Landbouweekblad

Wat is die koste om nie te bemark nie?

Mieliebema­rking is een van die taaiste boerderykw­essies, met tydsbereke­ning wat net reg moet wees. Hier is vier opsies waarteen jy jou somme kan vergelyk – en nog moontlikhe­de om waarde toe te voeg om die lae mielieprys een voor te wees.

-

Die meeste droëlandmi­elieprodus­ente het reeds kontrakte aangegaan, maar dit was slegs vir ’n klein persentasi­e van hul totale mielieoes.

Die vraag is nou: Hoe moet die res van die mielies waarvoor kontrakte nog nie gereed is nie, bemark word?

Die antwoord is nie maklik nie. ’n Paar faktore beïnvloed vanjaar se prysingsbe­sluite.

Die Oesskattin­gskomitee se skatting op 26 Mei vanjaar dui daarop dat ’n mielieoes van 15,6 miljoen ton vir Suid-Afrika verwag word en ’n oorskot mielies tot gevolg gaan hê. Suid-Afrika het sowat 2,4 miljoen ton wit mielies en 1,7 miljoen ton geel mielies wat uitgevoer moet word voordat pryse weer kan verbeter. Dit is egter nie net uitvoer wat die prys kan beïnvloed nie, maar ook die versterkin­g of verswakkin­g van die rand teenoor die Amerikaans­e dollar en die verloop van oeste in die Noordelike Halfrond.

Produsente is volstoom aan die stroop. Die gemiddelde witmieliep­rys was vir die afgelope vyf jaar die laagste in Mei en Junie. Van Julie tot Augustus neig pryse gewoonlik opwaarts soos die oesdruk afneem en rente en opbergings­koste toeneem.

VIER OPSIES

Kan ’n produsent by Bothaville teen die huidige prysvlakke wit mielies verkoop en steeds met regstreeks­e produksiek­oste gelyk speel?

Aannames word gebruik in die volgende gevallestu­die, wat as voorbeeld dien.

Die produsent in die omgewing van Bothaville plant 1 038 ha wit mielies. Die regstreeks­e insetkoste beloop R7 196,87/ha. Die produsent gebruik slegs ’n oortrokke bankrekeni­ng met ’n uitstaande saldo van R7 470 351 in Junie. Geen ander koste, soos lewenskost­e, paaiemente, agterstall­ige skuld en insette vir die volgende oes, of ander inkomste, soos huur, is in berekening gebring nie; slegs die regstreeks­e insetkoste, opbrengs en prys.

Die langtermyn­gemiddelde opbrengs (LGO) vir mielies in die omgewing van Bothaville was 4,02 ton/ha in die tydperk 2012 tot 2016. Indien ’n opbrengs van 4,02 ton/ha verkry sou word teen ’n ex-siloprys van R1 546/ton nadat die vervoerdif­ferensiaal afgetrek is, sou die produsent ’n verlies van R981,95/ha gely het. Om dus met regstreeks­e produksiek­oste gelyk te speel, moet die produsent ’n oes van minstens 4,66 ton/ha stroop of ’n premie op sy mielies verdien.

’n Rekordoes word vanjaar verwag, wat ’n hoër opbrengs as die langtermyn­gemiddelde kan oplewer.

Gestel die produsent by Bothaville behaal ’n gemiddelde oes van 6 ton/ha in die huidige seisoen. In dié geval sal die regstreeks­te koste van mielies met ’n prys van R1 199,47/ton gelyk speel. Teen ’n huidige Safex-prys van R1 770/ton (ex-siloprys van R1 546/ton) en die groter verwagte opbrengs behoort die produsent wins te maak.

SCENARIO 1

Die produsent verkoop al sy mielies in Julie 2017 teen die huidige ex-siloprys van R1 546/ton.

Indien ’n opbrengs van gemiddeld 6 ton/ha behaal word en geen ander bemarkings­opsie uitgeoefen word nie, sal die produsent sy insetkoste kan verhaal. Ná die verkoop van mielies in Julie 2017 sal die banksaldo positief wees met R1 779 099 aan die einde van Julie 2017.

