Boer se kombuis
Die hartklop van die Tankwa is die Tankwa Padstal – ’n kuierplek, winkel én bymekaarkomplek. Die Tankwa Padstal is eintlik baie meer as ’n padstal. As jy die rowwe R355 – glo die langste grondpad tussen twee dorpe in Suid-Afrika – aandurf, vind jy dié eklektiese hawe sowat 70 km van Ceres en 210 km van Calvinia.
Dit is ’n handelshuis wat ’n paar basiese lewensmiddele aanhou, veral vir die omgewing se plaaswerkers wat hul donkiekarre moet inspan vir die heen-en-weertjie om dinge, soos pype, konfyt, skoenveters of snuif, te kom koop. Benewens die basiese dinge is daar ook meer boheemse goed, soos droomvangers, hippie-pruike en pienk kruisbande wat waarskynlik vir ’n ander groep klante bedoel is.
Dit is dié mense wat heel moontlik van kop tot tone in goue lycra en ’n ballet-tutu uitgerus is, oorgehaal vir die jaarlikse AfrikaBurn-opskop net ’n paar kilometer verder. Die padstal is immers ’n gunsteling(en eintlik die enigste) restaurant vir Burners, reisigers en motorfietsryers wat langs die pad wil stilhou vir ’n lekker vars roosterkoek en ’n koppie sterk koffie.
En dan is daar die Werkswinkel Bar, wat uit sy nate bars met ’n mal spul van skroot, pienk plastiek flaminke, diereskedels, pette en selfs ’n paar waterski’s.
Daar kan jy jou elmboë op die kroegtoonbank laat rus en waarskynlik met Wally of Hein Lange, die eienaars, ’n geselsie aanknoop. Hul vroue, Susan en Henriëtte, bestuur die winkel en die restaurant.
Die padstal is in 2014 tot op die grond afgebrand – glo ná ’n woordewisseling in die kroeg – maar in ’n aangrypende wending het mense van heinde en ver bygedra om die padstal weer op te bou.
Heelwat van die artikels in die Werkswinkel Bar is juis deur Burners en ander verbygangers daar aangedra.
Dis nie aldag wat jy jou in die Tankwa-Karoo bevind nie. Dit is ook nie juis die tipe plek waar toeriste met lysies van die “Toptien dinge om te doen in die Tankwa” rondloop nie, maar as só ’n lys sou bestaan, sal die padstal waarskynlik ’n ereplek daarop beklee.
—