’n Familieboerdery wat werk
Hy is nog nie een dag spyt dat hy besluit het om te gaan boer nie, sê mnr. Johan van Huyssteen, Vrystaatse Jongboer van die Jaar, ná hul familieboerdery se droogste seisoen in 111 jaar. Danksy ’n oorlêstelsel is hul gemiddelde mielieopbrengs 6 ton/ha, wat
Minimumbewerking het eintlik by ons uitgewaai, sê mnr. Johan van Huyssteen jr. van die plaas Bloekom, langs Merriespruit buite Virginia, spottend.
Dié Vrystaatse Jongboer van 2017 verbou in ’n redelik genadelose gebied mielies. Die Vrystaatse Goudveld het wel diep sandgrond, maar dit verg hoë insetkoste en word dikwels deur ’n mid somerdroogte getref wat ’n mielieboer se inkomstestaat maklik binne een jaar vanaf diep in die swart na diep in die rooi swaai.
Met grond wat meestal ’n kleiinhoud van 5% tot 8% het, en net ’n paar lande met sowat 12% klei, is waailande ’n algemene probleem.
Johan en sy pa, Johan sr., het al ’n paar jaar gelede agtergekom dit baat nie om net ’n geenbewerkingsplanter te koop nie; die groter kwessie is om jou lande deur die jaar bedek te hou.
DIGTE PLANTESTAND
Hul antwoord is ’n 50%oorlêstelsel waarin die helfte van die 2 500 ha wat hulle met mielies beplant, 18 maande lank met die vorige mielieoes se stoppels braak lê.
Hulle het die tradisionele skoffelbewerking, wat grootliks gedoen is om kunsmis in die grond te sit, laat vaar.
Deesdae doen hulle net ’n skeurbewerking op die ry, in die middel van die winter. Saam met hierdie bewerking, 400450 mm diep, plaas hulle die nodige voorplantbemesting in die grond.
Die skeurbewerking word gedoen met ’n pasgemaakte werktuig wat die onderneming Ripper Tillage Equipment op Hennenman drie jaar gelede vir die Van Huyssteens gebou het. Dit is met minimumbewerkingtoerusting toegerus, wat insluit ’n stel snykouters, ryskoonmakers en vasrollers. Daarmee word ’n saadbedding net op die ry gemaak waar geplant gaan word.
Sowat ses maande later word geplant teen ’n plantestand van 24 000 mielies per hektaar in treinspoorrye van onderskeidelik 90 cm en 180 cm uitmekaar.
Dié plantdigtheid is dubbel soveel as die 12 000 plante per hektaar wat hulle tradisioneel nog ’n paar jaar gelede geplant het. Hulle het die plantestand die laaste jare deurlopend opgestoot nadat proewe op hul plaas telkens gewys het ’n digter stand lewer ’n groter opbrengs per hektaar, ook in droër jare.
Die planterspore word elke jaar sowat 30 grade geswaai om te verseker dat die stoppels nie in planttyd aanpak nie.
Die gevolg is ’n gemiddelde opbrengs op lang termyn van sowat 6 ton/ha, vergeleke met die gebied se gemiddelde van 4 ton/ha. Selfs in die onlangse erge droogtejaar, volgens hul boerderyrekords die droogste jaar in 111 jaar, het hulle steeds gemiddeld 3,7 ton/ha afgehaal.
Die oorlêlande, wat 18 maande met stoppels op rus, word skoon gehou met gemiddeld vier tot vyf bespuitings van glifosaat, gewoonlik van September af.
Hulle gebruik ’n selfaangedrewe hoogloopspuit van John Deere wat die spuitstof met GPSpresisie toedien.
RUSLANDSTELSEL HUL RISIKOVERSPREIDING
Oor die stoppels op sy lande is Johan jr. redelik heilig. Die boerdery sluit 500 ha veld in, waarvan ’n deel ’n wildkamp is en die res vir ’n kommersiële beeskudde gebruik word. Die beeste word glad nie op die stoppellande toegelaat nie om verdigting en die vestiging van onkruide te voorkom.
