Mielies: Stryd om oorskot uit te voer
MIELIEBOERE se hoop om meer as 4 miljoen ton surplus mielies in hierdie bemarkingseisoen uit te voer – wat die mark in balans sal bring en pryse ondersteun – gaan waarskynlik net ’n droom bly.
Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) se jongste uitvoersyfers is daar in die week tot 4 Augustus net 46 526 ton mielies (40 071 ton geel en 6 455 ton wit) uitgevoer, vergeleke met byvoorbeeld die week tot 21 Julie, toe 153 000 ton mielies (81 000 ton wit en 72 000 ton geel) uitgevoer is. Met Suid-Afrika se beste uitvoermaande wat einde toe staan, is net altesame 839 524 ton uitgevoer.
Wat die vooruitsig vir groot bestellings vorentoe betref, lyk die nuus ook nie goed nie. Mnr. Hampie Lourens, besturende direkteur van SA Bulk Terminals (SABT), wat die meeste uitvoer hanteer, sê tot in Augustus is die vooruitbestellings nog redelik bestendig, maar daarna is dit drupsgewys.
“Ons kry nie ons mielies verkoop nie en ons markte is relatief klein. In hierdie stadium is dit hoofsaaklik Taiwan, Japan en Suid-Korea. Ek sien nie eintlik nuwe markte gou oopgaan nie. Daarby is die prys steeds sowat R100/ton tot R150/ton te hoog om werklik uitvoer aan te spoor.” Met Amerikaanse mielies wat teen Oktober in die mark kom, raak die mededinging dan ook groter.
Mnr. Brink van Wyk, handelaar van die verhandelingsonderneming BVG, sê daar is geen nuwe nuus nie. “Die geelmielie-uitvoer gaan voort na dieselfde paar lande, die verbruik van wit mielies in die voermark het skerp gestyg, soos verwag, en dit is omtrent dit.
“Pryse bly ’n bietjie hoog om gemaklik meer uitvoer bespreek te kry. Tot dusver het uitvoerders uitgevoer ondanks die effe duur pryse. Soos dinge nou lyk, bly die surplus.”
SURPLUS IN AFRIKA
Om die prentjie nog meer te vertroebel, dui die jongste gegewens van die Amerikaanse departement van landbou op ’n paar verskuiwings in die dinamika van mielie-produksie in Suider-Afrika. Zambië en Malawi raak toenemend belangrike spelers in die streek se mielie-sektor.
Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbou-sakekamer Agbiz, wys daarop dat Zambië se 2017-oes by 3,3 miljoen ton draai. In Malawi is dit 3,6 miljoen ton.
“Vir Zambië is dit ’n rekord-oes sedert daar in 1961 begin is om aantekeninge te hou. Dit is 900 000 ton meer as die jaarlikse binnelandse verbruik en maak van die land ’n netto-uitvoerder.”
Malawi sal ook ’n surplus van sowat 100 000 ton hê, waarmee hy die Oos-Afrika-mark sal kan voorsien.