Nie net mooi nie
Namate toerisme ’n al groter rol op wynplase speel, moet boere nuut dink oor wat gaste op die plaas beleef. Mnr. Wesley du Plessis, landgoed-bestuurder van die Leeu Collection, streef daagliks daarna om dié spogbestemming se wingerde én tuine perfek te ho
Op die vier Franschhoekse plase wat saam die Leeu Collection vorm, is niks uit sy plek nie. Die netjiese wingerde, met dekgewasse wat nie net nuttig is nie, maar ook sag op die oog is, vloei moeiteloos deur die netjies versorgde beddings en grasperke om ’n illusie te skep dat dit maar altyd so was; so asof die geboue net later tussenin neergesit is.
Dis alombekend hoe mnr. Analjit Singh, ’n Indiese miljardêr, sy hart op Suid-Afrika verloor het nadat hy die land tydens 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi besoek het.
Sedertdien het hy vier Franschhoekse wynplase gekoop. Sy vennootskap met Chris en Andrea Mullineux het gelei tot Mullineux & Leeu Family Wines en die Swartlandse plaas Roundstone. Ook die dorp Franschhoek het baat gevind sy beleggings, onder meer in restaurante en ’n bierbrouery – altesaam honderde miljoene rand se belegging.
Dit het byna vyf jaar se harde werk geverg om Leeu Estates, die luukse hotel met ’n spa en restaurante op ’n werkende wingerdplaas, te open. Die hotel, omring deur ’n 6 ha-tuin en ongeveer 11 ha wingerd, slaan jou asem weg. Daar staan ook sowat 5 ha pruime en 1 ha granate op die plaas.
“Die vier plase beslaan sowat 77 ha, waarvan 50% berggrond is. Die berg is egter vir ons baie belangrik, want die uitsig en agtergrond dra by tot die ervaring,” sê mnr. Wesley du Plessis, wat die landgoedere bestuur.
“Ons het sowat 5 ha van die 11 ha wingerd oorgeplant. Rosa Kruger (’n bekende wingerdboukundige) het ons gehelp om klein dele met puik terroir uit te soek waar wingerde sal werk. Sy het die grootste rol gespeel in die grondvoorbereiding, kloon- en kultivarkeuses en ryrigting,” sê Wesley oor die wingerde wat hoofsaaklik bestaan uit Sauvignon blanc-(dit was oorspronklik op die plaas), Cabernet franc- en Shiraz-druiwe.
Terwyl die Mullineux-wyne alles van
Swartland-druiwe gemaak word, word die landgoed se druiwe vir die huiswynreeks, Bas (Analjit se bynaam), aangewend en aan ander Franschhoekse wynmakers verkoop.
STOK-BY-PAALTJIE
Wesley, wat voorheen op ’n organiese wynplaas gewerk het, deel in Analjit se passie om in pas met die natuur te boer, maar produksiepraktyke moet ook sakesin maak, sê hy.
“Ons boer nie organies nie, maar ons probeer so groen moontlik wees,” sê hy oor hul watersuiweringsprojek, herwinningsinisiatief, die verwydering van indringerplantegroei, die benutting van natuurlike predatore en die verminderde gebruik van spuitstowwe.
“Hier teen die Dassenberg kry ons wind uit die noordweste én die suidooste. Dit help vir die afkoel-effek en om siektes te bekamp (wat die behoefte aan spuitstowwe verminder). Daarom is ons blokke só uitgelê en ryrigtings gekies dat die wind kan deurkom.”
’n Groot deel van hul wingerd is ook volgens die stok-by-paaltjie-metode opgelei, ’n (duur) neiging wat die afgelope jare in die wynbedryf begin posvat het. Die wingerdstokkies word teen ’n digtheid van 1,5 m x 1,5 m teen ’n 1,8 m-hoë paal opgelei. Daar is selfs een wingerd, Wesley’s Hill, wat nouer – teen 1,2 m x 1,5 m – aangeplant is.
“Ons kon nie net meer stokke per hektaar plant nie, maar dit laat ook die wind toe om van alle rigtings af deur die wingerd te waai, wat dit gesond hou. Die trosse is ook mooi oop – nie oop genoeg vir sonbrand nie, maar vir lugbeweging.”