Johan en sy pa het ’n paar jaar gelede ook die strategiese besluit geneem om in die verbouing van mielies te spesialiseer. Hulle verbou deesdae net wit mielies wat verdraagsaam teen glifosaat is. Vroeër het hulle ook koring en sonneblomme gesaai. Hulle oorweeg dit wel om op ’n stuk grond langs die dorp se township in die toekoms sojabone te verbou, op voorwaarde dat dit met ’n kultivar moet wees wat verdraagsaam teen glifosaat is omdat hulle nie meer ploeg of skottelploegbewerkings toepas nie.
Anders as ander saaiboere wat diversifiseer deur meer gewasse te verbou, glo die Van Huyssteens hulle versprei hul risiko met die 50%-ruslandstelsel.
Vir Johan jr., ’n selfverklaarde perfeksionis, is die spesialisasie in uitsluitlike mielieverbouing met die oorlêstelsel die regte keuse vir hul boerdery en plase: “Ons kan met minder toerusting klaarkom, en in die win- ter al die grootste deel van ons bewerking afhandel, met kunsmis wat vóór planttyd geplaas word.”
Presisietegnologie maak beslis die verskil, sê hy. “Dit wat ons doen, doen ons reg. Die presisietoerusting lewer die grootste bydrae omdat dit ons in staat stel om stroper- en chemiese kaarte te kombineer en bemesting korrek af te wissel.”
Daarvoor gebruik hul Omnia se ruitkaartontledings, saam met die presisiedata vanaf hul John Deere-planters. Die planters is met tenks toegerus om vloeibare misstof toe te dien. Omdat misstof afwisselend toegedien word, gebruik hy dieselfde hoeveelheid kunsmis as vroeër, maar hy behaal ’n groter wins op die beter kolle en ’n kleiner verlies op die swakker kolle.
Johan jr. sê hulle oorweeg dit nou ook om die plantestand tussen beter en swakker kolle af te wissel.
‘ ’N JAAR WAARVOOR JY BID’
Bemarking bly hul grootste probleem. “Al die ander dinge kan jy min of meer bestuur. Min reën bestuur ons goed met die oorlêstelsel en vogbewaring, maar aan prysskommelings kan ek niks doen nie.”
Hulle het ’n deursetsilo op die plaas, waar regstreekse kopers kan kom laai, maar die afgelope seisoen met sy laat reën en skielike val in pryse was ’n perd van ’n ander kleur. Dit het dit moeilik gemaak om die gebruiklike voorafooreenkomste met sulke kopers te beding.
Omdat hulle reg langs Senwes se Welgeleë-silo’s boer, vind hulle dit onnodig om op groot skaal infrastruktuur vir die opberging van graan op die plaas in te rig. Die deursetsilo kan 330 ton mielies hou en help baie in jare wanneer marktoestande geskik is om regstreekse kopers te werf.
Hierdie kopers, met wie die Van Huyssteens ’n jare lange verhouding opgebou het, onderhandel met hulle oor bepaalde minimum en maksimum pryse vir die komende boekjaar, wat vir albei partye aanvaarbaar is. Dan kom hulle vir die res van die jaar, na gelang van wanneer hulle die mielies wil verkoop, op ’n prys tussen dié twee vlakke ooreen, gegrond op Safex-pryse op die betrokke tydstip.
Nogtans sê Johan jr. vanjaar is die soort jaar “wat jy lankal voor bid”. Met net gemiddelde pryse behoort vanjaar se rekordopbrengste hulle in staat te stel om te
vergoed vir die finansiële swaarkry weens die vorige paar jaar se droogte. Teen strooptyd in Junie was hul opbrengs tot so hoog as 8,5 ton/ha en die gemiddelde ver bokant hul gemiddelde op lang termyn.