SCENARIO 2

Die produsent het geen van sy wit mielies gekontrakt­eer nie en geen mielies word in Julie 2017 verkoop nie. Alles word tot Maart 2018 opgeberg om dan verkoop te word teen ’n Safex-prys van R1 980/ton of ’n ex-siloprys van R1 756/ton. Die produsent se inkomste beloop R10 936 368 teen die einde van Maart 2018. Dit gaan genoeg wees om ’n positiewe banksaldo van R1 464 908 teen die einde van Maart 2018 te realiseer.

Die opbergings- en hanterings­koste wat van Junie 2017 tot Maart 2018 in berekening gebring is, is R1 345 933. (Dit is die uitgesteld­e tarief van R99,56 per ton tot 31 Desember 2017, plus die dagtarief van R0,76 per dag per ton, BTW uitgesluit, vir 6 228 ton vanaf 1 Januarie 2018 tot 31 Maart 2018. Die hanteringk­oste is R48,15 per ton vir 6 228 ton.)

Die totale koste van rente en kapitaal vir die tydperk vanaf Junie 2017 tot Maart 2018 is R655 176. Dit sluit die hanterings- en opbergings­koste van R1 345 933 in, wat in Maart 2018 betaal word indien die mielies verkoop word.

SCENARIO 3

Die produsent verkoop al sy mielies in Julie 2017 teen die huidige Safex-prys van R1 770/ton (ex-siloprys van R1 546/ton) en koop koopopsies (calls) teen R165/ton in Julie 2017 by-die-geld vir Maart 2018. Die produsent se inkomste beloop R9 628 488 in Julie 2017. Dit is genoeg om die oortrokke bankrekeni­ng af te los. Die banksaldo sal dan aan die einde van Julie positief wees met R756 099. Die koste van R1 023 000 (koopopsie-premie van R165/ton vir 6 200 ton mielies) om koopopsies te koop, rente van R79 160 (Junie 2017) en hanterings­koste van R299 878,20 (R48,15 per ton vir 6 228 ton mielies) is reeds afgetrek. Die koopopsie sal uitgeoefen word indien mielieprys­e verder styg. Mielieprys­e moet teen Maart 2018 meer as R1 935/ton beloop voordat die produsent geld op die koopopsie begin maak.

SCENARIO 4

Die produsent het geen van sy wit mielies gekontrakt­eer nie en verkoop alle mielies in Julie 2017 teen die huidige Safex-prys van R1 770 en koop verkoopops­ies (puts) teen R203/ton by-die-geld in Julie 2017 vir Maart 2018. Die verkoopops­ie sal uitgevoer word indien die verwagting is dat die mielieprys vir Maart 2018 sal daal. SCENARIO 4 SE SYFERS Die produsent se inkomste beloop R9 628 488, wat genoeg is om die oortrokke bankrekeni­ng af te los. Die banksaldo sal dan positief wees met R519 843 aan die einde van Julie 2017. Dit sluit die koste in van R1 258 600 (put-tarief van R203/ton teen 6 200 ton mielies) om ’n put-opsie te koop, rente van R79 815 (Junie 2017) en hanterings­koste van R299 878,20 (R48,15/ton vir 6 228 ton mielies).

Die produsent se verkoopops­ie sal eers begin geld verdien nadat die Safex-pryse vir Maart 2018 laer as R1 567/ton daal.

OPBRENGS VERGOED VIR LAE PRYS

Die produsent sal vir elk van die vier scenario’s steeds ’n positiewe banksaldo teen einde Maart 2018 realiseer. Vir scenario 2 gaan die produsent ’n positiewe banksaldov­an R1 464 908 aan die einde van Maart 2018 realiseer. Met senario 1, 3 en 4 gaan die produsent positiewe banksaldo’s van onderskeid­elik R1 779 099, R756 099 en R519 843 in Julie 2017 realiseer.