Nog ’n oorweging was dat dit esteties mooi is, wat belangrik is om te onthou met enige aanplantings en uitbreidings op die landgoed. “Ons wingerd is nog veels te jonk, maar ons sal dankbaar wees as ons sowat 6 t/ha oes,” vertel Wesley oor hul verwagtinge van die stok-by-paaltjie se opbrengs.
WERKSKEPPING NOODSAAKLIK
Die nouer wingerdrye maak dit byna onmoontlik om die wingerd met werktuie te bewerk. “Die afstand tussen die wingerdrye is nou, maar ons het drie jaar gelede besluit om werk te skep. Dit was ononderhandelbaar vir mnr. Singh, dus word die meeste werk in ons wingerde met die hand gedoen. Daar is darem genoeg plek vir ’n rugsakspuit!”
Altesaam 35 mense werk in die boerderyspan. Daar werk ook 46 mense in die tuine en op die res van die grond. Leeu House en die Le Quartier Francais-tuine skep nog werk. “Die werkers het eers net in die wingerd gewerk, maar die tuine het die kans geskep vir werk regdeur die jaar. Dit het my altyd van die wynbedryf gepla dat daar met parstyd baie werkgeleenthede is, maar die res van die jaar is daar omtrent niks nie. Die pruime en granate help ook om permanente werkgeleenthede moontlik te maak.
“Aangesien ons deur gehalte én die estetiese aangevuur word, is dit ook vir ons belangrik om met dieselfde mense te werk wat die opleiding gehad het en die nodige vaardighede het.”
Die meeste van hul werkers kom uit Groendal, ’n woonbuurt naby Franschhoek. Die omgewing het verskeie weelderige gasteplase waar mense soortgelyke werk kan doen. “Ons gee werknemers die kans om in poste te vorder,” verduidelik Wesley hul strategie om goeie werkers te werf en te behou.
Die werkers is almal opgedeel in spanne, met junior en senior spanleiers. “As daar ’n spanleier by een van die plase of eiendomme nodig is, sal ons altyd eers in ons groep na iemand soek. Ons sorg dat die doelwit om van junior na senior spanleier te gaan, haalbaar is sodat mense nie moedeloos raak nie.”
Daar word ook elke maand ’n werker van die maand aangewys wat met ’n supermark-geskenkbewys beloon word. “Só word mense aangemoedig om iets ekstra te doen.”
RESPEK VIR WATER
Die droogte is ’n werklikheid vir Wesley en hulle doen alles om water te bespaar en te hergebruik. Hul water kom uit drie boorgate en hulle vang afloopwater uit die berg in hul dam van sowat 30 000 m³ op. Die Franschhoekrivier loop ook oor die plaas, maar dit droog gewoonlik teen Januarie op.
“Al ons swart- en gryswater word in ons eie aanlegte (’n fusion-aanleg wat met
bakterieë werk) op die plaas gesuiwer, waarna ons dit na ’n vleiland (wat hulle self geskep het) pomp vir ekstra filtrering voor ons dit weer gebruik vir besproeiing.”
Die hotel gebruik slegs Blue Mountain-skoonmaakmiddels, wat omgewingsvriendelik is en makliker afbreek.
“Dis ’n reuseknelpunt om watersuiwering te doen, maar ons verloor net 20% van alle water wat inkom. Verlede week het ons 15 000 liter water in die hotel gebruik, waarvan ons 12 000 liter weer kon gebruik.”
Hulle het sowat 44 watermeters op die plaas geïnstalleer wat elke oggend en aand gelees word. Hulle meet ook besonderhede, soos hoeveel warm of koue water in die hotel gebruik word, hoeveel water in die dam loop en hoeveel vir besproeiing gebruik word.
“Ons het heeltemal oorboord gegaan met watermeters, maar dit help ons met ons beplanning, veral in die somer. Dit is ook nuttig om ondergrondse lekplekke en ander probleme te help opspoor, want as daar ’n groot afwyking van een week na ’n volgende is, weet jy mos daar is fout, al kan jy dit nie sien nie.”
