Mededingingsowerhede plaas soeklig op voerkrale
Die Mededingingskommissie het onlangs op verskeie voerkrale toegeslaan om bewerings van samespanning te ondersoek. Die vasstelling van speenkalfpryse hou egter eerder verband met vraag en aanbod.
Die aankondiging dat die Mededingingskommissie besluit het om op ’n aantal voerkrale toe te slaan, is vir my nogal snaaks. ’n Mens hoor beesboere gereeld mor dat die speenkalfpryse deur die voerkrale gekoördineer en gemanipuleer word, en dat die kopers van speenkalwers met mekaar gesels by veilings en saam tee drink. Dit kan na my beskeie mening nie as samespanning gesien word nie.
Dit is egter ’n basiese som wat in die bedryf gemaak word om te bepaal hoeveel ’n voerkraal vir ’n speenkalf kan betaal, gegewe die voerkoste, voeromsettingsverhouding en die verkoopprys van klas A-karkasse. Hierdie berekening geld ook mielieboere wat speenkalwers wil koop en self voer.
Die groot dryfkragte in die som is: Waarteen kan ek oor 90 dae of 120 dae (na gelang van die voertydperk waarop besluit word) die klas A-karkas verkoop?
Tweedens: Waarteen koop ek voer aan in die volgende 90 dae tot 120 dae? Die meeste voer is geel mielies of die witmielie-maalbedryf se afvalproduk (wat gewoonlik 80% van die geelmielieprys is).
Derdens: ’n Speenkalf se voeromsettingsverhouding is min of meer 5 kg tot 6 kg voer vir ’n kilogram vleis. Dan kom ander koste by, soos medisyne en arbeid. Daarmee kan die som gemaak word en die model en inligting is geredelik beskikbaar.
Die karkasprys (klas A) en die geelmieliepryse word tans op Safex verhandel en is dus bekend op die mark en vir die maande wat kom.
Die prys wat ek dan vir ’n speenkalf kan betaal, is dít wat oorbly nadat ek my ander koste, soos arbeid, medisyne, vrektes en dies meer, afgetrek het. Dit is ’n basiese formule wat selfs op Landbou.com gepubliseer is. Dit gaan egter nie werk om dié som se antwoord te wil voorhou as samespanning nie.
Daar is na my beskeie mening baie meer samespanning in die Suid-Afrika mieliemark deur veral internasionale en sommige Safex-handelaars. Die debakel ten opsigte van ingevoerde wit geneties gemodifiseerde
(GM) mielies, wat boere en maatskappye verlede jaar in Desember miljarde rande gekos het, het al in die soeklig gekom.
Safex (wat deel is van die JSE en ’n private onderneming met winsbejag is) het besluit ingevoerde GM wit mielies kan op dieselfde kontrak verhandel as Suid-Afrikaanse wit mielies toe die Regering skielik die verbod op die invoer van GM wit mielies opgehef het.
Die witmielie-termynkontrak se pryse op Safex het kwaai gedaal, basies teen die verloop van markfaktore. Daar is wyd bespiegel oor wie almal vooraf daarvan geweet en voordeel daaruit getrek het, maar daar het nie verder veel gebeur nie. Die ander vraag is wat van die Nasionale Landboubemarkingsraad geword het. 80-85% van die klas A-beesvleis wat in die formele Suid-Afrikaanse vleismark verkoop word, deur die voerkrale vloei (waar diere inkom as speenkalwers). GRAFIEK 1 toon die verloop van die aantal beeste wat in Suid-Afrika geslag is, soos aangemeld word deur Levyadmin.
Levyadmin is een van talle organisasies in die vleisbedryf wat die spesifieke taak het om namens die organisasies in die bedryf verpligte heffings in te vorder op elke dier wat formeel geslag word. Die grafiek toon ook die speenkalf-staangetalle, soos geraam word in ’n spesifieke maand in die voerkraalbedryf.
Die totaal wissel normaalweg rondom 500 000 diere, terwyl die aantal beeste wat geslag is, sowat 200 000 per maand is.