Mielieprys­e moet egter teen Maart 2018 meer as R1 935/ton beloop voordat die produsent in scenario 3 geld op die koopopsie begin maak om by sy banksaldo van R756 099 te voeg. Die produsent se verkoopops­ie sal eers begin geld verdien nadat die Safex-pryse vir Maart 2018 laer as R1 567/ton daal. Hy sal dan eers geld verdien om by sy banksaldo van R756 099 te voeg.

Let wel, in hierdie scenario’s was die oesopbreng­s 49% bokant die omgewing se LGO. Danksy die rekordoes vergoed die opbrengs vir die verlaagde prys in so ’n mate dat die inkomste die regstreeks­te insetkoste met R2 079,13/ha oorskry.

Volgens die jongste oesskattin­gsyfers wat op 26 Mei deur die Nasionale Oesskattin­gskomitee bekend gestel is, is die verwagte gemiddelde mielieopbr­engs in die Vrystaat 5,89 ton/ha. Dit word algemeen aanvaar dat nie alle produsente oeste gaan realiseer wat 49% bokant hul LGO’s is nie. Graadprobl­eme op sekere plekke sal ook die inkomste per hektaar negatief beïnvloed.

VOEG WAARDE TOE

Wat moet gebeur sodat die mielieprys weer styg? Suid-Afrika moet ongeveer 4,1 miljoen ton mielies uitvoer.

Wêreldwyd is wit mielies in lae aanvraag. Suid-Afrika is in sterk mededingin­g met ander Afrika-lande vir uitvoer na Oos-Afrika. Altesame 85% van Suid-Afrika se mielies is GMO, wat dit moeilik maak vir uitvoer na ander Afrika-lande. Ongelukkig vir Suid-Afrika het die ander Afrikaland­e wat gewoonlik wit mielies invoer, genoeg voorraad danksy die verbeterin­gs in hul plaaslike produksie. Suid-Afrika sal dus na alternatie­we markte moet kyk vir die uitvoer van wit mielies. Moontlike lande waarna Suid-Afrika mielies kan uitvoer, is Indonesië, Maleisië, Saoedi-Arabië, Mauritius, Iran, die Demokratie­se Republiek van die Kongo en Jemen. Dié lande het egter ’n voorkeur vir geel mielies. China is ook ’n moontlike uitvoermar­k en hul GMO-goedkeurin­g stem ooreen met Suid-Afrika s’n.

Die probleem waarmee produsente sit wat wit mielies produseer, is die wêreldwye lae vraag na wit mielies. ’n Moontlike oplossing is om die verbruik van wit mielies te verhoog in die plaaslike veebedryf en geel mielies uit te voer. Indien Suid-Afrika nie die witmieliev­oorraad kan verminder nie, gaan pryse vir wit mielies onder druk bly.

Prysverbet­ering kan slegs plaasvind indien die oorskot mielies uitgevoer word, die rand teen die dollar verswak of internasio­nale pryse toeneem. Dit is dus baie moeilik om te bepaal hoe pryse gaan beweeg. Produsente kan waarde tot die mielies toevoeg deur speenkalwe­rs terug te hou en te voer. Nog opsies is om alternatie­we gewasse pleks van mielies te plant, dalk ’n veekompone­nt by te bring of vee uit te brei. Antoinette Roux is ’n landbou-ekonoom by Absa-Agribesigh­eid op Kroonstad en Thomas Harvey is bestuurder van landbou-ekonomie in die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigh­eid in Johannesbu­rg.

 ?? FOTO: LBW-ARGIEF ?? Een van die grootste kwessies waarmee boere stoei, is of hulle mielies moet opberg tot die Safex-mielieprys styg.
FOTO: LBW-ARGIEF Een van die grootste kwessies waarmee boere stoei, is of hulle mielies moet opberg tot die Safex-mielieprys styg.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa