SINLOSE AANVAL OP LIMPOPO-LEIERBOER
MNR. HERMAN BOTHA, wat ná ’n aanval op sy plaas gesterf het, was ’n landbouleier wat in elke komitee gedien het waar hy ’n bydrae kon lewer.
Met sy ervaring as eertydse kommandobevelvoerder was hy ’n aanwins vir die veiligheidstrukture van Limpopo en die Groblersdal-omgewing. Boonop was hy bekend vir sy goeie menseverhoudinge, of dit nou met sy plaaswerkers of die leierskorps van die georganiseerde landbou was.
Daarom is die Groblersdal-gemeenskap so uit die veld geslaan oor die gewapende aanval op sy plaas verlede Sondagoggend.
Hy is deur ’n gewapende bende van 11 in sy huis op sy plaas buite Groblersdal oorval. Mnr. Piet Groenewald, ’n vriend en veiligheidspesialis wat gehelp het om die soektog na die aanvallers te koördineer, sê die aanvallers het goeie inligting oor die plaasopstal en die veiligheidsmaatreëls daar gehad.
“Herman het in die vorige week twee stente in die hooftoevoerare tot sy hart gekry. Ek het hom Saterdagoggendraakgeloopentoehethy ten spyte van die operasie heel fiks en energiek gelyk,” sê hy.
HONDE BEDWELM
Dit lyk of die aanvallers, wat met twee voertuie daar opgedaag het, toegang tot die huis gekry het deur die motorhuis, waarvan die deur altyd halfpad oop is vir die honde. Die honde is bedwelm en Herman se aanvallers het hom binne die huis ingewag toe sy seun Bernard hom by die huis aflaai nadat hulle by hul beeskrale was.
Groenewald sê Herman het erge kopbeserings opgedoen voordat sy aanvallers hom in die badkamer vasgebind het. Hulle het Bernard, wat ’n spilpunt gaan inspekteer het nadat hy sy pa af by die huis afgelaai het, in die motorhuis oorval en ook aangerand.
Hulle het hul buit, onder meer vuurwapens en TV-stelle, eers in Herman se Mercedes-Benz gelaai, maar toe hulle dit nie in trurat kon kry nie, het hulle in ’n Toyota Etios van mev. Meisie Botha (Herman se vrou) gevlug.
Meisie en hul skoondogter, Benita, wat laaste op die toneel opgedaag het, is vasgebind, maar nie ernstig beseer nie. Hulle kon later hulp ontbied.
Herman is dood voordat hy per helikopter na ’n hospitaal geneem kon word. Hy het vermoedelik aan ’n hartaanval beswyk.
“Ná die twee stente en die aanval was die skok net te veel op sy liggaam,” sê Groenewald.
Twee verdagtes wat te voet gevlug het, is later Sondag in hegtenis geneem. Nog twee is later op ’n nabygeleë plaas in hegtenis geneem. ’n Vyfde verdagte is by ’n nedersetting 26 km van sy woonplek in hegtenis geneem. Hy het by een van Herman se seuns gewerk. Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, is almal Zimbabwiërs. Herman en Meisie se vuurwapens is by van die verdagtes gevind.
Groenewald sê die samewerking tussen die plaaswagte, die buurtwag op Groblersdal, die sekuriteitsmaatskappy Gunmar en sy eie maatskappy, Wildlife Investigation & Protection Services, was uitstekend.
‘BAIE GELD’
Met die ondervraging het die verdagtes glo gesê hulle was onder die indruk dat Herman baie geld by hom gehad het.
Herman het egter so min as moontlik kontant by hom gedra, en het glo selfs vir sy werkers bankrekeninge oopgemaak en hul lone elektronies oorbetaal.
Hulle was onder die indruk dat Herman baie geld by hom gehad het.