WOLF EDMAYR ‘Mense máák BKB se sukses’
Met mnr. Wolf Edmayr aan die stuur by BKB beoog dié stoere Suid-Afrikaanse landboumaatskappy om mettertyd te noteer, terwyl daar deurgaans met nuwe dienste en produkte uitgebrei word.
BKB word vir meer as 80 jaar nóú geassosieer met wol, bokhaar, veeverhandeling en winkels landwyd, maar deesdae verhandel dié maatskappy, met sy hoofkantoor in Port Elizabeth, ook graan, suiker, rosyne en eiendom én finansier die landbou.
Mnr. Wolf Edmayr, ’n geoktrooieerde rekenmeester van professie en Vrystaatse naweekboer uit oortuiging, was einde Maart reeds 13 jaar aan die stuur van sake by BKB.
Dié selferkende “ewige optimis” glo sy agtergrond as rekenmeester en die dissipline en struktuur wat dié beroep vereis, help hom en sy span om ’n noukeurige ogie oor die maatskappy se finansies te hou en te verseker dat dit in ’n gestruktureerde omgewing met dissipline vooruitgaan.
BKB is ’n gerekende landboubesigheid en gereeld in die nuus danksy vernuwende sakemodelle en -uitbreidings. Hoe sou jy BKB beskryf?
BKB doen hoofsaaklik in die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing besigheid. Soos enige ander onderneming wil ons groei, ontwikkel en voortbou op ons fondasie. Om in ons tradisionele besigheid te groei en te ontwikkel, raak ál moeiliker omdat ons reeds ’n betekenisvolle markaandeel het. Ons begin daarom ’n paar ander dinge ook aanpak. Dis soms moeilik, maar die mense in ons maatskappy en die reputasie wat ons op die mark geniet, help ons daarin.
Wat maak BKB uniek?
BKB is uniek in die sin dat ons besigheid deur mense gedoen word. ’n Bank maak sy tak op Willowmore toe, installeer ’n outomatiese teller in Spar en sy besigheid gaan voort. Ons werk nie so nie.
Ek sê dit onomwonde: BKB se sukses is die groep mense wat hy het.
Wat is die slimste dinge wat BKB se bestuurspan die afgelope vyf jaar gedoen het?
Daar is vyf waardes wat ons as bestuurspan saam uitgekap het en wat vir ons die belangrikste is: Ons lewer voortreflike diens, moedig entrepreneurskap aan, verhoog verdienste, waardeer ons werknemers en bewaar die omgewing. As ons dit nie elke dag wat ons werk, kan uitleef nie, sal ons
nie oorleef nie. Daardie vyf waardes is van die uiterste belang.
As ons dit uitleef, dien ons alle belanghebbendes in die verhouding: Ons kliënte, ons eie mense, verskaffers, finansiers en aandeelhouers. As ons hulle almal oppas, sal ons volhoubaar wees en groei.
Wat moes BKB liewer nié gedoen het nie?
Dis maklik om agterna te sê ons moes dit gedoen het of ons moes nie dat gedoen het nie. As ’n onderneming pak ons dinge op ’n verantwoordelike manier aan; ons pak dit aan omdat dit sin maak vir ons onderneming en al sy mense en almal wat met BKB sake doen.
Kon ons dinge beter doen? Beslis. Maar die belangrikste is dat ons ook leer deur al die dinge wat ons aanpak.
Watter sakelesse het BKB die afgelope vyf jaar geleer?
“Skoenmaker, hou jou by jou lees” is dalk ’n goeie antwoord, maar in dieselfde asem is ons kundige en energieke bestuurspan besig om uit te brei in vertakkings waar ons nie tradisioneel was nie, soos die verhandeling van graan, suiker en rosyne.
Watter kwessies en neigings gaan in die volgende vyf jaar die landbou definieer?
Die politieke landskap is ’n baie belangrike faktor. As enkelinge sal ons dit nie kan verander nie. Ek glo ons moet kennis neem dat ons anders sal moet sake doen. As ons nie deel word van ’n veranderende omgewing en samelewing nie, sal dit moeiliker gaan.
Ons probeer as ’n onderneming aan nuwe vereistes in die sake-omgewing voldoen.
Ons het betekenisvolle swart ekonomiese bemagting op aandeelhouersvlak, en al is dit moeilik om kundige mense op senior bestuursvlak te kry, is daar ook suksesse. Ons doen daadwerklik moeite om goeie mense te werf en in diens te neem.
Die wolbedryf het ’n beurstrust wat ons help vestig het. Dis vir ons belangrik dat mense wat met geld uit die bedryf opgelei is, in die bedryf in diens geneem word.
Hoe het BKB in die afgelope droogtes hul boere se las ligter gemaak?
BKB het ’n betekenisvolle bydrae tot Agri SA se droogtehulpfonds gelewer. Benewens dit het ons ook ruim hulp verleen met die skenk van veevoer en die vervoer daarvan landwyd.
Hoe vaar BKB ten opsigte van swart aandeelhouding?
African Rainbow Capital (ARC) besit 20% van die aandele in BKB. Met ons trusts en ARC is ons swart aandeelhouding al op 30%.
Wat vir my verblydend is, is dat ons dit op ’n verantwoordelike manier gedoen het. Al ons aandeelhouers besit persoonlik die aandele wat hulle in BKB het.
Van BKB se prominente afdelings, soos wol en veilings, is afhanklik van die produktiwiteit van boere in gebiede waarvan die voortbestaan bedreig word deur projekte, soos die ontginning van skaliegas en uraan en die oprigting van ’n radioteleskoop. Hoe bestuur BKB die onsekerhede en hoe ondersteun julle boere in die gebiede?