Die plaas het sanderige grond met ’n kleibank onder wat maklik toeslaan. Hulle het dus baie dreinering geïnstalleer om die water beter te benut en ook afvoerslote gebou om wegloopwater op te vang om die tuine en wingerd weer te besproei (met oorhoofse én drupbesproeiing). Dié waterkanale help ook om erosie te beperk.
“Ons vaar eintlik goed met ons water omdat ons dit baie goed bestuur.”
VYGIES OP DIE BANKIES
Dekgewasse is een van hul getroue bondgenote in vogbewaring, maar op dié plaas sien jy nie die gewone korog of hawer tussen die wingerdrye nie. Hulle moes weer eens gaan dink het aan wat vir die wingerd voordelig is, maar ook ’n mooi prentjie maak.
“Ons het aarbeiklawer tussen die rye gesaai. Dit lyk mooi, sit stikstof terug in die grond en het min water nodig. Ons gooi eers bas (houtsplinters) met kompos daaronder en plant die dekgewas daarin.”
Op die bankies plant hulle vygies (Car-
pobrotus edulis) – iets wat hulle eers net by die granaatboord gedoen het. Die sukses daarvan het hulle aangemoedig om dit ook na die wingerd uit te brei.
“As die vygies blom, is dit ’n pragtige toneel, maar dit verander ook die mikroklimaat en hou die vog in die grond. Dit gebruik min water, dis ’n kruiper wat nie baie met die wingerd meeding nie en dit bedek die grond sodat daar nie kolle is wat die son bak nie.”
Nog ’n bonus is dat steggies maklik afgebreek en in die grond gesteek kan word.
OORLOG TEEN INDRINGERS
Die Dassenberg is oortrek met indringerplantegroei, hoofsaaklik bloekombome, waarteen die Leeu-span oorlog verklaar het.
“Dié stuk van die berg bestaan uit Swartlandalluviale fynbos, Boland-granietfynbos en Kogelberg-sandsteenfynbos. Die Swartlandalluviale fynbos word as kwesbaar beskou,” sê Wesley.
’n Kontrakspan maak twee keer per jaar die berggrond van sowat 50 ha skoon en verwyder die indringers.
“Ons versamel die fynbossaad, droog dit en saai dit weer terug teen die berg om die fynbosrehabilitasie te versnel.”
Naas die feit dat die indringers nie meer so baie water opsuig nie, pluk hulle al die vrugte van die projek. Hulle sien byvoorbeeld fynbossoorte terugkeer wat hulle nie vantevore daar gesien het nie. Voëls en paddas (veral by die vleilande) raak ook meer algemeen.
Op die nuwe eiendom gaan hulle die grootste fynbostuin op Franschhoek ontwikkel.
“Ons wil die berg in die tuin probeer integreer en gaan dit op só ’n manier doen dat ons so min water as moontlik gebruik.”
NATUURLIKE VYANDE
Mnr. Johan van Zyl van Nexus is Leeu Estate se chemiese raadgewer. Sy opdrag was eenvoudig: die wingerde moet gesond wees en alle middels moet sag wees teenoor die omgewing. Om witluis te bestry laat hulle een keer per maand natuurlike roofinsekte van die luise, Cryptolaemus montrouzieri (kewers) en Anagyrus spp. (wespes), in die wingerd vry.
“Ons het drie jaar gelede daarmee begin en het die rooi program (vir swaar besmette wingerde) gevolg. Ons kon dit mettertyd ál beter bestuur en party van ons wingerde is nou geel of groen, wat help met die koste. Ek het nog nie witluis hier gesien nie en ek glo dus dit werk.”
Naas die wingerd verg die pruime, granate en kostuine ook baie aandag. Vermorsing is nie iets waaraan hulle hulself skuldig maak nie, en alles wat hulle kan, benut hulle – soos om roosmaryn- en laventelolie self te distilleer vir geskenke aan gaste of om selfs te verkoop. Die plaas het ook sy eie kwekery, waar saailinge gekweek word.
“Ons hou van die idee om alles wat hier groei en wat ons plant, op ’n manier te gebruik,” sê Wesley.