap het.
“Ek’s nie ’n rabbedoe nie, tannie!” kom die verontwaardigde antwoord. “Ek is ’n Christen.”