Toe planne vir skaliegasontginning bekend geword het, het BKB twee gerekende Karoo-inwoners geborg om Amerika toe te gaan om kennis in te win. Ons het besluit: Kom ons help mense om te gaan kyk wat
‘Dit gaan daaroor om ’n omgewing te skep waarin almal ’n geleentheid sal hê om meer te doen, meer by te dra en meer te ontwikkel.’
daar is en wat hulle kan doen.
Ons sal uit ’n beginseloogpunt op die verantwoordelikste manier optree. ’n Mens moet seker aanvaar dat daar tog enorme voordele vir die hele mensdom kan kom danksy die navorsing wat hulle met die SKA-radioteleskoop doen. Maar daar is niemand in die wêreld wat meer weerstand as Wolf Edmayr sal bied as ons grondwater byvoorbeeld besoedel word nie. Ons moet egter seker maak dat ons al die inligting het.
Dr. Johan van Zyl, hoof uitvoerende beampte van African Rainbow Capital (ARC), het hom onlangs by BKB se direksie aangesluit. Wat bring hy na BKB?
Die regulatoriese omgewing waarin ons ons bevind, verander elke dag, nie altyd soos ons dit verkies nie. Dit dwing ons om kundige mense om ’n direksietafel te kry om ons raad en leiding te gee sodat ons al die probleme die hoof kan bied.
Aan die ander kant moet ons kundigheid hê sodat ons ons primêre doelwit as ’n vertroude tuiste van die landbou kan volvoer. Ons wil ’n mengsel van mense hê sodat ons die landboukant én die regulatoriese en sakeomgewing kan hanteer.
Wat dr. Van Zyl betref, ons is besonder bevoorreg dat ons ARC as belegger kan hê en hom in ons direksie te kan hê. Ons glo ons moet meer sulke mense betrek om ons te help om geleenthede betekenisvol te benut.
Voorsien julle notering op die JSE?
’n Paar jaar gelede het die Raad op Finansiele Dienste oor-die-toonbankverhandeling van aandele veral by landboubesighede gestaak. Dis ons verantwoordelikheid om ’n platform vir die verhandeling van aandele te verskaf. Ons is besig om ernstig te kyk na van die opkomende alternatiewe verhandelingsplatforms, soos ZARX, waarop die landboumaatskappy Senwes onlangs genoteer het, en ander aan die kom, soos 4 Africa Exchange (4AX). Ons sal dalk vanjaar nog BKB se aandele op een van dié platforms begin verhandel. Ons hoop dat BKB mettertyd so sal groei dat dit op die JSE kan noteer.
Dit tref ’n mens altyd hoe aangenaam dit is om met BKB se skaap-en-wolbeamptes en veilingspersoneel saam te werk. Wat is die geheim?
Ek hoop BKB bied ’n omgewing waar mense lekker werk, en dat hulle daarna uitsien om soggens werk toe te gaan. Ek hoop ons gee hulle die nodige ondersteuning op alle vlakke. As hulle in die veld is en hulp benodig, het ons ’n ondersteuningspan wat agter hulle staan. Onthou, niks maak mense so opgewonde soos opwinding nie. Ek hoop ons bied daardie opwinding.
Hoe ondersteun BKB nuwe swart boere, en watter suksesse is behaal?
Ons is baie aktief in Lesotho, die voormalige tuislande en dele van die Vrystaat, nie net met ons skaap-en-wolbeamptes nie, maar ook met die trust wat ons geskep het en waarin die boere daar aandeelhouers is. Hulle geniet die voordele van die dividende wat die trust elke jaar uitbetaal.
Hoe beskryf jy jou bestuurstyl?
As ek eendag by die see sit en my memoir skryf, wil ek kan sê ek het my met bekwame mense omring. In my beskeie mening is dit waaroor dit gaan. Dis so belangrik om die regte span te hê en dat almal in dieselfde rigting trek.
As jy eendag aftree, watter BKB wil jy agterlaat?
Ek was ’n uitruilstudent in Amerika en ek hou van dié “land of opportunities”. Ek wil hê BKB moet ook ’n plek van geleenthede wees. Mense wat hier kom werk, kan hulself uitleef en hul beste lewer.
Dit gaan goed met BKB omdat ons gewerk het om sekere dinge gereed te kry, en ’n omgewing geskep het waar mense graag wil werk en waar hulle ’n bydrae kan lewer.
Ons werk in ’n dinamiese omgewing. BKB is ’n leier in sy veld omdat die maatskappy en sy werknemers tegnologiese verandering en vooruitgang omhels. Dit maak my bang dat ander maatskappye ons mense kom steel, want ons het goeie mense.
Hoe is BKB betrokke by die breër gemeenskap?
Wat ons doen, is ineengeweef met die plattelandse omgewing. Ons probeer om betrokke te wees by so veel moontlik aktiwiteite en op verskillende vlakke.
Ons bestee jaarlikse miljoene rande aan dividende aan ons aandeelhouers, wat reg oor die land gesetel is, waaronder Lesotho en die voormalige tuislande.
Ons woon en dryf handel deur die hele land. Ek glo as ’n onderneming verbeter ons die lewe van die mense met wie ons handel dryf. Ons was vanjaar in Maart en April betrokke by die BKB Merino Classic, die BKBFNB SA Vleismerinokampioenskapskou en die BKB-Voermol, Afgri feeds en Semex SA Angus nasionale kampioenskapskou.
Daar is ook heelparty BKB-werknemers wat met groot toewyding en empatie in hul private hoedanigheid by hul gemeenskappe betrokke is.