Die grafiek toon egter duidelik hoeveel ekstra speenkalwers die voerkrale in 2015’16 tydens die hoogtepunt van die droogte ingeneem het. So het die voerkrale groot druk op veeveilings verlig en die mark in ’n mate geëgaliseer deur as ’n skokbreker op te tree.
Daarby moet ’n mens voeg dat die 4 0005 000 ton beesvleis wat maandeliks in die droogte na Afrika en Arabiese lande uitgevoer is, ook groot druk op die binnelandse mark verlig het. Dit was danksy die feit dat diere voluit gevoer kon word om goeie slagpotensiaal te verwesenlik.
Wat belangrik is in grafiek 1, is dat die staangetalle in voerkrale begin daal het (die jongste syfers is dié van April), maar dat die aantal diere wat geslag is, ook kwaai begin daal het teenoor ’n jaar gelede. Dit bevestig die feit dat koeikuddes baie kleiner geword het in die droogte. Daarom is daar nie ’n aanbod van speenkalwers vir voerkrale nie.
Daarby moet ’n mens ook sê dat verse in normale tye sowat 20-25% van die aantal speenkalwers in voerkrale uitmaak. In die loop van die droogte het dit opgeskiet tot selfs meer as 50%. Dit dui daarop dat die toekomstige teelkudde uitgeslag is, wat noodwendig ’n daling in die aanbod van speenkalwers in 2017-’18 gaan veroorsaak.
In GRAFIEK 2 word die verloop van die aantal diere wat geslag is, asook die prysverloop van klas A-pryse, getoon. Die stygende nei-
ging in die aantal diere wat geslag is namate die droogte toegeneem het, is duidelik. Die kwaai daling in die aantal diere wat die laaste aantal maande geslag is, is ewe duidelik. Dit het tot gevolg gehad dat klas A-pryse styg. Dit is die normale werking van vraag en aanbod soos ’n mens dit sou verwag en is na my mening geen manipulasie van die mark nie.
In GRAFIEK 3 word die verloop van die geelmielieprys getoon (as ’n aanwyser van die belangrikste voerpryse). Verskeie opmerkings geld. As ’n mens eerstens na klas A-pryse kyk, is dit benewens die sterk onlangse styging oor die laaste aantal jare redelik stabiel.
Daar is egter ’n omgekeerde korrelasie tussen die speenkalfprys en die mielieprys. Hoe hoër voerkoste styg (en die klas A-prys bly stabiel), hoe laer sal die speenkalfprys wees. Dit is die resultaat van ’n fisieke som met geen manipulasie nie.
Die kwaai daling in die mieliepryse die afgelope paar weke het ook speenkalfpryse kwaai laat styg weens die tekort aan speenkalwers. Dit is weer eens die normale werking van markkragte en nie weens manipulasie nie.
Indien ’n mens die werklike speenkalfpryse vergelyk met die “berekende” speenkalfprys is daar na my beskeie mening min afwykings van wat dit behoort te wees. Ek was al baie teenwoordig waar speenkalfboere se persepsies deur die voerkrale weerlê word. Dit bly egter gerieflik om die koper van jou produk te beskuldig as die markfaktore nie in jou guns tel nie.
Dit is ook bekend dat voerkrale by tye ’n verlies van tot R2/kg op speenkalwers in die voerkrale gemaak het. Dit was omdat hulle speenkalwers moes aankoop om hul aanbodketting vol te hou. Die verlies moet dan verder aan in die ketting “opgemaak” word, soos dit in ’n geïntegreerde besigheid werk.
Ten slotte moet boere hulself afvra waarom daar nie meer onafhanklike voerkrale in Suid-Afrika is nie. Die antwoord is eenvoudig dat dit nie lonend is nie. Die sakemodel is ’n geïntegreerde model waar eie voerproduksie, voerkrale en die aankoop van speenkalwers gekoppel word aan slagplase en ontbenings- en/of verpakkingsaanlegte met afsetkontrakte of selfs met hul eie kleinhandel-afsetpunte en uitvoerkontrakte. Dit gee boere die kans om deur die ketting koste – en natuurlik wins – te egaliseer.